Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Sakkie Esterhuyse van Vredenburg trots by sy blinkgevryfde klein koets. Alle foto's: Dana Snyman

Dana Snyman | Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie


Sien ek ’n Nissan 1400-bakkie iewers staan, hou ek dikwels daarby stil.

Oral in die land sien jy nog van dié bakkietjies, al het Nissan in 2008 al opgehou om hulle te vervaardig.

Is die bakkie se baas nie by nie, probeer ek hom – dit is omtrent altyd ’n hom – in die hande kry. Hoe lank het hy al die bakkie? wil ek dan weet. Waar het hy dit gekoop? En hoeveel kilo’s het die bakkie op die klok? Sulke vrae roep stories op.

Kallie Andrews

Later sal ek hom vra of ek ’n foto van hom by die bakkie kan neem.

Ek het al meer as vyftig sulke foto’s.

Die eerste een het ek ’n jaar of drie gelede op Stofkraal in die Namakwaland afgeneem. Kallie Andrew s’n. So ’n blouetjie wat nie meer kon ry nie. Agterop daardie bakkie is Kallie se jongste seun gebore, een heilige dag iewers anderkant Stofkraal, op pad na die kliniek op Garies.

’n Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie. ’n Nederige pakdier, geduld op vier wiele. ’n Nissan 1400 is vir niemand ’n statussimbool soos ’n Ferrari of die nuutste Audi nie. ’n Nissan 1400 is genade.

Op afgeleë plekke is so ’n bakkie dikwels vir ’n hele klein gemeenskap ’n soort uitkoms. Om kos en ander noodsaaklike goed te gaan koop. Om aan die begin van ’n nuwe maand mense te neem om hulle Sassa-geld te gaan opeis. Om ’n sieke na ’n kliniek te neem.

Anderkant Fochville het ek op twee kêrels afgekom wat ’n 1400 stoot waarop ’n vrag vuurmaakhout was.

Manne naby Fochville

Eben Basson, die slangvanger van Wolseley, doen sy werk met ’n 1400 waarop groot geverf is: Eben Snake Rescue.

Op Willem Verwey van Touwsrivier se blouetjie staan: Verwey Satelliet Dienste. Willem installeer DStv-skottels vir die dorp se mense.

Jos Jaftha ry die Boland vol en verkoop vars vis van sy 1400 af.

’n Nissan 1400 praat nie groot en is nie opgeblase nie, is lankmoedig en vriendelik, besef ek wanneer ek na die foto’s kyk. Dit is ’n demokratiese bakkie.

Hier staan oom Sakkie Esterhuyse van Vredenburg trots by sy blinkgevryfde klein koets, in sy sandale, met ’n pen in sy strepieshemp se bosak. In die paneelkissie die diensboekie volledig op datum. En hier is Jerome Juries van Franschhoek by sy rooietjie. Die bakwerk is effe laat sak en die enjin opgezoep. Saterdagnag skeur hy laag en skril in Pniël se koers met DJ Black Coffee wat uit die luidsprekers pomp.

Oud-minister Adriaan Vlok het in sy wit 1400 na die Uniegebou in Pretoria gery die dag in 2006 toe hy eerwaarde Frank Chikane se voete gaan was het, ’n Bybel, ’n Makro-skotteltjie en ’n handdoek langs hom op die sitplek.

Jy kan nie aan jou vooroordele vasklou as jy Nissan 1400-bakkies begin afneem nie.

Dit is asof jy daardie bakkies soos Bileam in die Bybel se donkie kan hoor kla: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het? … Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?”

Op Sutherland in die Roggeveld neem ek ’n foto van Madie du Plessis by haar wit 1400. “Jy moet met Gieries praat,” sȇ sy en vertel ’n storie van hierdie Gieries se rooi 1400 wat ek sukkel om te glo.

Dit word ’n intense soektog na Gieries deur die gedeelte van Sutherland waar ek nooit andersins sou gekom het nie. Glasstukke wat op sypaadjies in die son blink. ’n Stukkende wasmasjien op ’n stoep. ’n Vrou in ’n japon en pantoffels op pad na ’n spazawinkel.

