Faith, race & inequality amongst young adults in South Africa: Contested and contesting discourses for a better future – saamgestel deur Nadine Bowers du Toit (redakteur).
Uitgewer: African Sun Media, 2022
Resensent: Suzanne van der Merwe
Prof Francis Nyamnjoh begin sy voorwoord met die gedagte dat hierdie publikasie ’n ingeligte pleidooi is vir ’n inklusiewe, gelyke en vrugbare toekoms vir vandag se jeug. Hierdie pleidooi is nie om dowe neute nie. Met die unieke stem van elke medeskrywer word dit gou duidelik dat Suid-Afrika steeds een van die wêreld se ongelykste nasies blyk te wees. Die letsels en nalatenskap van Apartheid en kolonialisme is diep gewortel.
Dié konteks laat Bowers du Toit vra: Is die “born frees” werklik vry? Die jeug se ervarings bewys die teendeel. In dieselfde asem word die amper onbillike verwagting van vorige generasies verwoord, dat die jeug dié generasie is wat gelaaide konsepte soos versoening, vergifnis, geregtigheid en restitusie moet bevorder om ’n inklusiewe, gelyke en vrugbare toekoms te verseker. Derhalwe word daar ondersoek ingestel na die rol wat geloof, ras en ongelykheid speel in die jeug se lewe.
Die leser verken hierdie onderwerpe deur twaalf artikels met verskillende invalshoeke. Die eerste onderafdeling het ’n sterk intergenerasionele perspektief. Wat sterk na vore kom in hierdie onderafdeling is die belang van vele lesse uit die verlede. Die tweede onderafdeling fokus op die onvermydelike kruispaaie van ras, spasie, plek en gender, wat dikwels ongelykheid bevorder. In hierdie onderafdeling skemer ook stukkies hoop deur, dat hierdie kruispaaie vensters is waardeur hoop beliggaam word. Die laaste onderafdeling sluit die publikasie af met die blatante vraag: Durf ons hoop? ’n Geldige en broodnodige vraag gegewe die konteks.
Elke outeur in hierdie volronde, gebalanseerde, komplekse en volledige publikasie se stem is uiters noodsaaklik. Die opregte eerlikheid waarmee elkeen hierdie onderwerp onder die loep geneem het, is verfrissend. Die leser word uitgedaag tot introspeksie, maar ook aangemoedig tot aksie.
Beskikbaar by Clarke’s.
Dr Suzanne van der Merwe is predikant by NG Kroonstad-Noord in die Vrystaat.
