Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Strydom gesels met Danie Mouton

“Die skool se leuse was ‘Ons eie eerste’, ’n leuse waarvan ek my hele volwasse lewe probeer afskeid neem,” sê ds Danie Mouton, die uitvoerende direkteur van die Sinode van Oos-Kaapland. Sy grootwordjare in Bloemfontein het ’n groot invloed gehad op dit waarmee hy vandag besig is. Jaco Strydom het met hom gesels. 

“Ek het blykbaar al toe ek ses was vir my ma gesê ek gaan ’n predikant word!” sê Danie en vertel hoe dit kort daarna bevestig is toe hy op hoërskool ’n duidelike roeping beleef het om ’n dominee te word. “Nie dat ek werklik gevoel het ek het die aanleg nie. Ek het soms gevoel dalk moet ek liewer ’n geneesheer of ’n ingenieur word. Tog het die roepingsbesef my nooit – tot vandag toe – verlaat nie,” sê hy.

In sy matriekjaar is sy pa in ’n ongeluk oorlede. Dit was die donkerste tyd in sy lewe wat ’n diep leemte gelaat het.

LEES OOK: Dana Snyman skryf: Halleluja’s, ’n bus en ’n blokkie pienk-en-wit klapperys

“Een van my mooiste herinneringe is van toe ek vier was en ek en my pa hand aan hand in die biblioteek in stap, en dat ons boeke uitneem. My pa se leuse was altyd, voor ons iets doen, gaan ons eers daaroor lees sodat ons kan verstaan,” sê hy.

Danie is vandag bekend as iemand wat mense bymekaar bring. Hy vertel van sy groot ontnugtering met apartheid in sy studiejare: “Ek dink daar het ’n groot draai gekom van 1978 af toe die South African Christian Leadership Assembly (SACLA) bymekaargekom het. Ek was ’n tweedejaarstudent. ’n Klomp Afrikaners het begin besef daar is nie intellektueel, moreel, en demografies sin in die apartheidsmodel nie.”

Na 1994, veral met die onthullings by die Waarheids-en-Versoeningskommissie, het hy erg ontnugter met die kerk en die gereformeerde tradisie gevoel. Uiteindelik het hy by versoeningsaksies betrokke geraak en onder andere ’n Healing of the Memories-werkswinkel in die township bygewoon. “Dit was ’n gefasiliteerde, interkerklike versoeningsaksie en het my gehelp om my plek in die ekumeniese kerk te vind,” sê Danie.

PODSENDING: Luister hier na ‘n gesprek met Danie Mouton

Danie Mouton

Nog iets wat Danie se idees rondom kerkwees beïnvloed het was ’n besoek aan Christene in Turkye.

“In die 1990’s het ons gemeente met Bybelverspreidingsprojekte in Turkye begin na konsultasie met Turkse Protestantse gemeentes. Dit was vir my verstommend om klein Turkse gemeentes, van agt tot miskien vyftig lidmate te besoek en hulle toewyding te sien. Daar is groot sosiale druk teen die Christelike geloof. By elke byeenkoms was daar ander persone wat ondersoek na die Christelike geloof kom instel het. ’n Student het my vertel hoe hy agt jaar lank na iemand gesoek het wat hom meer oor Jesus kon vertel. Daar was niemand. Hierdie soort verhale was volop,” sê Danie.

’n Paar jaar later hoor hulle dat drie Turkse gelowiges in Malatya, ’n stad waar hulle betrokke was, vanweë hulle geloof gemartel en vermoor is.

“Dit het my verstaan van gemeentewees radikaal geskuif. ’n Mens raak van baie tierlantyntjies bevry en sien weer die lewende teenwoordigheid van Jesus raak,” sê hy.

Danie was al oral betrokke in die kerkomgewing, van gemeentedominee en hoof van ’n kinderhuis tot die direksievoorsitter van Bybel-Media, om net ’n paar plekke te noem, tans is hy die uitvoerende direkteur van die Sinode van Oos-Kaapland.

Hy is hoopvol oor die toekoms, sien ’n klomp mooi goed raak en sê hy is veral opgewonde oor nuwe jong leiers in die kerk.

