Maandag 13 Maart was dit presies ’n maand sedert dr Jannie Theron tydens sy gewone oggenddrafsessie in Northcliff, Johannesburg ernstig beseer is tydens ’n tref-en-trapbotsing.
Die 61-jarige leraar van NG Gemeente Aan-die-berg is steeds in die intensiewesorgeenheid van Milpark-hospitaal. Hy het steeds nie ten volle sy bewussyn herwin nie, vertel sy jarelange kollega en vriend, dr Jurie Schoeman, by navraag aan Kerkbode.
Hy het in ’n gemeentenuusbrief (Bergnuus 17 Februarie 2023) geskryf dat dit wat met sy kollega gebeur het, hom soos “’n hou in die wind getref” het.
Schoeman vertel vir Kerkbode die week dat die afgelope tyd verskriklik onseker vir almal was, maar uit die gemeente beleef hy soveel liefde en ondersteuning. Woensdagaand was daar weer ’n aanlyn gebedsgeleentheid om vir hulle leraar se herstel te bid. Dit word goed bygewoon, sê Schoeman, “daar is ’n eensgesindheid en liefdevolle gees … dit is soos ek die gemeente ken.”
Lidmate wat voel dat hulle dit nodig het is hierdie week op die gemeente se Facebookblad genooi om ’n beradingsessie met twee sielkundiges by te woon op Dinsdag 21 Maart.
Dit het ook intussen Lydenstyd geword.
Die kerkraad het Schoeman, wat skaars twee weke voor die hartseer gebeure van Maandag 13 Februarie afgetree het, gevra om weer as leraar by die gemeente waar te neem waar hy en Theron vir jare saam bedien het.
In ’n onlangse gemeentenuusbrief (Bergnuus 10 Maart 2023) deel Schoeman die gedig “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw wat vir hom “die regte gebed vir hierdie jaar se viering van die Pase” verpersoonlik. Hy skryf dit is ’n “selfondersoekende gebed, baie gepas vir die situasie in die land en in ons gemeente”.
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.