Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Willie Van Aswegen (1933 – 2023)

Willem Herklaas van Aswegen is op 13 Februarie 1933 gebore in Johannesburg. Sy vader was Gert Johannes Jacobus van Aswegen wat as bouer ’n bestaan maak. Willie se moeder was Maria Magdalena Britz, ’n moeder wat haar gesin met liefde opvoed en versorg. Willie begin in 1940 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Bramley in Johannesburg en daarna in die Helpmekaar Hoër Seunskool in Johannesburg waar hy in 1951 matrikuleer. Hy is ook ’n aktiewe lid van die CSV en ondervoorsitter. In 1952 begin hy werk as klerk by ’n groothandel aptekersfirma en in 1957 is hy ’n klerk by die skoolraadskantoor in Parow. Hy trou op 14 Julie 1956 met Suzette Verster en uit die huwelik is sewe kinders gebore: Gert, Kenneth, Cora, Cecile, Wilma, Willem en Marieka.

Die roepstem om predikant te word bly sterk in sy gemoed leef en hy behaal in 1959 die BA-graad en is in sy studiejare ondervoorsitter van die Admissiebond op Stellenbosch. In 1958 word hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch. Na vier besondere jare van geestelike groei word hy aan die einde van 1961 as proponent gelegitimeer. Op 25 Maart 1962 word hy met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Kemptonpark-Noord, Hierna loop sy pad op 1 Julie 1964 na die NG Gemeente Riebeeckstad in Welkom, waar hy op die Vrystaatse goudveld die blye evangelie verkondig. In die tyd word ’n nuwe kerkgebou in die gemeente opgerig.

Op 2 Julie 1969 kom ’n roepstem na die NG Gemeente Blyvooruitzicht in Kimberley, waar hy ses jaar lank in die diamantstad gelukkig woon en werk. Die Here beskik dat hy op 17 Januarie 1975 ’n roepstem gehoorsaam na die Goudstad, toe hy leraar word van die NG Gemeente Westdene in Johannesburg. Hier beleef hy die Westdene-busramp waar 42 kinders verdrink, waarvan ses uit die NG Gemeente Westdene kom.

Ds Willie se belangstelling en harde werk in die barmhartigheidsdiens, besorg aan hom ’n PSD-pos in die Sinode van Suid-Transvaal, waar hy op 22 Maart 1994 bevestig word en daar werk tot hy op ouderdom 65 jaar op 30 April 1998 emeriteer.

Die egpaar vestig hulle in Birchleigh in Kemptonpark, waarna hy in 2000 verhuis as pastorale hulp na die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig, met opdrag die bediening van bejaardes in die Stilleweë-aftreeoord in Kimberley. Daar is min bekend oor die laaste twee dekades van sy lewe en hy sterf op 14 Februarie 2023.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top