Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kom ontdek ’n vars perspektief rondom verlies

Geseënd is die wat treur deur Susan Jordaan (red)
Uitgewer: Lux Verbi, 2022
Resensent: Cecile Murray-Louw

Hierdie roerende samestelling van kort persoonlike verhale van verlies is ’n waardevolle metgesel vir lesers wat bemoediging nodig het op hulle individuele pad van genesing.

Namate elke skrywer gemeenskaplike emosies uitlig, ontdek ons dat die pyn en hartseer van rou ’n universele ervaring is.

Vrae sonder antwoorde is daar volop. Tog word ons bemoedig en herinner aan die vertroosting wat God se teenwoordigheid bied, en word ons uitgenooi om nader aan Hom te beweeg. Keer op keer ontdek die skrywers dat wanneer alles wegval, ons Hemelse Vader met arms wawyd oop bly staan.

Lesers ontdek ook ’n vars perspektief rondom verlies, wat ons uitdaag om te erken dat om te groei en vorentoe te beweeg, iets weggegee of neergelê moet word.

Ons raak weer bewus van die waarde van kosbare herinneringe, en waarom ons dit maar mag vier.

Ons word ook aangemoedig om weer te begin leef deur deel te neem aan aktiwiteite en ervarings rondom ons. Om die geskenk van vandag raak te sien en te ontgin.

Al is die belewenis van verlies vir elke skrywer anders, bly dit oorweldigend en intens.

Die boek help ’n mens minder alleen en geïsoleer voel, namate jy jou kan vereenselwig met ’n ander se perspektief en gevoelens. Die dreigende leemte word gevul deur die hoop wat ander gevind het in die vertel van hulle stories.

Ons onthou dat God ons nie verlaat het nie, dat sy beloftes steeds waar is en dat Hy met elke tree van genesing en herstel saam met ons is, totdat ons weer deel van die lewe kan voel.

  • Beskikbaar by Bybel-Media.
  • Ds Cecile Murray-Louw is ’n bedienaar by Durbanville Moedergemeente.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top