Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Statistiek wys ook dat 97% siggestremde persone in SA werkloos is en dus nie die ontwikkeling van hul eie toeganklike lees- en leermateriaal kan bekostig nie. Pionierdrukkery bedien dus ’n baie klein, minder bevoorregte mark, met ’n duur, maar noodsaaklike produk vir geletterdheid, vertel Schalk Hugo, die uitvoerende hoof. Foto: Verskaf

FOKUS OP SIGGESTREMDHEID: Pionierdrukkery ‘bedien mark met noodsaaklike produk vir geletterdheid’

Ongeveer 9.3%  van die SA bevolking persone met swak sig en 1.7% met ernstige siggestremdhede, volgens sensusdata. Pionierdrukkery fokus daarop om mense wat nie meer gewone drukskrif kan lees nie, dieselfde toegang te gee tot hul gunsteling-leesstof. 

Dié organisasie het in 2021 befondsing vanaf die Nasionale Lotery ontvang om ’n oudiotydskrif en -boekklubdiens vir siggestremdes te begin, vertel Schalk Hugo, die uitvoerende hoof. Kerkbode wou meer by hom hoor:  

 Kerkbode (KB): Talle media-huise (Kerkbode inkluis!) het groot uitdagings rondom die skep van nuwe inkomstestrome om uitgediende sakemodelle te vervang. Watter aanpassings en/of innovasie het vrugte afgewerp by julle in hierdie verband en wat is die enkele belangrikste diens wat julle lewer in terme van julle eie volhoubaarheid?

Schalk Hugo (SH): Pionierdrukkery is ’n nie-winsgewende en publieke weldaadsorganisasie en moet voortdurend aanpas om volhoubaar aan ons missie (laat blindes lees) te voldoen. Ons fokus en spesialiseer daarin om gelyke onderwysgeleenthede vir siggestremdes te skep deur alle soorte leer- en leesmateriaal in braille-, oudio- en grootskrifformaat, vir die land se 22 skole vir blindes, te vervaardig. Hierdie lees- en leermateriaal sluit in spesialiswerk soos nasionale eksamenvraestelle, musiek, wiskunde, wetenskap, rekenaars, taktielgrafiese sketse en geografies kaarte, waarvan Pionierdrukkery die enigste verskaffer in die land is. Dws ons hoof inkomstestroom is vanaf die onderwysdepartemente, terwyl ander inkomstes van die privaatsektor kom, deurdat ons bv nasionaal vir Spur-restaurante hulle spyskaarte in braille druk. Ons word ook genader om unieke projekte aan te pak deurdat ons bv die 1933-, 1953-, 1983- en 2020-Afrikaanse Bybelvertalings in braille ontwikkel het vir Bybelgenootskap van SA. Laastens wil ons, ons impak aan ons begunstigdes vergroot en daarvoor doen ons baie meer bewusmaking en uitreiking om medewerkers en donateurs te kry wat ons missie wil ondersteun. Die oudiotydskrifte- en boekklubdiens is tans gratis, maar ’n intekenfooi word vir die toekoms oorweeg, sodat ons ten minste die koerierkostes dek, want die posdiens van die SA Poskantoor is nie meer betroubaar nie.

Die 22 skole vir blindes wat ons bedien het gemiddeld tussen 250-300 siggestremde leerders, vertel Schalk Hugo, die uitvoerende hoof van Pionierdrukkery (www.pioneerprinters.org.za). “Daar is ten minste een skool vir blindes in elke provinsie en dan het ons natuurlik ook siggestremde leerders in hoofstroomskole vir wie ons ook toeganklike leermateriaal op aanvraag voorsien.”

KB: Wat is die omvang van die probleem van siggestremdheid in ons land. Anders gestel, die grootte van die mark waarin julle werk?

