Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Sommige mense skryf om te leef. Ek leef om te skryf." - Leopold Scholtz. Foto: Le Roux Schoeman

In Memoriam: Leopold Scholtz oor geloof, genade en grade van grys

Dr Leopold Scholtz, wat verlede week in Nederland aan leukemie oorlede is, is na my mening een van die heel knapste Afrikaanse historici/joernaliste van die afgelope halfeeu en langer, skryf Frits Gaum.

Scholtz reeks boeke, etlike akademiese bydraes en honderde koerantartikels getuig van werkywer, groot kennis en baie insig. Daarby was daar by hom ’n strewe na objektiewe eerlikheid en het hy ook erken as hy ’n fout gemaak het. Scholtz het ongelukkig in sy lewe te min erkenning gekry. Hy is by geleentheid vir die grootste Afrikaanse prys, die Jan H Marais-prys, genomineer, en het toe gesê die nominasie was al vir hom genoeg hoewel hy nie die prys gekry het nie.

Maar wie was Leopold Scholtz régtig? Ek het dié vraag aan hom gestel toe ek en George Claassen besig was met ons boek, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg, 2012), waarvan hy ’n medewerker was.

Scholtz het geantwoord dat hy self nie aldag weet nie. ”Ek is ’n Christen (of probeer altans op ’n onvolkome wyse een wees), is iemand wat voortdurend vrae stel, wat ’n probleem van alle kante probeer benader, iemand wat die relatiwiteit van sake probeer insien. En elke keer wanneer ek die maklike pad van swart en wit loop, word ek weer teruggewerp na die raaksien van die frustrerende verskillende grade van grys.”

LEES OOK: ’n Reisiger, ’n vroedvrou en ’n dromer stap by ’n kerk in …

Hy het bygevoeg dat hy ’n Afrikaner is. “Ek is gemaklik daarmee; ek worstel nie daarmee nie. En ek beskou dit nie as meerderwaardig bo enigiets anders nie.” Hy erken dat Afrikaners met apartheid hulle gekleurde mede-Suid-Afrikaners uit ’n morele oogpunt ’n groot onreg aangedoen het. “En ek voel skuldig daaroor. Maar dit weerhou my nie daarvan om die verlede nugter as waarnemer en historikus te probeer benader nie. Dit oorspoel nie my begeerte om akademies eerlik na die verlede te kyk en dit genuanseerd te ontleed nie. Dit verhinder my nie om op die positiewe aspekte van die verlede te wys en die negatiewe aspekte van dié wat teen apartheid geveg het, te belig nie.” Hy beskou homself as ’n “konserwatiewe liberaal, of dalk as ’n liberale konserwatief. Bowenal as militant gematig.”

Op my vraag wie God vir hom is, het hy geantwoord dat hy geen antwoord met enige sekerheid kan gee nie, want hy soek nog daarna. Vroeër toe hy ’n kind was, kon hy glo soos ’n kind: God het bestaan omdat sy ouers en die dominee so gesê het. Maar hy kan dit nie meer sê nie. Hy wil oortuig word.

Dit is die rede waarom hy vir twintig tot dertig jaar lank baie selde in die kerk was, sê hy. Hy het ’n lidmaat van die NG Kerk gebly, want hy kon homself nie sover kry om die finale stap van bedanking te doen nie. Intussen het hy gelees, “enorm baie gelees”: die Bybel self, boeke oor die Bybel, boeke oor die geloof, boeke oor die verhouding tussen wetenskap en geloof. En langsamerhand het hy vir homself min of meer ’n rigting begin uitwerk. “God bestaan, so glo ek, want as ek na die skepping kyk, sê my gesonde verstand en rasionaliteit vir my dit alles kon nie sommer spontaan en vanself gebeur het nie.”

LEES OOK: Leopold Scholtz: Ons onthou sy unieke Kersbrief

Scholtz het die kruisiging- en opstandingsverhale in die Nuwe Testament bestudeer kragtens die beginsels van die sekulêre, akademiese geskiedskrywing. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat, op die allerminste, die graf op die derde dag leeg was en dat die allervroegste Christene reeds binne enkele jare ná die kruisiging geglo het dat Jesus opgestaan het, dat hulle iets buitengewoons ondervind het wat hulle as ’n opstanding uit die dood vertolk het. “En dat daardie geloof nie iets is wat ek summier kan verwerp nie.”

Glo hy dat Jesus die enigste pad na God toe is? wou ek weet. Dit is ’n tameletjie, het Scholtz geantwoord. In die laat 1950’s het hy vir sy Sondagskoolonderwyser dié vraag gevra. Want, as Jesus die enigste pad na God is (soos die Nuwe Testament te kenne gee), wat van al die mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie? Gaan hulle almal hel toe?

Die Sondagskoolonderwyser se ondubbelsinnige antwoord was “Ja”. Scholtz het destyds probleme met dié antwoord gehad en sy vraag ook aan sy dominee gestel wat ontwykend geantwoord het: “Hulle is in die hande van ’n genadige God”.

Maar sal ’n genadige God dan so genadeloos wees dat sommige mense weens hulle onkunde in die hel beland? Dit is nog altyd vir hom ’n vraag sonder ’n antwoord, sê Scholtz. “Dalk moet ’n mens aanvaar dat alle gelowe, weliswaar in mindere of meerdere mate, iets van die genade van God gekry het – die algemene genade waarvan Abraham Kuyper gewag gemaak het. Maar ek weet: dit is, soos die antwoord van my dominee destyds, ’n ontwykende antwoord.”

LEES OOK: Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus

Scholtz glo nie dat die Bybel woord vir woord die Woord van God is nie, maar dat dit wel “iets van die essensie van God weergee”. Hy aanvaar ook dat hy nie duskant die graf op alles finale antwoorde – binne of buite die Bybel – sal kry nie. “Wat nie beteken dat ek sal ophou soek nie.” Daarom het hy mettertyd weer ’n aktiewe kerkganger geword – nie meer as lidmaat van die NG Kerk nie, maar van sy susterkerk in Nederland, die Protestantse Kerk van Nederland (PKN). Scholtz en sy Nederlands-gebore vrou, Ingrid, het die laaste paar jaar in Nederland gewoon en Scholtz het by geleentheid in hulle gemeente daar as leierouderling gedien.

Aan die einde van ons gesprek – dit het wye draaie gegooi: van wetenskap en geloof tot Christelike fundamentalisme tot die miljoendollar-vraag: Waarop stuur die geskiedenis af? – het Scholtz gesê dat alles in ons lewe rondom die een woord draai: liefde. Waar liefde ontbreek, floreer haat en is daar verwydering tussen God en mens en mens en mens. “Liefde is die finale vervulling van die wet. Waaroor ek ook al verder twyfel, hoeseer ek ook al na antwoorde soek, daardie sekerheid het ek wel.”

Rus in vrede, Leopold Scholtz. Jy het jou kant gebring.

  • Dr Frits Gaum is ’n voormalige radakteur van Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top