Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Twee Stellenbosch-oumas is eerste om in een staptog twee ‘bene’ van die gewilde Pelgrimstog van Hoop te voltooi.
Twee fikse Stellenbossers, Amanda Griessel en Desiré Boshoff, klink ’n glasie by die ligtoring op Mosselbaai op hul prestasie as die eerste pelgrims wat twee ‘bene’ van die gewilde Pelgrimstog van Hoop in een staptog gestap het. Foto’s: Verskaf

Twee oumas stap hele 600 km op Pelgrimstog van Hoop (met min blase!)

Twee fikse Stellenbossers, Amanda Griessel en Desiré Boshoff, is die eerste stappers om in een staptog twee ‘bene’ van die gewilde Pelgrimstog van Hoop kaf te stap.

Al het beide twee volwasse seuns en twee kleinseuns elk, mag die benaming ‘ouma’ ’n mens dalk ’n bietjie op ’n dwaalspoor sit. Dié twee Stellenbossers sit allermins stil!

Op hulle kerfstok is klaar afgemerk die volle Spaanse Camino asook staptogte in die Baviaanskloof en Wildekus. En hulle ry gereeld saam bergfiets. Amanda (56), ’n deeltydse apteker, en vriendin Desiré (58), hou van aan die gang bly.

Nou is ook afgemerk op hulle emmerskoplysie ’n epiese stap van 600 km binne 30 dae langs afgeleë grondpaadjies in die Boland, Overberg en Tuinroete. 

Wat is die Pelgrimstog van Hoop?

Die Pelgrimstog van Hoop met sy verskillende roetes is die geesteskind van die teoloog dr Frederick Marais. Op 29 Maart wens hy die twee geluk op die staproete se Facebookblad: “Dit is ’n fantastiese prestasie en ’n eerste op die Pelgrimstog van Hoop kom ons kyk wie kan dit nadoen mag daar die hoop diep gaan sit.”

 

Rugsak op die rug het die twee vrou-alleen op 27 Februarie vanaf Boschendal-wynlandgoed naby Stellenbosch begin voetslaan rigting Kaap Agulhas. Sestien dae en die oorsteek van sterk stroompies en plek-plek oorgroeide bergpaaie op dié 320 km-roete later is die mylpaal bereik. Na ’n dag se rus vat die twee toe ’n huurmotor na Uniondale om vandaar ’n verdere sowat 300 km via plase en ou kerkies na die ligtoring op Mosselbaai te stap. Hierdie keer het hulle die opsie gekies om hulle rugsakke te laat aanry en met dagsakke te stap.

Nie een dag het hulle onveilig gevoel nie …
By die eindpunt van die Kaapse roete … Kaap Agulhas.
Vir ’n paar dae op die Tuinroete het hulle saam gestap met ’n paar mede-pelgrims

Vir ’n paar dae op die Tuinroete het hulle saam gestap met ’n paar mede-pelgrims – ’n dominee van Queenstown, ’n afgetrede siviele ingenieur van Plettenbergbaai en ’n Kaapse lektor van CPUT – maar meestal was hulle twee op hulle eie.

Nie een dag het hulle twee vroue onveilig gevoel nie. Só vertel Amanda ’n paar dae later toe Kerkbode met haar gesels.

Jy ontmoet mense soos Miesie van Ezeljacht-plaas…

Pelgrimstog bring hoop vir mense langs staproetes

Daar is pragtige natuur en hulle kom by plekke waar hulle nie andersins sou kom nie, maar vir altwee staan die meeste uit die gesels met mense wat hulle langs die pad ontmoet het. Name is daar te veel om op te noem … .

Amanda sê hulle het algaande besef die pelgrimsroetes bring hoop vir die mense van die gemeenskappe waarlangs dit loop, veral die Tuinroete. Van die boere en herbergiervroue het hulle vertel hoe dankbaar hulle is om deel hiervan te kan wees.

Miesie van Ezeljacht het haar getuienis gedeel saam met heerlike roosterkoeke en tuisgemaakte appelkooskonfyt.

Lees ook: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

“Ons het onmiddellik begin voel of ons deel is van iets groters in Suid-Afrika … ’n Mens raak so negatief oor ons land, maar die stap het vir ons twee hoop teruggebring,” sê Amanda.

Desiré stem saam. Sy vertel: “Toe ons dit beplan het, het ek gesê ek stap vir hoop in ons land … en die pelgrimstog het nie teleurgestel nie. Die oplewing op die platteland en die ongelooflike mense wat ons ontmoet het, het my weer hoop gegee vir ons land.”

Die motto van die Pelgrimstog van Hoop is mos ‘as jy loop, het jy hoop’.

Pelgrimstog van Hoop kry vierde roete

Marais vertel toe hulle in 2014 begin het om die eerste roete te beplan was die oorspronklike idee om ’n soortgelyke ervaring te skep as wat ’n mens kry op die Spaanse camino.

Hy verduidelik vir Kerkbode die idee was die daarstel van verskillende roetes wat almal eindig by die ligtoring op Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika as ’n tipe landmerk. Daar is ook gekyk om historiese merkers in te sluit soos ou sendingkerke en -gemeenskappe.

Die eerste roete* is die Overberg een vanaf Robertson en die tweede was die Kaapse een wat die twee Stellenbossers nou gestap het (daar is ook ’n 500 km opsie wat op Kaappunt begin in plaas van Stellenbosch). Tweede was die Tuinroete-een. Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman is pas terug van ’n verkenningstap vir die jongste beplande toevoeging: ’n 16 dag-roete van Mosselbaai se ligtoring deur die Overberg tot by die een suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas (sien die video onder). Van Uniondale tot daar is sowat 600 km.

 

Veiligheid op pelgrimstog

Oor die veiligheid op die roetes noem hy dat die volgende maatreëls in plek is:

  • Die rooi pelgrimshoede wys vir almal langs die roete jy is ’n pelgrimstapper.
  • Die herbergiers weet vooraf van jou koms en jy het ook hulle selfoonnommers.
  • Groepe van twee of meer word verkies – nie enkel stappers nie.

Tuinroete se pelgrimstog raak gewild

Die staproetes raak al meer gewild, veral na joernalis Ernst Grundling se bekendstelling daarvan op TV soos met die kykNET reeks Elders: Tuinroete verlede jaar. Marais vertel mense kom dikwels terug om nog ’n roete te stap as hulle eers een gestap het. Van net 50-100 pelgrims per jaar het deelname aan die staproetes nou na tussen 500 en 600 per jaar geklim. Daar was sover nog niemand wat bedreig gevoel of besteel is nie.

Lees ook: Wat kan ons uit die toenemende gewildheid van pelgrimstogte in Suid-Afrika leer?

Hy is baie opgewonde oor die nuwe en laaste staproete wat hulle ook vanjaar mee besig is. Dié een gaan loop deur die Cederberge vanaf Citrusdal langs die ou ossewapad tot op Tulbagh, vandaar tot op Wellington en sluit dan by die Kaapse roete aan.

Die uitlê van so ’n roete is nogal ’n groot onderneming, brei hy uit, maar in die proses “leer ’n mens ongelooflike goed oor ons land en ons spreektaal.”

Marais vertel hulle hoop om hierdie roete van tussen 500 en 600 km ook later vanjaar bekend te stel.

  • Die berig is aangepas na publikasie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top