Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Problematiese uitgangspunte kelder Profesie-Bybel 

Die Profesie-Bybel Nuwe Testament – God se plan vir ons toekoms 2020 Vertaling

Samesteller – Onbekend

Uitgewer: LUCA, 2022

Resensent: Christo Benade

Die verstaan van Bybelse profesieë is ʼn kontensieuse saak. Die interpretasies wissel van ʼn letterlike verstaan met baie relevansie vir die hedendaagse gelowiges tot ʼn oortuiging dat profesieë tydgebonde is met min relevansie vir vandag. Hierdie werk oordeel dat Bybelse profesieë nog baie relevansie vir die hedendaagse gelowiges het.  

Die Profesie-Bybel gebruik die 2020 vertaling van die Afrikaanse Bybel se Nuwe Testament, met 50 artikels oor profesie.

Die artikels hanteer onder andere die interpretasie van Bybelse profesieë, progressiewe openbaring, die sewentig sewe getalle, Israel en profesie, die laaste dae, tekens van satan, heilige engele, slag van Armageddon, ens. Hierdie weergawe van die 2020 vertaling gebruik nie die Bybelgenootskap se inleidings tot die bybelboeke nie, maar gee nuwe inleidings. Die voetnotas tot die 2020 vertaling is ongelukkig ook uitgelaat.

ʼn Baie letterlike interpretasie van die Bybel word gebruik, waar die konteks en literatuursoort nie genoeg verreken word nie.  Dit lei tot sterk trekke van dispensionalisme, ʼn interpretasieraamwerk waar die Bybel die geskiedenis opdeel in ʼn aantal tydperke wat sou eindig in sewe jaar van verdrukking, wat die duisendjarige vrederyk van Christus sal inlei. Hierdie siening van Christus se wederkoms word die Chiliasme of pre-millenialisme genoem, omdat Christus se finale koms aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal wees. Die terugkeer van Christus vind dan ook in fases plaas. By sy eerste terugkeer sal die wegraping plaasvind en sal die gelowiges met hom saamgeneem word.

Die werk lê verder baie klem op God se twee groepe kinders, die etniese Jode en die Christene. Vir die etniese Jode word daar in  “vier onvoorwaardelike verbonde belowe dat hulle  ʼn land, nageslag, seën, priesterskap, koning en koninkryk” sal verkry. Hierdie beloftes sal “letterlik vervul word”. Die Kerk van die Here word ook nie gesien is ʼn voortsetting van God se (nuwe) volk nie.

Alhoewel daar teologiese kontekste is waarbinne die werk aanklank sou vind, is teologiese uitgangspunte van die artikels in die Profetiese-Bybel moeilik verteerbaar binne ʼn Bybels-gereformeerde lees van die Bybel. Ek sal nie die Profesie-Bybel aanbeveel nie.

Beskikbaar by Lapa.

  • Dr Christo Benade is predikant by die NG Gemeente Suider-Strand

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top