Onder die blaredak deur Andries Cilliers
Uitgewer: Bybel-Media, 2022
Resensent: Rethie van Niekerk
Diep bewus daarvan dat ons al meer saamleef met mense wat nie noodwendig ons geloof deel nie, nooi Andries Cilliers sy lesers om saam met hom Onder die blaredak van ’n boom te sit en geloof te bedink.
Onder die blaredak is verdeel in daaglikse oordenkings, met gedeeltes vir dieper dink tussenin. Met die dieper dink kom sake soos geloof en wetenskap, die opstanding en dies meer ter sprake.
Cilliers fokus op die wortels van geloof, eerder as die sigbare aspekte daarvan. Hy hou geloof – en sy lesers – saggies vas. Jy voel deurgaans soos ’n reisgenoot. Nêrens word geloof as wapen gebruik nie. Nooit kry jy die belewenis van iemand wat met ’n megafoon op ’n straathoek staan en jou met hulle geloof verskreeu nie. Daar is geen krampagtige angstigheid om te oortuig nie, maar eerder die ervaring van saam sit en geloof bedink. Onder die blaredak is saam met die leser soekend, eerlik oor die nié-weet-nie van geloof, asook oor die foute van geloof.
Lees ook: Nuwe boek: ‘God se genade is groter as my gemors’
Wanneer Cilliers skryf oor swaarkry en oor genade, tref die integriteit en diep-gewortelde geloof diep.
Hierdie is een van daardie boeke wat jy wil deel. Ek sal graag een van my vraende vriende se mening oor Onder die blaredak hoor.
Beskikbaar by Bybel-Media.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqberha.
