Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Neels Jackson van Centurion skryf: Baie dankie aan ds Dawie de Wet van Willowmore vir die brief waarin hy antwoord op my artikel oor mensgerigte godsdiens en sosiale geregtigheid.

Ds De Wet sien sosiale geregtigheid as ’n ideologie wat voortkom uit humanisme en Marxisme en wat die hart van die evangelie mis. Hy meen dat sosiale geregtigheid die totale verlorenheid van die mens ignoreer.

Indien dit so sou wees, wil ek graag hoor waar die Algemene Sinode sigself skuldig gemaak het hieraan. Ek het persoonlik al die algemene sinodes van 1990 tot 2019 bygewoon en ek het nooit daardie indruk gekry nie. My indruk was altyd dat die Algemene Sinode probeer het om in die lig van God se Woord op te tree.

LEES OOK: Nadia Marais | Die geskenk van versoening

Dit is so dat daar ’n skuif in die Algemene Sinode se teologie gekom het om meer mensgerig te wees. Daaroor skryf ek in Hoofstuk 9 van my boek Drie dekades van verandering – die NG Kerk se pad van verruiming. Daardie skuif het begin met die afskeid neem van apartheid en die onreg daarvan. Dit het later uitgemond in die Seisoen van Menswaardigheid waarvoor die Algemene Sinode van 2013 ’n teologiese begronding gegee het.

In daardie begronding is onder meer gesê “dat die sentraliteit van die begrip ‘menswaardigheid’ in die moderne wêreld slegs deur die invloed van die Christelike geloof deur die eeue verklaar kan word – iets waarop baie historici en sosiaal-wetenskaplikes, ook nie-Christene, wys.” Daar word ook gesê: “God ag mense so waardevol dat dat Hy sy Seun na hulle toe stuur.”

En oor Jesus: “Sy ongekende passie vir die randfigure van die samelewing , kinders, vroue, vreemdelinge, ens, kan nie as onbelangrike inligting afgemaak word nie. Dit is egter veral sy deelnemende betrokkenheid, sy beliggaaming van sy sorg en die oorsteek van grense na mense wat deur die magtiges uitgesluit is, wat die sleutel word tot die evangelie se oproep tot die erkenning van alle mense as beeld van God. Hierin moet Christus nagevolg word.”

LEES OOK: Om tot geldige vertolkings van die Skrif in ons tyd te kom

Wat beteken dit in die praktyk?

Ek dink aan ’n verhaal op die voorblad van Kerkbode van 18 Mei 2018. Kitiwe Zwane was ’n dwelmverslaafde prostituut. Maar Ladies Arise, ’n bediening van PEN, het met die sagte liefde van Christus na haar uitgereik. Hulle het onder meer gehelp om vir haar huisvesting en werk te kry – dinge wat gemaklik onder die noemer van sosiale geregtigheid kan val. Hulle het haar gehelp om heel te word en ’n geestelike tuiste by die Arcadia Faith Community, ’n bediening van die NG gemeente Pretoria, te vind.

Kitiwe se herstelverhaal is die resultaat van ’n holistiese bediening aan die hele mens. Dit sluit geestelike én konkrete nood in.

Op dieselfde manier het die kerk op verskillende terreine begin reageer op verskillende vorme van nood. Dit wissel van mense sonder kos of blyplek, tot by mense wat diskriminasie beleef omdat hulle gekleurd is of vroue is, tot by gay mense.

En die diepste motivering is g’n ideologie nie, maar die liefde van Christus.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top