Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Leopold Schotlz, afgeneem in sy huis in Delft in 2012. Foto: Le Roux Schoeman.

Leopold Scholtz: Ons onthou sy unieke Kersbrief

Van oorloë tot ongelukke en die jongste oor die koninklikes … Dit was alles storiemateriaal vir dr Leopold Scholtz, die joernalis, skrywer en historikus wat vandeesweek in die ouderdom van 74 in Delft, Nederland oorlede is, waar hy met sy vrou Ingrid gewoon en tot baie onlangs gewerk het.

Vanuit ’n dakkamer, agter ’n lessenaar met ’n radio en rekenaar het Scholtz “al sy onheilighede gepleeg,” soos hy spottenderwys na sy vele berigte, ontledings en opiniestukke verwys het wat hom na aftrede as vryskut besig gehou het.

[vimeo 51736574 w=640 h=360]

Die Korrespondent from Le Roux Schoeman on Vimeo.

“(Koerante) se hoofdoel in die lewe is om ’n maatskaplike diens te lewer. Jy wil mense inlig sodat hulle ingeligte keuses kan maak. Dit wissel van die weervoorspelling, tot die aandeelprys tot politieke nuus,” het Scholtz ’n dekade gelede geduldig en deeglik, soos sy manier was, aan hierdie joernalis verduidelik toe die beleefde nuusman gasheer vir ’n paar besoekers aan sy woning in daardie Nederlandse stad se sogenaamde “Afrika-buurt” gespeel het. Scholtz is Donderdag 20 Oktober met nuus van sy afsterwe wyd deur oud-kollegas by Netwerk24 geloof vir sy intellek, joernalistieke vaardighede en spoed voor ’n toetsbord (hy het met twee vingers getik).

Ook in die blaaie van Kerkbode het Scholtz stories vertel. Hier ’n brokkie Duitse kerknuus, daar ’n grafskrif vir Hans Küng. En terwyl sy vele oudkollegas, waaronder Willem Jordaan, die redakteur van Die Burger, veral Scholtz se diepgaande ontledings van wêreldsake uitgesonder het, sal lesers onthou dat hy ook vanuit eie, nabye ervaring kon skryf, soos sy Kerkbode-verslag oor ’n Europese Kersfees te midde van die Koronavirus. Dit is Kerstyd 2020. Scholtz vertel: “Die kerk waarheen ons gaan – die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) se gemeente in die skilderagtige dorpie Schipluiden net buite Delft – het vir die adventstyd ’n interessante projek bedink. “Engele” (dis vrywillige gemeentelede) kry elkeen bepaalde mense wat siek is of ander probleme het, toegewys. Dan bring die engele elke Saterdagaand (anoniem) ’n geskenkie aan die gelukkiges, net as gebaar om aan die mense te wys dat daar aan hulle gedink word.”

Scholtz sluit destyds die storie as volg af: “Die sentrale tema wat die PKN vir sy gemeentes vir Kersfees 2020 in gedagte het, is ‘Gee lig aan mekaar’. Dit gaan uiteindelik om die lig wat Christus se geboorte in ’n donker wêreld gebring het, en om daardie lig in die donker van die Koronawêreld te versprei.

“Uiteindelik bly die hoop dat dit aanstaande jaar beter sal wees. Soos die Jode deur eeue heen vir mekaar gesê het: ‘Volgende jaar in Jerusalem!’”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top