The New Puritans deur Andrew Doyle
Uitgewer: Little Brown, 2022
Resensent: Waldemar Stumpfe
In sy The New Puritans spreek Doyle ’n baie belangrike verskynsel aan. Doyle noem hierdie verskynsel ’n nuwe realiteit, ’n “Pseudo-Utopia”. Vir hierdie nuwe verstaan van mense en lewe is daar ’n bepaalde taal ontwikkel. Dit ontbreek egter aan nuwe feite en bewyse om dit te staaf.
Met die klem op geleefde ervaring het hierdie nuwe ideologie die feite van die tafel kom vee. Geleefde ervaring word die enigste waarheid. Hierdie ideologie word gekenmerk deur ’n vyandige en aggressiewe houding wat sy teenstander óf vervolg óf bloot ignoreer.
Die persoon met ’n ander argument word uitgeskuif (polariseer) deur te beskaam, stil te maak met eensydige etikettering, demonisering of bloot te “mute” of blok met valse en eensydige aantuigings. Gesprekke val vas en word gekaap deur onredelik te oordeel met veralgemenings en oordrywing. Gespreksgenote oordeel fel oor mekaar, stemme wat verskil word geïgnoreer en later bloot weggestoot.
Doyle gebruik goeie voorbeelde om te wys hoe wat hy noem die “religion of social justice wokeness” hierdie skyn-realiteit laat posvat en implementeer in wetgewing, opvoedkunde, letterkunde, akademie, die media en ander prominente samelewings strukture. Hierdie sogenaamde liberale beweging wil, aldus Doyle, graag vryheid vir almal bemiddel, maar is besig om juis die teendeel te bestuur. Vryheid van spraak, beskerming van die regte van minderheidsgroepe en die skep van meer gedeelde gesonde lewensruimtes om die nood van die wêreld aan te spreek, ly skipbreuk. ’n Verdeelde, vyandige leefwêreld word geskep.
Hierdie boek kan groot waarde toevoeg tot die begrip en moontlik nugtere bestuur van gesonde dialoog, onder ander vir die NG Kerk se uitdaging rondom sinvolle en konstruktiewe dialoog oor verskille en die hantering daarvan.
Beskikbaar by Loot.
- Ds Waldemar Stumpfe is predikant by die NG Kerk Ficksburg.
