Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Jeanine Hepburn is verkies as die jongste en eerste vroulike aktuarius vir die Sinode Hoëveld. Foto: Nico Smit

Hoëveld Sinode: ‘Hoor ons net, asseblief’ pleit talle in gesprek oor Artikel 37

Die tweede dag van die Hoëveld Sinode het allereers gehandel om mekaar te hoor uit alle hoeke en kante.

Ds Jeanine Hepburn is verkies as die jongste en eerste vroulike aktuarius vir die Sinode Hoëveld. Ds Hannes Windell, kantoorbestuurder van Sinode Hoëveld, is ook verkies as skriba vir die moderamen.

LEES OOK: ‘Ek sien nie die NG Kerk waarin ek tuis is in die media nie,’ sê ekonoom by sinode in Bosveld

Sinodegangers is ook bederf met ’n sessie saam met dr Graeme Codrington wat die sinode kom toespreek het oor waarom mense kerk toe wil kom. Why would people come? Dit is die vraag wat hy vir sinodegangers wou vra. En het sterk klem daarop geplaas dat ons as die kerk moet ophou bekommer of die orrel ingestem is en of die blomme vars is. Ons moet eerder vra: “Wat moet die kerk doen?” Dit is ’n vraag wat elke gemeente en elke gelowige moet vra, aldus Codrington. Dit het baie vrae by sinodegangers gelaat, veral oor wat kerke in hulle eie spesifieke gemeenskap moet doen. Hy beklemtoon ook dat God almal liefhet, dat God almal uitnooi en nie net sekeres nie. Codrington is van oortuiging dat dit die LGBTQI+-gemeenskap insluit. Hy pleit vir meer inklusiwiteit.

Die sinode se tema is Ons storie. In die een hoek van die vertrek tref afgevaardigdes toue aan wat van die dak hang. Dit is waar gemeentes met behulp van pennetjies, foto’s, briewe of traktaatjies hulle stories – hoopvolle stories – kan kom vasmaak. Dit spoor gemeentes aan om die positiewe stories te vertel en nie te fokus op die negatiewe verhale of kritiek nie. Foto: Nico Smit

Uit verband tree met Algemene Sinode?

Die groot gesprek van die dag het gehandel oor die welwillende proses vir gemeentes om uit die Algemene Sinode te tree of Artikel 37 in die Kerkorde. Die kerkrade van NG Mooifontein, Evander, Charl Cilliers en die Ring van Standerton het ’n voorstel ter tafel geplaas om uit die verband te tree met die Algemene Sinode. Die voorstel bestaan uit tien aanbevelings. Dr Henk Gous meen dat hy “huil” oor die losmaking. In sy eie woorde: “Ek is hartseer hieroor.” ’n Welwillende losmaak van die liggaam van Christus is en bly steeds ’n skeiding, aldus Gous.

LEES OOK: Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit nie geldig

Dr André Bartlett meen dat sinodegangers en gemeentes na mekaar moet luister en dat daar verskille oor die saak in die kerk is, maar die imperatief van die evangelie is dat ons mekaar sal vashou. Dr Gys Loubser meen dat ons oor die sake moet praat, maar dat hy nie vandag oor die sake ter hand kan stem nie.

Dr Graeme Codrington. Foto: Nico Smit

’n Lidmaat vanaf Standerton-Suid pleit dat hulle losgemaak word van die Algemene Sinode, want die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings het sy gemeente verwoes.

’n Amendement deur ds Jeanine Hepburn is deur die sinode goedgekeur wat voorstel dat ’n studiegroep bymekaargeroep sal word om verder te besin oor Artikel 37 en die losmaak van bande met die Algemene Sinode.

Dr Bennie Marais vra dat daar asseblief geluister moet word. Dr André Bartlett vra dat daar in die NG Kerk na alle partye geluister word. Nie net dié wat doleer nie, maar alle partye. Dié wat doleer, maar ook dié wat instem met die Algemene Sinode se besluit van 2019.

Dr Nico Smit is ’n leraar en Kerkbode-medewerker.

Hierdie berig is ná publikasie vir akkuraatheid aangepas.


SINODESITTING AGENDA 2022

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Hoëveld Sinode: ‘Hoor ons net, asseblief’ pleit talle in gesprek oor Artikel 37”

Comments are closed.

Scroll to Top