Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
By die pasafgelope sitting van die Wêreldraad van Kerke in Duitsland (31 Augustus tot 8 September), sou daar telkens klem geplaas word op die kerk oor die wêreld heen se verantwoordelikheid om te werk vir eenheid, vrede en versoening. Die tema – Christus se liefde dring die wêreld tot versoening en eenheid – sou ter sprake kom in gesprekke oor die klimaatskrisis, die menswaardigheid en menseregte van minderheidsgroeperinge (van byvoorbeeld inheemse volke in verskillende kontekste) en vredeswerk in oorlogsgeteisterde gebiede (soos Palestina en Oekraïne), onder andere.
Die taal van versoening is egter in Suid-Afrika allesbehalwe onkompleks of onbestrede. Veral na afloop van die Waarheids- en Versoeningskommissie (1996-2003), sou daar ’n groeiende ontnugtering onder (veral jonger) Suid-Afrikaners ontwikkel rondom die (on)moontlikheid van versoening in hierdie land. Toenemend word die kritiek geopper dat versoeningsgesprekke slegs diegene dien wat voordeel getrek het (en bly trek) uit rassediskriminasie en wit bevoorregting, en dat versoening geen ware geregtigheid in die hand blyk te werk nie.
Lees ook: Leraar hoor stille getuienis van kussinkies op kerkbanke
Versoening word hiermee beskou as iets wat geen voordeel inhou vir diegene wat verontreg is nie, maar ’n ideaal waartoe ons verbind moet wees, iets wat ons móét doen, ter wille van nasionale eenheid en vrede in hierdie land … of moet ons? Wat sit agter ons dryf na versoening? Is dit vrees? Skuldgevoel? Moed van oortuiging? Liefde?
Indien ons eerlik sou wees oor hoe die taal van versoening by ons aanland, wonder ek of ons nie ook heelwat ander vrae sou kon vra nie. Getuig ons gesprekke oor versoening regtig van ’n erns met versoening, of is versoening ’n gemaklike, vroom, maar oppervlakkige manier om rondom die moeilike gesprekke oor restitusie te kom? Wat bedoel ons met versoening? Is ons bereid dat versoening iets van ons eis, of pas dit ons dat gesprekke oor versoening aantreklik en politiek-korrek, maar terselfdertyd uitgehol en niksseggend kan wees? Wat is die diepste begronding van ons versoeningsbegrip?
Lees ook: Dominee gesoek: Superheld of brose verteenwoordiger van Christus?
In sy doktorale proefskrif beskryf die Suid-Afrikaanse teoloog Demaine Solomons versoening as ’n kontroversiële simbool. Versoening is ’n gelade begrip wat verskeie reaksies ontlok, skryf Solomons, insluitend om te irriteer en te inspireer. Tog is dit duidelik dat versoening as ’n teologiese diskoers hier is om te bly, en daarom is dit belangrik om die potensiaal van die teologiese begrip van versoening – veral insoverre dit sosiale en politieke implikasies sou kon inhou – op te weeg teenoor die erfenis van die term binne Suid-Afrika, veral sedert die 1960’s.
Tog sou ons steeds kon vra: waarom hoegenaamd die taal van versoening praat?
Versoening staan aan die hart van die Christelike geloof, argumenteer die Suid-Afrikaanse teoloog John de Gruchy, aangesien die evangelie juis getuig daarvan dat die vyandskap en vervreemding tussen God en mens, onderling tussen mense en tussen mens en skepping oorkom of oorbrug word. Tog is versoening ’n begrip wat dikwels misverstaan en misbruik word – verál waar versoening beperk word tot ’n mens se individuele verhouding met God.
In sy boek Reconciliation (2002) tref De Gruchy ’n behulpsame onderskeid tussen wat hy noem primêre uitdrukkings (versoening as teologiese begrip) en sekondêre uitdrukkings (versoening as sosiale, politiese begrip). Die uitdaging, meen De Gruchy, is om nie bloot net (primêre uitdrukkings van) versoening te verkondig nie, maar om op so ’n manier erns te maak met die publieke lewe dat Godsgawe van versoening ’n realiteit word deur sekondêre uitdrukkings van versoening.
Lees ook: Wie verdrink in al die golwe wat kerkstryd maak?
Die implikasies van die teologiese begrip van versoening vir die sosiale verstaan van versoening word dan ook deur heelwat teoloë – dink byvoorbeeld aan die Kroasiese teoloog Miroslav Volf se Exclusion and embrace (1996) – ondersoek. Hier agter sit die verbreding van versoening om nie net op die indiwidu se verhouding met God te fokus nie, maar ook op mense se onderlinge verhoudinge met mekaar.
Uiteraard is die verskeie uitdrukkings van versoening nouliks aan mekaar verbind. Die Switserse teoloog Karl Barth sou byvoorbeeld vier volumes wy aan hierdie onderwerp, en self in ’n tradisie staan – dink byvoorbeeld aan die kerkvaders Irenaeus en Tertullianus en Augustinus, of aan die hervormers Martin Luther en Johannes Calvyn – waarin die begrip versoening telkens as ’n kernmetafoor vir verlossing gebruik sou word.
Karl Barth beskryf, in die vierde volume van sy Kerklike Dogmatiek, drie vorms van die versoeningsleer: (1) regverdiging, (2) heiligmaking, en (3) roeping. Hiermee beklemtoon hy dat versoening nie alleenlik ’n gawe van God is, wat ons slegs kan ontvang nie, maar dat Godsversoening ons ook (behoort te) deurgrond sodat ons die soort mense word wat hulle beywer vir breër sosiale uitdrukkings van versoening.
Versoening ís ’n geskenk, maar versoening is nie nét ’n geskenk nie. Uiteindelik behels versoening óók die herstel van geregtigheid. Sonder geregtigheid het versoening geen hart nie, en getuig dit van ’n totale gebrek aan belangstelling in die lot van die ander.
Egte versoening beteken dat ek ander se florering en welwese ag as my eie.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Dankie Nadia. Dis verhelderend.