Die aantal mense wat slaap onder bome en brûe en in flentertente langs paaie en hoofweë woon, word in Kaapstad as ’n “ontploffing” van haweloses beskryf. Maar, Christelike hulporganisasies soos MES, sien dat sterk vennootskappe en ’n holistiese benadering reeds begin om ’n verskil te maak in die aanspreek van hierdie komplekse probleem. Heléne Meissenheimer doen verslag.
Sandy* is doodgeskiet op ’n Dinsdagaand terwyl sy besig was om pap te kook in haar opslaanhokkie naby Parow se treinstasie waar die treine nie meer stop nie.
Sy kies al jare lank om so te leef al bly haar ma en jonger broer in ’n woonstel skaars ’n blok weg. Haar ma maak haar twee jong kinders groot. Hulle is nou wees, want hulle pa is ook ’n paar maande terug aan kanker dood.
Sandy tel onder die Kaapse Metro se hawelosebevolking van sowat 14 000 mense, volgens ’n studie, The cost of homelessness: Cape Town. Drie plaaslike hulporganisasies, MES, U-Turn en Khulisa, het die studie vroeër vanjaar gepubliseer as deel van voortgaande samewerking. Dit in ’n stad met ’n bevolking van meer as 4 miljoen inwoners (10 jaar terug 4 005 015 volgens die 2011-sensus).
Haar storie teken ’n prentjie van hoe ’n komplekse begrip “haweloosheid” is. Iemand soos Sandy wat al jare op straat leef word beskou as “chronies haweloos”. MES en kie verduidelik in hulle verslag hoe langer iemand op straat leef, hoe moeiliker is dit om hulle te help om op die lange duur daarvan af te bly. Kaapstad het ’n baie hoë voorkoms van chroniese haweloosheid, volgens die studie. Sowat 50% van haweloses word as chronies bestempel, teenoor 5-25% van haweloses in ander lande.


Drastiese optrede is nodig. Geordin Hill-Lewis, die Kaapse burgemeester, het die situasie in ’n onlangse rubriek as ’n “ontploffing” in die getal haweloses beskryf.
Nie ver van waar Sandy saam met ander ’n lewe langs die spoorlyn probeer uitkrap het nie, het MES onlangs ’n nuwe Sentrum van Hoop geopen. Die openingsgeleentheid was heel gepas op Wêreld-Haweloosheiddag, 10 Oktober. Ilse Maartens, MES se Kaapse takbestuurder, sê dit is die eerste fasiliteit waar al die fases van dié organisasie se 4-stapontwikkelingsplan aangebied word. Sy verduidelik meer: “Ons Outreach and Relief (Stap 1), ons Change (Stap 2) en Work Readiness (Stap 3) and Reintegration (Stap 4) … alles onder een dak. So nou hoef die mense nie meer van bakboord na stuurboord gestuur te word nie.”
By die eens vervalle muurbalsentrum is nou onder meer genoeg slaapplek vir 40 mans en 20 vroue, ’n internetkafee en naaldwerkkamer. “Die akkommodasie is gelink aan elke proses en baie belangrik is hier terapeutiese dienste wat gelink is met elke proses,” voeg Maartens by met verwysing na die maatskaplikewerkdienste wat daar is.
Dit het 10 jaar en hande vat met ’n klomp vennote geneem om die droom van ’n “een stop shop” soos die een in Parow te laat gebeur. “Wat ’n mens net so blow away is God se timing. Hoe Hy almal bymekaar getrek het. As dit in 2012 gebeur het, was die helfte van die vennote nie by nie. En dit is lekker om te weet God is in the business and He is in the detail and He is the One that builds the house,” sê sy.
Langs haar staan Wilma Piek, maatskaplikediensbestuurder by Voortrekker Road City Improvement District (VRCID) en een van MES se noue vennote in hierdie projek. “Dit is nie net een organisasie nie, hoewel MES al die verantwoordelikheid vat, dit is ’n klomp organisasies wat saamwerk … en dit is regtig wonderlik dat ons saam almal ’n verskil kan maak,” vertel sy vir Kerkbode.
