Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ses vals stories omring ons gedurig, waarsku Sweet en Wilson in sterk nuwe werk

Telos: The hope of heaven today deur Leonard Sweet en Len Wilson

Uitgewer: Invite Academic Hodder & Stoughton, 2022

Resensent: Stephan Joubert

In ’n wêreld wat wemel van boeke, preke, gesprekke, spekulasies en fopnuus oor die einde, is dit moeilik om iets nuut, outentiek of betroubaar hieroor raak te loop. Maar, soos altyd, ruk Leonard Sweet die mat onder ons voete uit. Hy en sy mede-outeur Len Wilson verskaf nuwe lense aan ons om die vreemde tyd waarbinne ons leef anders te besien en te beleef.

Al daardie uitgediende stories oor “die einde” wat ons wêreld steeds oorheers, word deur die loop van hierdie boek behoorlik uitgeknikker. ’n Vars verstaan van telos – die Griekse woord vir “die einde” – is deurgaans op die tafel. Ons geykte verstaansraamwerke van die einde word stylvol verskuif by wyse van nuwe metafore, nuwe verhale en, wat die skrywers noem, ’n nuwe “ikonomie,” wat geskoei is op Jesus se narratiewe oor die koninkryk van God en die einde.

Sweet en Wilson deurbreek gedurig die intellektuele dialekte van ons dag, wat vasgeverf is in die hoek van empirisme, ten einde nuut te dink oor telos binne die narratiewe raamwerk van die Bybel. Hierbinne ontsluit telos vir hulle sowel die verlede, toekoms as die huidige teenwoordigheid van Jesus. Hyself is ons telos. Hyself is ons begin en einde. Hier en nou is Jesus ons Jubeljaar en ons hemelse feesmaal in lewende lywe. As telos is Jesus terselfdertyd ook die doel en voltooiing van die geskiedenis. Hy is die telos van God se “never-ending story” met die wêreld.

Volgens Sweet en Wilson word ons voortdurend omring deur ses vals stories, elkeen met ’n tragiese uiteinde:

  1. Apokaliptisisme, wat ’n vals einde verkwansel aangesien die toekoms eksklusief gekenmerk word deur vernietiging en chaos.
  2. Utopianisme, wat veronderstel dat die mensdom besig is om ’n perfekte wêreld tot stand te bring deur eindelose wetenskaplike en sosiale ontwikkeling.
  3. Tradisionalisme, wat meen dat stagnante godsdienstige en kulturele tradisies vanuit die verlede die enigste geldige opsies is wat klakkeloos herhaal moet word.
  4. Millennialisme, wat natuurrampe, oorloë en ander krisisse in die geskiedenis reglynig verbind aan die imminente einde van die wêreld.
  5. Ahistorisisme, oftewel, die sogenaamde “cancel culture,” wat veronderstel dat daar geen betekenis in die geskiedenis is nie, en waar nihilisme triomfeer.
  6. Messianisme, wat blindelings vaskleef aan die idee dat sekere indiwidue op die toneel sal verskyn wat die mensdom sal red van politieke onderdrukking en lyding.

Hierdie vals narratiewe het almal nuwe lewe gekry met die aanbreek van die Covid-19-pandemie. Pleks van hoop, het dit vrees, ontnugtering, nie-geloof en wanhoop regoor die wêreld versterk. Selfs kerke het plek-plek verander in oorvertellers van hierdie hooplose verhale aangesien hulle Jesus se narratiewe van die koninkryk van God misverstaan het. Daarom begelei Sweet en Wilson ons in deel twee van hierdie fassinerende boek om die Jesusverhaal op outentieke maniere vars te hoor en te beliggaam, een wat nie maar net opeindig in eschaton nie, maar in telos. “Eschaton is plot, but telos is resolution,” soos wat hulle dit stel.

Omdat die lewe in verhaalvorm afspeel, wil almal graag die uiteinde hiervan ken. Die enigste manier hoe om dit reg te kry, volgens Sweet en Wilson, is om die outeur, Jesus, op outentieke maniere te leer ken en na te volg. Wanneer Hyself die nuwe verhaal van ons lewe (her)skryf, deurbreek ons die bose kringloop van vals narratiewe oor die einde. Hulle herinner ons gedurig daaraan dat telos eerstens ’n Persoon is, en nie maar net ’n plek nie. Al wag ons steeds nog op die finale ontplooiing van God se oorwinningsverhaal, asook op Jesus se voltooiing van die taak waarvoor Hy hiernatoe gekom het, beleef ons nou reeds iets van sy volheid. Dit gebeur in ons saamwees as gelowiges, asook in ons geloofsfeeste. Dit gebeur wanneer ons besef onsself maak ook deel uit van die goeie einde van daardie einste narratief wat op grond van Jesus se dood en opstanding besig is om te ontvou. Daarom is is vreugde nou ’n onlosmaaklike deel van “the totality and the tonality of our faith.”

Ten slotte: Telos: The hope of heaven today is daardie een boek wat jy ten alle koste moet lees as jy anders wil dink oor geloof en oor die lewe. Dit is deurdag, stylvol, eenvoudig, geleerd, mooi, meesleurend en aangrypend – alles in een. Dit begelei jou tot ’n kreatiewe, geloofgebaseerde verstaan van Jesus as telos, asook van sy kerk as outentieke geloofsgemeenskap van die telos.

Beskikbaar by Takealot of op Kindle.

Prof Stephan Joubert is buitengewone professor by UV, betrokke by ekerk en ’n tentmakerleraar by Pierre van Ryneveld.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top