Uiteindelik spoor ek hom op: Gerhard Klein, alias Gieries. En hy bevestig Madie du Plessis se storie: ’n Paar jaar gelede het ’n fratsvloed in die distrik sy pa Marais, en ma Maria, en broer in ’n rivierloop meegesleur in die rooi 1400. Byna ’n week later is die drie se liggame uit die bakkie onder ’n vrag modder gehaal, asook die van hulle hond, Kollie. Ná die begrafnis het Gieries en ’n werktuigkundige die 1400 uitgesleep en begin ontmodder.

“En kyk net,” het Gieries na die wederopgestane rooi 1400 voor sy huis beduie. “Ek was gister met haar Ceres toe.”

Gieries se vriend, Jakob Makopan, het ook ’n 1400, ’n wrak van ’n ding wat aan die bibber en rook gaan wanneer hy die sleutel draai en die enjin vat.

Ek hoor nog Jakob se getuienis: “Ek is baie heilig op hierdie bakkie. Ek het vir hom vierduisend rand betaal. Hy gee my goeie diens. Ek was al Koue-Bokkeveld toe met hom – oral.” En toe ons groet, sê Jakob: “Dit is vir my aangenaam om mense te ontmoet wat ek nooit gesien of van gehoor het nie. Dit is wat die Here van ons verwag. Ons moet nederig wees teenoor mekaar.”

Jakes Jacobs van Bloemfontein, wat oorlede is sedert ek die foto geneem het, het sy 1400 oranje laat verf, fanatiese Cheetah-ondersteuner wat hy was.

En hier is Jerome Juries van Franschhoek by sy rooietjie

Op Karatara naby George het ’n vrou in ’n moeë stem vertel hulle gedaan groen 1400 het al “meer as ’n miljoen gedoen, maar ons soek nou na ’n ander bôddie vir hom.” Dit het byna geklink of sy oor haarself praat. Sy sit in ’n rolstoel, haar een been geamputeer.

Soms neem ek in die ry foto’s van 1400-bakkies, veral dié wat erg oorlaai is.

Ek het ’n klomp foto’s van 1400’s wat iewers gebreek staan, soms sonder wiele. Dit is asof jy daardie bakkies soos Bileam in die Bybel se donkie kan hoor kla: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het? … Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?”

Hoekom ek die 1400’s begin afneem het, weet ek nie altyd nie. Miskien is ek net knaend op soek na dinge wat ons oor alle grense in gemeen het in hierdie stukkende land van ons.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Dana Snyman | Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie”

  1. Dana, ons het ‘n ou geletjie gehad… By my ouers in Upington oorgekoop, toe moes sy terug Orkney toe. Ek agter ou Geletjie se stuurwiel, en my man, Pieter, voor met ons ander motor. En hy rý, steek yslike lorries verby, en ek moet byhou! Bygesê, ek het ‘n lisensie, maar het nog nooit nodig gehad om lang afstande te ry nie – was maar net altyd die passasier. En as ek terug-gear en by daai lange, lange vragmotors verbygaan, dan skreeu ou Geletjie ten hemele! As ek verby is, sug ek van verligting… Uiteindelik veilig terug in Orkney, moes ek hoor vir wat ry jy nie? Vir wat hou jy nie by nie? Ek sê jy sal nie weet waardeur ek is nie! Aag a dubbel k, hoor ek… Ek sê, ry jy met haar en voel! Terug na ‘n stukkie pad buite die dorp, met vetgee tussen-in, vra hy askies. Maar Geletjie was betroubaar en seker net nie bedoel vir so ‘n warm en lang pad nie. Ons het haar later verkoop aan vriende, en dit was nie lank nie, toe hoor ons sy is gesteel voor die poskantoor. Almal was hartseer, want sy was familie… Seker iewers buiteland toe, met afgekrapte enjinnommers… Dana, sit asseblief vir ons nog foto’s op van hierdie merkwaardige ou voertuigies? Hoop jy het my storietjie geniet. Jy is welkom om dit te gebruik. Ek woon ook hier om die draai van jou af in Saldanha.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.