Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johan van Noordwes skryf: Ek wil graag die volgende twee opmerkings maak ten opsigte van die skrywe van die ASM oor die 2019-besluit rakende selfdegeslagverhoudings:
- Punt 1.1 vra die AS dat die gesprekke “eerlik en broos moet bly vanuit die eie posisie”. Ek is onseker wat hulle hiermee bedoel, maar dit klink soos “standpuntepistemologie”. Hierdie teorie beweer dat gesag in individue se persoonlike ondervinding en perspektiewe lê. Dus moet ons die Skrif deur ons lewenservaring interpreteer, wat ’n totale ander benadering is as die Bybelse standpunt om ons lewe teen die Skrif se standaarde te meet (2 Kor 13:5).
- Punt 4.2 verbind die AS tot die Bybelse verstaan van die huwelik tussen een man en een vrou,maar het ruimte geskep vir die kerklike bevestiging van selfdegeslagverbintenisse. Wat vir my onduidelik is, is of hierdie verbintenisse selibaat moet bly volgens die AS se besluit. Indien hulle die huwelik soos bo genoem bevestig, en seks slegs aanvaarbaar is binne die konteks van so ’n huwelik, dan volg dit dat seks onaanvaarbaar is in ander verbintenisse. Indien die AS egter nie verwag dat hierdie verbintenisse selibaat bly nie, is die boodskap as volg: Ons sien die Skrif beperk seks tot die huwelik van een man en een vrou,maar ons stem nie saam met die Skrif nie en gaan desnieteenstaande hierdie verhoudings se seksuele aktiwiteit inseën.
Ek bid dat die Here hernuwing en ’n terugkeer na sy Woord sal bewerk.
Lees ook die Algemene Taakspan Regte se advies oor die dokument waarna die briefskrywer verwys HIER – Red.
Geborg
