Ragab deur Anzil Kulsen
Uitgewer: Luca, 2023
Resensent: Rethie van Niekerk
Ragab is die eerste in ’n nuwe reeks oor vroue in die Bybel. Hierdie geïllustreerde verhaal (“graphic novel”) “is geskryf om hoop en inspirasie vir meisies te bring”, hoewel seuns net so lekker sal saam lees en geïnspireer word.
Ragab se verhaal begin wanneer sy nog ’n klein dogtertjie is. Teen die agtergrond van Ragab se grootwordjare, hoor ons ook die verhaal van Israel.
Deurgaans is die onderliggende vraag: “Wie se God is die grootste?”
Ek wou graag nóg lees van Ragab, juis tydens die hoogspanning van die verhaal. Ragab se plek in Jesus se geslagsregister word ook byna terloops genoem. Weereens sou ek graag juis meer daaroor wou hoor.
Moeilike terme soos “soenoffer”, “sedes”, en, natuurlik, “gesellin” sal deur ouers verduidelik moet word.
Ragab is ’n heerlike boek vir jong lesers, veral dié wat traag is om te lees. Dit maak die karakters en verhaal van die Bybel lewendig en nooi die lesers in die karakters se avonture in.
Ek kan nie wag vir die ander boeke in hierdie reeks nie!
Beskikbaar by Lapa.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqberha.