SH: Die 22 skole vir blindes wat ons bedien het gemiddeld tussen 250-300 siggestremde leerders. Daar is ten minste een skool vir blindes in elke provinsie en dan het ons natuurlik ook siggestremde leerders in hoofstroomskole vir wie ons ook toeganklike leermateriaal op aanvraag voorsien.  Volgens SA sensus is ongeveer 9.3%  van die SA bevolking persone met swak sig en 1.7% met ernstige siggestremdhede. Die statistiek wys ook dat 97% siggestremde persone in SA werkloos is en dus nie die ontwikkeling van hul eie toeganklike lees- en leermateriaal kan bekostig nie. Pionierdrukkery bedien dus ’n baie klein, minder bevoorregte mark, met ’n duur, maar noodsaaklike produk vir geletterdheid. Dws konstante aanpassing tov koste-effektiewe produksieprosesse is nodig, asook voortdurende bewusmaking vir ondersteuning van hierdie skaars en spesialis-dienste. Vir siende persone is die lees van ’n nuwe of ou tydskrif vanselfsprekend, maar vir ’n siggestremde is dit onmoontlik.

KB: Hoe bepaal julle watter soort inhoud daar aanvraag is onder diegene wat julle diens benut?

SH: In ’n projek soos die oudiotydskrifte- en boekklubdiens het ons gefokus op die tydskrifte wat ons al vir jare in oudioformaat opneem en wat gewild is onder die lesers. Ons het ook gaan kyk dat ons nie ander organisasies soos die “SA Library for the Blind” en “Tape Aids for the Blind” se inhoud in soortgelyke dienste dupliseer nie, want dit is nie koste-effektief nie. Daarom fokus ons in hierdie projek op ’n verskeidenheid Afrikaanse tydskrifte en boeke. Soms moet ’n projek binne perke aangepas word om aan die donateur se kriteria te voldoen. Dieselfde aanvraag vir tydskrifte, wat onder siende persone bestaan, bestaan ook onder siggestremdes. Die verskil is dat siendes kan kies en keur watter tydskrif hulle wil lees, terwyl die siggestremde nie dieselfde keuses het nie, agv ontoeganklikheid. Pionierdrukkery strewe daarna om gelyke geleenthede tot toeganklike leesstof daar te stel, maar ons kan dit net met ondersteuning van medewerkers doen. 

KB: Julle werk reeds saam met organisasies soos Badisa en ACVV ouetehuise en dienssentrums in die Wes-Kaap, Suid-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap. Beskryf bietjie die aard van die samewerking en die diens vanaf ’n gebruikershoek? 

SH: Eerstens is Badisa en ACVV geskakel om te verneem of hulle ouetehuise en dienssentrums ’n behoefte het aan toeganklike leesstof vir hul siggestremde inwoners en of ons hulle self kan skakel. (Siggestremdes sluit ook in blindes, swaksiendes en persone wat nie meer gewone drukskrif kan lees nie). Die kontaklyste is aan ons voorsien en die oudiotydskrif- en boekklubdiens is bekendgestel dmv ’n e-pos aan die bestuurders van ongeveer 220 ouetehuise en dienssentrums. ’n Aantal CD-kopieë van oudiotydskrifte is aan die ouetehuise gepos wat belangstelling getoon het.  Die ouetehuise het ook gehelp om belangstellende siggestremde inwoners se oudiotydskrifintekenvorms te voltooi en aan ons terug te stuur. Nadat die siggestremdes se intekenvorms ontvang is, het ons begin om weekliks oudiotydskrifte (Huisgenoot, Sarie, Kerkbode, Lig, Kerkblad, Vroueblad, Slingervel) op CD of “dropbox” aan lesers te stuur.  Dws party weke bestaan die oudiotydskrifuitgawe slegs uit die Huisgenoot en ander weke uit al die tydskrifte op een cd, afhangende van die tydskrif se publikasiedatum. Ons ontvang ’n verskeidenheid kommentaar oor die oudiotydskrifdiens, want elke individu se smaak, perspektief, tegnologiese vermoë, geduld, ens. verskil.  Die beskikbaarheid van toerusting en tegnologie speel ook ’n rol, deurdat sommige ouetehuise en lesers nie altyd toegang tot ’n cd-speler of die internet of voldoende data het nie. In baie gevalle is Pionierdrukkery se oudiotydskrifte die enigste beskikbare toeganklike leesstof vir siggestremdes en word Pionierdrukkery gou-gou geskakel indien die lesers nie hul oudiotydskrifte ontvang het nie.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top