“Nog ’n ding wat my opgewonde maak is dat daar baie mense is wat goed wil doen, wat die wêreld ’n beter plek wil laat, maar ek dink hulle word partykeer ’n bietjie dood ge-manage deur vreeslike formele sisteme, wat sê dit moet nou eers kerkraad toe gaan,” sê Danie.

Hy vetrel van ’n belangrike besluit toe hy destyds betrokke was by Hoogland-gemeente. “Ons het vir onsself gevra, wil ons ’n barmhartigheidsbediening hê op die kerkraad of wil ons drieduisend barmhartige lidmate hê? En besluit toe dit gaan baie beter wees om drieduisend barmhartige lidmate te hê!”

Hulle het ’n klomp dinge gedoen om groter omgee by gewone gemeentelede te kweek.

LEES OOK: Hulpinstansies pleit vir samewerking te midde van ‘ontploffing’ in haweloosheid

Een van die mooi stories was van ’n tannie wat op pad Bybelstudie toe ’n man raakgeloop het wie se sinkhuis ’n paar dae gelede afgebrand het.

Sy het vir die ander vroue by die Bybelstudiegroep in die kerksaal vertel en binne dae het hulle die man gehelp. Danie sê, teen die tyd dat die dominees daarvan uitgevind het, het hulle nog net ’n yskas gekort, al die boumateriaal en ander goed (genoeg om letterlik sy hele huisie te herbou!) was reeds by die man afgelewer.

“Vroeër jare sou sy die dominee bel, en dominee sou die voorsitter van die barmhartigheidskommisie gebel het, dié sou gesê het ons hou oor drie weke vergadering, dan sou hulle gesê het, nee, sorry, daar’s nie geld op die kerkraad se begroting nie,” lag Danie.

Een van sy groot passies is om gemeentes te help om hulle roeping so effektief moontlik uit te leef, die ander is ekumene.

“Die kerk is die liggaam van Christus. Ek dink gereformeerdes het dit verkeerd as ons sê dit is net ’n metafoor vir die kerk. Dit voel altyd vir my ek ontspan, ek is gemakliker, as daar hierdie absolute diversiteit en verskeidenheid van sieninge en belewenisse om die tafel is. Dit kom uit ’n baie diep oortuiging dat geen mens die liggaam van Christus kan verdeel nie. Jy weet, jy kan die werk en die getuienis van die Gees en Christus se teenwoordigheid in sy liggaam probeer beduiwel, jy kan probeer om die liggaam te skeur, maar dan is jy nie in harmonie met God nie,” sê hy en vertel van ’n hele klomp inisiatiewe waarby hy betrokke is.

Onder andere ’n werkswinkel wat beplan word vir begin volgende jaar, waar Katolieke, Anglikane en NG predikante saam gaan werk om mekaar te leer ken, vertroue te bou en om te vra hoe ons die gemeenskap saam kan dien.

“Ek dink baie gelowiges is veel broser en daarom meer leerbaar as in die verlede,” sê hy.

Danie Mouton is ’n erg positiewe ou wat duidelik ’n groot verskil maak, dink ek terwyl ons gesels. Maar is daar dinge wat hom pla? Ek vra of hy ook soms gefrustreerd raak. Waarom is ons eredienste byvoorbeeld nie so multikultureel soos ons teologie en ons kerkpraatjies by sinodesittings nie?

“Ek dink daar is dikwels nog ’n verkeerde ou kerkbegrip, wat baie mense capture. Min mense kry dit reg om te ontsnap aan die sosiale plot van toe hulle kinders was. Daar is baie keer ’n disconnect tussen die kaart wat ons in ons kop het en wat van ons verwag word.”

Wat energize jou? vra ek.

“’n Paar predikante gebruik my as mentor, en ek leer meer by hulle as andersom. Wanneer my nuuskierigheid bevredig word, is ek happy,” sê hy en voeg dan by: “En ek het ’n wonderlike vrou, ek wonder partykeer, kry sy soveel uit die verhouding uit as wat ek kry!”

Persoonlike kontak is vir Danie Mouton belangrik. Hy is oortuig dat kontak, veral met die mense wat anders as ons is, uiteindelik ons kop swaai.


Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top