Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

"Die eerste keer wat ek oorsee is, was in so ’n kerksaal. Op ’n kultuuraand wat Ma-hulle gereël het. Die tema was Japan. Omtrent almal het in hulle japonne daar aangekom en ons het kwaai gesukkel om die klein stukkies vleis en die rys te eet met die stokkies wat Ma in Kimberley gekoop het. Met japonne vol vetkolle is ons later huis toe." Foto: Dana Snyman

Dana Snyman | My ‘reis’ oorsee … via ’n kerksaal


Onlangs kom ek toe weer in só ’n saal, ’n kerksaal met ’n blink teëlvloer, ’n hoë dak en ’n verhoog afgesper met swaar fluweelgordyne.

Ek dink nie dit is regtig nodig om te sê waar en in watter gemeente se saal ek was nie. Dit is asof elke kerksaal dieselfde een is: die dubbele houtdeure aan die voorkant, en teen die muur ’n hoeksteen van donker marmer waarop gesê word wanneer en deur wie die saal geopen is.

Hoekom is op ’n kerksaal se hoeksteen nooit ’n Bybelvers soos op die kerkgebou langsaan s’n nie? het ek al gewonder. Miskien is dit omdat daar te veel wêreldse dinge in ’n kerksaal gebeur. Ek het al na ’n vertoning van die fliek King Kong in ’n kerksaal gekyk, en vir Gé Korsten, Min Shaw, Four Jacks and a Jill en die Drakenbergse seunskoor in ’n kerksaal hoor sing.

LEES OOK: Dana Snyman | Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie

O, en byna vergeet ek van die aand toe Martino, die kulkunstenaar, in ons kerksaal opgetree het in sy fluweel onderbaadjie. Martino wat altyd gesê het: “Ek kul jou hier, ek hul jou daar …” Dan laat verdwyn hy ’n twintigsentstuk. “En siedaar!” En haal die twintigsentstuk agter jou oor uit.

In die helfte van sy vertoning het Martino aangekondig: “Dames en here, daar gaan nou 10 pouses van 2 minute elk wees.” En toe gaan staan ons in ’n ry by die kombuis se oop luik aan die kant van die saal en koop vir ons kerrie-en-rys in plastiekbakkies.

’n Mens word deur jou herinneringe gevange gehou, en dis seker goed so.

Toe ek nou die dag by daardie saal instap, het ek geweet hoe dit in die portaal gaan ruik. Die draailoopplek, mans eenkant, vroue anderkant, is dikwels deel van ’n kerksaal se portaal en dit is asof die een wat die plek skoonmaak baie seker wil maak daar is nie onaangename reuke nie. Daarom hang die reuk van ’n lugverfrisser altyd swaar in die portaal. Lentebloeiselgeur.

Dit was ook toe só, en toe ek by die manskant se deur inloer toe staan die blikkie Glade-lugverfrisser daar op ’n tafeltjie langs ’n potjie met plastiekblomme in.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Eddie le Roux: Kyk terug met dankbaarheid en met nuwe passie vorentoe

En toe ek by die saal instap, vang my oog dadelik die lyne van ’n pluimbalbaan wat op die vloer geverf is. Toe is ek weer twaalf of dertien jaar oud en kyk hoe die grootmense pluimbal speel. Die gefluit van hulle tekkies oor die vloer en tannie Veronika Nel se mooi, bruingebrande bene en haar rompie wat te hoog opwip en jy wat jou verbeel jy het haar broekie vir ’n flitsoomblik gesien.

Pluimbalwedstryde in ’n kerksaal het tot vele oortredings van die Tiende Gebod gelei.

Wat ’n kerksaal van ander sale onderskei, is die kombuis. Ek het reguit na die kombuis gestap en terwyl ek soontoe stap, het ek vir myself gesê: Dit moet net daar wees, dit moet net … En dit was daar: die groot, silwer ketel, die urn, waarin water gekook word.

Toe sien ek sommer weer vir oorlede Ma-hulle in die saal se kombuis werskaf – daardie formidabele bende: die ACVV-susters, tant Sannie en tant Hester en die ander, besig om kerrie-en-rys te maak en jaffels te maak en pannekoek te bak.

En langs die kombuis is ’n tamaai koelkamer. ’n Dag of drie voor die jaarlikse kerkbasaar het ’n bees of twee en ’n paar skape se karkasse aan hakke in daardie koelkamer gehang. Dan is daar vleis gewerk. Dis wat Ma altyd gesê het: “Vandag werk ons vleis.”

Die karkasse is opgesaag en daar is maalvleis en wors gemaak.

LEES OOK: Leraar in Johannesburg raakgery

Een ding bly my by van daardie vleiswerkery: In die kerk het die mans oral geheers, in daardie jare altans. Maar wanneer daar vleis gewerk is by die kerksaal, was die vroue in beheer. Die mans het net die karkasse rondgedra en die vleismeul se slinger gedraai, verder moes hulle Ma-hulle se bevele uitvoer. Sny hier, saag daar. Nee, nee, nie só nie.

Ek het nou die middag ’n hele ruk in daardie saal vertoef. Ek het weer onthou van die sendelinge, gewoonlik ’n man en ’n vrou in ’n ouerige Peugeot-stasiewa, wat ons dorp besoek het en in die kerksaal vir ons van hulle werk vertel het. Sendelinge uit Afrika wat vir ons skyfies gewys het van melaatse mense en glimlaggende bekeerlinge.

Die eerste keer wat ek oorsee is, was in so ’n kerksaal. Op ’n kultuuraand wat Ma-hulle gereël het. Die tema was Japan. Omtrent almal het in hulle japonne daar aangekom en ons het kwaai gesukkel om die klein stukkies vleis en die rys te eet met die stokkies wat Ma in Kimberley gekoop het. Met japonne vol vetkolle is ons later huis toe.

Die verlede praat dikwels met my in stemme. Die stem van oom Willie wat iets in die saal opveil op ’n basaar: “Vyftig het hier, vyftig het, vyftig het ek …” Die adjunk-minister wat die plaaslike Rapportryers-tak in die saal kom toespreek het: “God het ons met ’n bepaalde doel hier aan die suidpunt van Afrika geplaas …” Glenys Lynne wat saam met Four Jacks and a Jill sing: “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack …”

In die kerksaal waarin ek was, word lankal nie meer pluimbal gespeel nie. Manuel Escorcio se optrede agt jaar gelede was die laaste konsert wat daar gehou is. Miskien sal daar hierdie jaar ’n kerkbasaar wees, al het die gemeente nie meer ’n voltydse predikant nie. Op ’n goeie Sondag woon so veertig mense die oggenddiens by.

Op baie plekke gaan dit so.

Ek wil nie heeltemal saam met die Prediker sê alles is tevergeefs nie.

Maar terwyl ek daar in die saal gestaan het, alles blinkskoon, die gordyne op die verhoog toegetrek, kon ek nie anders as om te dink wat gaan volgende hier gebeur nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.