Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Morné Joubert skryf:
Ek is tans besig met ’n studie vir die Algemene Sinode se Taakspan vir Teologiese Navorsing oor die hermeneutiese skuiwe in die NG Kerk oor die laaste drie dekades. Die studie se data word verkry uit verskeie Zoom-gesprekke met gemeentes (leraars en lidmate), maar ook deur middel van ’n vraelys wat ingevul kan word.
Mense se persepsies van die Bybel verskil baie, want daar is diegene wat glo dat elke woord in die Skrif deur die Heilige Gees geïnspireer is, terwyl daar ander is wat die Woord sien as mensetaal wat ervarings met God beskryf. Sommige mense sê dat die Bybel so heilig is, dat jy nie eens ’n ander boek bo-op dit mag neersit nie, terwyl daar aan die ander kant mense is wat met potlode, penne en highlighters in die boek inklim! Hoe dit ookal sy, indien iemand die alleenpag op die Bybelse waarheid gehad het, sou daar sekerlik nie soveel Protestantse denominasies bestaan het nie – wat nog te sê van die Anglikane, Katolieke en ander Ortodokse kerke? Dit is duidelik dat mense die Bybel verskillend interpreteer en dat hulle lewensomstandighede ’n invloed op hulle verstaan van die Bybel het.
Kyk byvoorbeeld na die LGBTQ-vriendelike samelewing van vandag. Die kerk word onder druk geplaas om selfdegeslagverbintenisse te erken en selfs te bevestig. Hierdie lewenstyl word algemeen in die breë samelewing aanvaar, maar nie noodwendig in alle Christelike gemeenskappe nie. Die NG Kerk word gereeld herinner aan die wyse waarop die Bybel in beleidskwessies van die verlede gebruik is – dink maar aan die apartheidskwessie en die vrou in die amp. So, wat nou gemaak met selfdegeslagverbintenisse?
Hierdie enkele voorbeeld beklemtoon maar net weer die vraag: Moet ons die beginsels van die Bybel aanpas na gelang van ons lewensituasie, of moet ons ons lewe aanpas by die beginsels wat deur die Skrif neergelê word? En hoe moet dit dan gedoen word?
Die studie waarmee ek besig is probeer om juis meer lig te werp op hierdie soort kwelvrae. Ek nooi jou om deel te wees daarvan deur die vraelys by die volgende skakel in te vul: https://www.surveymonkey.com/r/PKF82RZ
Lees ook: Neem deel: Nuwe peiling wil hoor hoe jy Bybel lees en verstaan
