Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Christo Viljoen van Quaggapoort (deesdae in Nieu-Seeland) skryf: Ek praat hier as getoetste en merk op wat om my gebeur. Ek wil graag vandag ons ouers en kinders en veral die leraars van ons gemeentes help om ’n lig aan te skakel.
Ek het leer kitaar speel en weet alles van klank en beligting en sing self soos ’n nagtegaal (bas). #Imagine is seker een van die wonderlikste goed wat gebeur in die kerk vandag, maar ook die gebeurtenis waarvan ons dalk moet kennis neem wat jou as gemeente se ondergang kan beteken.
LEES OOK: Wat is #Imagine?
As gesoute jeugwerker en leraar uit Kemptonpark het ek dieselfde belewenis gehad en weet ek dat wat ek nou gaan sê, van u dalk nie goed sal doen nie maar wat u moet hoor: Die groot gebeurtenis word aanbeveel deur die leraar in sy gemeente en hy moet onthou, die kinders luister na hom. Hy bevorder dit en hulle gaan in hulle duisende. Hy verloor eintlik daardie kinders as hy nie die dinge in sy gemeente ook so doen nie. Hy verloor sy gemeente, want die volgende jaar gaan die nuwe groep en so gaan dit jaar vir jaar aan.
Die kinders weet dit is reg en soek dit en kry dit nie in hulle gemeentes nie en hulle soek dit dan elders. Hulle neem hulle ouers ook saam en so maak die deure van jou gemeente toe as jy nie ook die preekstoel verwyder en die orrel vervang met kitare en dromme en ligte wat flikker nie. Die vertoning skep die godsdiens en die kinders glo die dominee.
Daar is ongelukkig geen remme aan die tendens nie, maar die rede vir gemeentes wat moet saamsmelt of deure toemaak moet asseblief net uitgebrei word met #Imagine as een van die grootste redes.
Natuurlik is die aard en die inhoud van die liturgie van gemeentes wat die erediens omskep in soortgelyke gebeure, en predikers gebruik wat mense trek oor hulle gewildheid met hulle omgang van die Woord, nie te verdoem nie. Ons kan net met lof praat oor hulle geleentheid, en ons bid dat hulle wat toegevoeg word by die duisende sal bly, maar die gemeentes waar dit nie gebeur nie sterf en dit is net omdat hulle tradisioneel kerk wil wees.
En so sit menige wonderlike leraars sonder ’n gemeente en sonder werk!

Ek wil net vra dat iemand aseblief sal verduidelik wat #Imagine is. Die inhoud van die brief is nie vir my baie duidelik nie. Kan iemand my dalk help?
Hallo Anda, lees gerus meer oor #Imagine by https://imaginemovement.co.za/ | Hier is ook ‘n onlangse berig oor vanjaar se saamtrekke: https://kerkbode.christians.co.za/2023/02/03/elders-gelees-imagine-10-redes-om-jou-tiener-vanjaar-te-stuur/
Liewe Christo
Ek wou jou eers nie antwoord nie, want jy sien, ek is een van die stigters van #imagine en my (as ek nou eerlik moet wees, ENIGSTE) doel was juis om Afrikaanse kerkmusiek te bevorder. ‘n Doel wat die bestuur van #imagine later prysgegee het, ter wille van inklusiwiteit – my kritiek hierop sal nie vir die #imagine bestuur nuwe nuus wees nie.
Jou kritiek vanuit die buiteland egter op #imagine dring my egter om jou te antwoord:
1. Die redes waarom die Kerk (ook die NG Kerk) krimp, is legio. Musiek is beslis een van die redes en jou (en baie ander) se fanatiese klou aan tradisionele orrelmusiek en verdag maak van kitare en dromme (want dit is mos konsert) sal beslis ‘n groot rol daarin speel.
Maar moet asb nie die skuld vir jongmense wat weggaan slegs voor die deur van musiek lê nie. Nog ‘n orrel, nog ‘n ‘band’ sal kinders terugkry in die Kerk. Jou simplistiese aanname hieroor help nie juis die debat nie en maak die van ons wat probeer om ‘n verskil te maak, verdag.
2. Ek het baie vriende wat oorsee is. En ek verstaan waarom hulle hulle in die buiteland gaan vestig het. Ek sien dit as die deel van die Here se plan om die wêreld met die Evangelie te bedien. Maar asb. alhoewel ek jou dit gun (en dit eintlik waardeer ) om in die buiteland te bedien, wees tog versigtig met jou kritiek van daar af op die pogings wat ons hier aanwend om die Evangelie te bedien. Ons land is kompleks – en dit vra vir meer as een manier om mense te bereik – #imagine is maar een van die maniere. Ons glo dit is hoe die Here ons nou lei om die Kerk te bedien.
3. Een van die redes waarom ons #imagine begin het, was juis omdat die kerk soveel kinders en jongmense verloor het. En sedert die eerste #imagine in 2014 het die styl baie verander – dis nie die show wat jy dink dit is nie.
4. Elke #imagine se boodskap is: “Gaan terug na jou gemeente! Gaan dien daar.” Die probleem is eerder die Kerk se onwilligheid om ruimte te maak vir die stemme van jongmense. Dit het ook niks uit te waai met “tradisionele kerk”-wees nie.
Gemeentes kan gerus hul kinders #imagine toe stuur – maar wat jy gaan terugkry, is kinders met ‘n nuwe visie en drome… drome dat Kerk iets meer kan wees… Jy en die gemeente gaan uitgedaag word! En net dalk, dalk, moet jy dan gereed wees om te luister omdat dit my ervaring is dat die Gees dikwels deur die monde van jongmense en kinders met ons praat.
#imagine is beslis nie foutloos nie. Ek spreek dikwels my kritiek uit. Maar hierdie tipe verdagmakery is onnodig. Ek ondersteun #imagine!
Faani Engelbrecht
NG Kerk Melkbosstrand