Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elders gelees: Skrywer open diepgaande perspektiewe oor gelykenisse in sy “annerlike”, eiesoortige Afrikaans 

Om ʼn boek oor die gelykenisse te skryf, vereis diepte insig in die Bybel. Die verhale is vertel in ʼn konteks wat baie duisende jare van ons s’n af lê en wat toé al vir die hoorders baie vreemd op die oor geval het en dikwels misverstaan is, skryf Johann Symington.

Johann Voges laat die gelykenisse in sy “annerlike”, eiesoortige Afrikaans helder en duidelik spreek in ons dag! Hy spandeer baie tyd om Jesus se stories te ontleed in die konteks waarin elkeen vertel is op grond van die nuutste navorsing oor die kulturele- en sosio-politieke agter-gronde waarteen Jesus sy verhale vertel het. Jesus was ʼn meesterlike verteller en soos met enige goeie storie het Hy sy hoorders uitgedaag om elke storie in hulle eie lewe daadwerklik van toepassing te maak.

Op ʼn baie insiggewende en unieke wyse bied Johann sy interpretasie oor die betekenis van Jesus se preekstories aan en laat óns opnuut daaroor nadink. Hy open diepgaande nuwe perspektiewe. Elke gelykenis word op ons tyd van toepassing gemaak, sodoende word dit ʼn aangrypende preek oor ‘n komplekse preek wat die twee wêrelde op skitterende wyse vandag bymekaar bring.

 

Ek is oortuig daarvan dat vir dié wat na ʼn vars en oorspronklike verstaan van die gelykenisse verlang, dit nét die boek is. Dit bied die nodige insig, inspirasie, en uitdaging om Jesus vandag met hernude entoesiasme en toewyding te wil volg.

Ek wou nog altyd my hand aan die gelykenisse waag, maar die moed het my ontbreek. Nou het dié oud-kollega van my dit gedoen. ’n Absolute moét vir elkeen se boekery. Mag jou boek die waarde van korale oortref!

Meer oor die skrywer: Johann Voges het in 2019 morsafgetree na 40 jaar in die bediening en woon tans in Knysna. Hy was in twee ge­meen­tes voltyds en drie deeltyds. Hy is ʼn pa van vyf eie kinders en drie aangetroudes en ʼn oupa van vyf klein­kinders en vir 47 jaar ge­troud met die ma en ouma van hulle almal. Martie is ongelukkig in April 2021 oorlede na ʼn 4 jaar se sinkplaatpad wat sy met kanker geloop moes kry. Na sy aftrede het hy meer voltyds begin skrywe en publiseer Daarom kan ek sing (CUM Boeke 2016) en Miskien is daar hoop (CLF 2020) en Anderkant twyfel (CLF 2022) en Jesus se preekstories (Groep 7 Drukkers 2023). Hy was ook mede­skrywer in Praat met my (Dibukeng 1991), ʼn Bietjie reën (BybelMedia 2019), Mansgenoeg (Carpe Diem Media 2020) en ʼn Hand vol hoop (Bybel­ Media 2021).

  • Resensent: Johann Symington is emeritus oud-kollega van Voges by Lynnwood gemeente (1982-1990)

  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystellings of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top