LEES OOK: Haweloosheid: Goeie data, sterk koalisies … en vuil hande
Die gebou is in private besit. Na jare van sukkel om die gebou te verkoop, het die eienaar in 2021 met MES ’n 99 jaar-huurooreenkoms aangegaan vir ’n skamele R1 per maand (R12 per jaar saam met BTW) op voorwaarde dat die tweeverdiepingsentrum tot voordeel van die gemeenskap gebruik word. Die daaglikse operasionele bestuur gaan egter jaarliks in die miljoene rande beloop, geld wat MES nie het nie.



Die organisasie se nuwe Mi-Change-koeponstelsel is een manier waarop hulle hoop om fondse in te samel. Die koepons is by die meeste Spar-winkels in die noordelike voorstede te koop. Hulle hoop ook dat mense wat haweloses wil help eerder koepons sal koop as om geld, klere of kos vir haweloses uit te deel, hoor Kerkbode by Franita Knudsen, MES se fondswerwer wat ook die MES Sentrum van Hoop in Durbanville twee jaar terug begin het. “Onverantwoordelik gee,” noem sy dit en verduidelik hierdie goedbedoelde gawes is een van die redes hoekom dit hawelose mense langer kan vat voor hulle desperaat genoeg is om vir hulp aan te klop. “Vir my is dit ’n no brainer. Hoekom sal jy vir iemand geld gee wat onverantwoordelik is met geld pleks van vir ’n instansie wat elke jaar geoudit word en ons doen hierdie programme? vra sy.
LEES MEER: MES: Dit gaan oor menswaardigheid, nie ‘handouts’, sê nuwe hoof
Twee van MES en VRCID se medewerkers in Parow is Tressor en Bijou Konko wat die laaste vyf jaar kinders wat op straat leef in Parow help om terug by hulle families in te skakel. Sy beskryf die gee van geld vir straatkinders as ’n misdaad, want die kinders koop dikwels dwelms en hulle loop dan die gevaar om van ’n oordosis dood te gaan.
“Haweloosheid is nie almal se koppie tee nie, maar vir ons wat geroep is om dit te doen, laat ons dit doen … die proof is in the pudding. Ek kan hier vir jou sit en stories vertel van mense …,” borrel Knudsen voort.
Sy vertel van Lorian wat drie nagte by die polisiekantoor geslaap het omdat sy haar werk as huishulp verloor het en nie met haar familie in die Oos-Kaap kon kontak maak tydens die pandemie nie. Toe vind Senzo Madida, MES se uitreikwerker haar, en kon hulle vir haar ’n buskaartjie reël om met haar familie herenig te word.
Toe Kerkbode vra of daar iemand is wat hulle eie storie sal wil vertel, roep sy vinnig deur haar kantoortjie se venster na William Kleinbooy wat langs MES se Sentrum van Hoop in Durbanville by ’n ander besigheid as skoonmaker werk. Ja, hy sal graag sy storie vertel dat mense MES kan ondersteun, vertel die middeljarige man met die sagte stem. Na sewe of agt jaar op straat as alkoholis het hy ’n “uitkomkans” gekry danksy MES se 4-stapplan wat sommige ’n paar jaar kan neem om deur te werk. Nou is hy in ’n vaste werk en gereed om vir ’n plekkie van sy eie uit te kyk. “Ek kan my toekoms vorentoe sien … dit blink vir my,” sê hy trots.
Stories soos dié van Sandy is hartseer, maar wanneer ’n gemeenskap saamwerk met hulle hulporganisasies kan daar meer soos dié van Kleinbooy en Lorian wees. Hierdie stories is haar inspirasie vir die werk wat hulle doen, sê Maartens. Vir Knudsen is dit die rede dat sy elke dag uitsien om werk toe te gaan. “Met ’n oop hart kan ek vertel wat ek elke dag sien gebeur.”
- Die berig is aangepas na publikasie.
