Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Kobus Smit skryf: Ons het onlangs weer Hervormingsondag gevier. Die Hervorming is voorafgegaan deur Martin Luther se worsteling met die vraag: Waar vind ek ’n genadige God? Sy vind van die genadige God het die Hervorming aan die gang gesit. ’n Onvergeetlike gebeurtenis in die kerkgeskiedenis. Ewe skielik kon die gelowige mensdom weer juig en jubel: Ons skuld is vergewe. Ons is vry.
Die vraag is vandag: Waar vind ons ’n genadige kerk in ’n individualities gedrewe maatskappy met die klem op sukses, prestasie, produksie, mag, status en rykdom? Hoe lyk so ’n kerk? Wat moet so ’n kerk kenmerk? Die boodskap van verlossing en bevryding sedert die Hervorming moet tog in die kerk grondgevat het. Die vraag is: Het dit?
’n Genadige kerk word gekenmerk aan:
- liefde en aanvaarding (omhelsing) van alle mense … ook die randfigure en verstotenes.
- geen onderskeid tussen ras, volk, kultuur, taal en gender nie.
- diens aan die gemeenskap na buite (geen warmbroeiery).
- barmhartigheid teenoor alle mense (armes, werkloses, verslaafdes, ens).
- opstaan teen onreg en onbillike behandeling (profetiese rol vervul).
- vashou aan die Woord en sakramente.
’n Genadige God het ’n genadige kerk … anders leef die kerk nie uit sy genade nie.
