Jacobus Albertus Venter is op 15 Desember 1927 gebore op Philipstown in Noord-Kaapland. Sy vader was Andries Gerbrandt Venter, ’n bouaannemer op die klein dorpie Philipstown. Sy vrou is Maria Johanna Kleingeld, ’n vrou wat haar kinders met liefde en deernis opvoed. Kobus begin in 1933 skoolgaan in die Laerskool Philipstown en in 1942 word hy leerling van die Hoërskool De Aar waar hy in 1944 matrikuleer. Op skool blink hy uit in atletiek.
Kobus voel geroepe om predikant te word en sy pad loop in 1945 na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA- en BA Honneursgrade verwerf. Hy word in 1949 student van die Teologiese Seminarium in die Eikestad waar hy aan die einde van 1952 as proponent gelegitimeer word. Kobus trou op 16 April 1960 met mej Cecilia Aletta Burger. Uit die huwelik is drie kinders gebore.
Prop JA Venter word op 21 Maart 1953 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Algoabaai in Port Elizabeth, waar hy sy eerste tree in die bediening gee. In sy dienstyd word ’n nuwe kerkgebou en pastorie in die gemeente gebou. Hierna kom ’n roepstem na die NG Gemeente Middelburg (Kaap), waar hy op 15 Maart 1958 ontvang en bevestig word. Na meer as agt jaar word hy op 7 April 1962 leraar van die NG Gemeente Ceres-Vallei in die Koue Bokkeveld, waar ook ’n pastorie en kerkgebou opgerig word.
Ds Kobus Venter word op 12 November 1966 leraar van die NG Gemeente Burgerspark, waar hy in die hart van die Jakarandastad betrokke is by ’n gemeentesentrum. Sy liefde en meelewing met studente en jongmense word waardeer en hy word op 3 Augustus 1970 bevestig in ’n PSD-pos as Jeugsekretaris van die Sinode van Noord-Transvaal. Hierna loop sy pad op 3 Maart 1974 na die NG Gemeente Universiteitsoord in Pretoria as studenteleraar.
Na vier jaar loop sy pad na die NG Gemeente Welgemoed in Bellville, waar hy op 19 Maart 1978 in hierdie besondere gemeente ontvang en bevestig word. In Welgemoed aanvaar hy ook aan die begin van 1993 sy emeritaat. Hy was by uitstek ’n prediker en in sy bediening het hy sendingweke waargeneem in die studentegemeentes van die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria, Port Elizabeth en Bloemfontein.
Ds Kobus Venter bly lidmaat van die gemeente Welgemoed in Bellville, tot met sy afsterwe op 24 Oktober 2022. Hy word onthou as ’n toegewyde bedienaar van die Woord en iemand wat tot die einde van sy lewe ’n visser van mense bly.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
