Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Uitdagende ‘gids’ vir Christene wat erns maak met twyfel en ontnugtering

Do I stay Christian? A guide for the doubters, the disappointed and the disillusioned deur Brian McLaren

Uitgewer: Hodder & Stoughton, Londen 2022

Resensent: Siegfried Louw

’n Rukkie gelede gesels ek met ’n jongmens oor waarom sy besluit het om nie belydenis van geloof af te lê nie. “Dis nie dat ek nie glo nie – ek is net nie lus om geassosieer te word met die manier hoe Christene teenoor ander mense praat en optree nie. Ek wil eerder hê mense moet weet ek is aan hulle kant,” het sy gemymer, byna vir haarself.

Nadat ek Do I stay Christian van McLaren gelees het, besef ek dat die betrokke jongmens se woorde eintlik ’n vereenvoudigde opsomming van die boek is.

McLaren se boek word in drie dele opgedeel. Die eerste derde vertel vir ons hoekom dit ’n slegte besluit is om ’n Christen te bly. Die middelste derde vertel hoekom dit ’n goeie, amper eerder onafwendbare besluit is om ’n Christen te bly. In die laaste stuk gee McLaren ’n paar idees en rigtingwysers oor hoe die leser ’n ingeligte, beredeneerde besluit kan neem. Of jy “ja” of “nee” kies, sê hy, jy het die verantwoordelikheid om steeds nederig te wees en om goedhartig met mense om te gaan.

McLaren se eie konteks skemer in sy vertellings baie sterk deur. Politiek en pandemie draai sy driftigheid ’n bietjie harder, sodat ons sy standpunt duidelik kan hoor. Magsvergrype en selfverryking onder die vaandel van Christenskap word ontbloot. Maar een ding staan dwarsdeur die boek duidelik uit: Geloofshelde was daar nog altyd. Dit is diegene wat bereid was en is om ’n “counter culture” te leef. Jesus was een van hulle, sê hy.

Dit is nogal ontstellend om te sien hoe vinnig Christene verander het toe ons politieke mag gekry het. Voor Konstantyn was daar ’n radikale verskil tussen “die koninkryk van God” en “die koninkryk van Rome”. Maar toe kerk en staat magsvriende geword het, het ons Godsbegrip ook weldra verander. Die Christendom se God het byna soos Zeus begin lyk – ’n opperwese wat jou help om te oorwin en te oorheers. Dít is die tipe van assosiasie met Christenskap wat dit vir McLaren onhoudbaar maak.

Die boek lees maklik, maar die inhoud sit ongemaklik. Hoekom is ek in die kerk? Of hoekom nie? Die boek daag ons uit om ons eie spikkel op die planeet – en die invloed daarvan – ernstiger te neem.

Dit is die knoop waaraan jy nie kan ontsnap nie, verduidelik die derde deel van die boek. In elke deel van die samelewing gaan jy jou vasloop in diegene wat godsdiens of ideologie wil gebruik om te oorheers. Nederigheid en “kindness” gaan egter vra dat jy dit ook teenoor die moeilike kalante sal bewys, selfs al verkies hulle ’n Zeus-agtige god.

Met hierdie boek in die hand, sal ek graag weer met daardie jongmens wou gesels wat nie belydenis van geloof wil aflê nie. Ek wil nog beter verstaan.

Beskikbaar by Takealot of op Kindle.

Dr Siegfried Louw is ’n predikant by die NG Kerk Proteahoogte.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top