Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ek verwys na Kerkbode se verslag van Dag Drie van Wes-Kaap sinode wat handel oor die huwelik en seksuele. Getrou aan Wes-Kaapland se “ruim huis” filosofie wat veel ruimer is as die Woord van God, en hulle gevaarlike stokperdjie van “teologiese diversiteit”, was die primêre vraag in die sinode se verslag oor die huwelik en seksualiteit blykbaar nie: “Wat sê die Bybel daaroor?” nie, maar eerder “wat sê die moderne gesekulariseerde mense oor die huwelik?”
Kerkbode rapporteer oor die verslag as volg: “Hoe dink NG lidmate oor die huwelik?” Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, het die teologiese navorser Marileen Steyn onderhoude gevoer met ’n groepie van 32 NG lidmate. Die sinode se standpunt oor die huwelik word dus nie meer gevorm deur die Bybel se lering oor die huwelik nie maar deur die bevindinge van ’n kwasi-wetenskaplike navorsing oor lidmate se opinie van die huwelik en die seksuele verhoudinge.
KYK OOK: Hoe beleef afgevaardigdes Sinode van Wes-Kaapland 2023?
Eerstens behoort ’n “teologiese navorser” wetenskaplike navorsing uit die Bybel te doen, nie sosiologiese metodes oor wat die verskillende groepe mense daarvan dink nie.
Tweedens sou hierdie navorsing selfs uit sosiologiese oogpunt ook die toets van wetenskaplikheid druip. Hierdie “teologiese navorser” gebruik slegs 32 respondente om die sinode met ’n wetenskaplike verslag te leer hoe ongeveer 700 000 NG lidmate oor die huwelik dink. Geen wetenskaplike sal bereid wees om die bevindinge van so ’n navorsingsmetodiek ernstig op te neem nie.
Derdens rappoteer Kerkbode as volg: “Die respondente sluit mans, vroue, geskeides, getroudes, gays en heteroseksuele mense van die platteland asook stede in, het Steyn tydens ’n oggendsessie op die derde dag van die Wes-Kaaplandse sinode verduidelik”. Die 32 respondente sluit dus minstens verteenwoordigers uit 12 groepe (6 plus 6) in? Dit beteken die navorsing is gebaseer op minder as drie respondente per groep??
Vierdens word daar blykbaar ook geen melding gemaaak van enige kontrolegroep in hierdie “teologiese navorsing” nie. Ek vermoed slegs Wes-Kaapland sal waarskynlik tevrede wees met so ’n onwetenskaplike verslag … mits dit natuurlik sê wat die sinode graag wil hoor?
Ek vra maar net: Waar is die goeie ou dae toe die kerk se debatte nog gegaan het oor: “Wat leer die Woord?” en nie oor “Wat dink die mense?” nie?

Dankie Theo. Wanneer sulke uitsprake deur haar voor sinodegangers gelewer word, sekerlik vir beïnvloeding van denke(dit ís mos waarvoor navorsing is) dan kry ek benoud soos toe ek die woorde “My aim is to dismantle the solid church” van n bekende leiersfiguur gehoor het.
Dr Danzfuss is honderd percent reg. Deesdae gaan Sinode besprekings oor Wat se Julle en ook wat se die mense. Dit gaan nie meer oor wat se die Woord nie want die Woord is nie meer die vertrekpunt nie en word ook nie beskou as gesaghebbend nie.
Ek wil aansluit by Theo Danzfuss. Daar is ook in ‘n literatuurstudie van teoloë vermeld van die “liggaamsteologie”. Waarom nie eerder bly by die Gereformeerde teologie nie. Gereformeerde belydenisskrifte spreek hul duidelik uit oor die huwelik. Dit is dan ook die Gereformeerde belydenisskrifte wat ons met ons ampseed beloof het om te leer en te onderhou.
Dit is ook vir my opmerklik dat hulle wil wegbeweeg vanaf die “moenies en kannies” – beteken dit dalk ook ‘n wegbeweeg vanaf die Skrif wat normatief is? Die Skrif wat as lig vir ons moet wys wat reg en verkeerd is.
Die aanhaling van “Die glorie van God is ’n mens wat floreer” kan net waar wees waar dit getrou is aan die Woord. Deur in gehoorsaamheid aan die Woord, vrug te dra wat by die bekering hoort. God word tog nie geëer deur ‘n liggaamlikheid wat sonder perke uitgeleef word nie.
‘n Kerk waar die die Woord maar net nog ‘n boek geword, is nie meer kerk nie.
Gerhard Mahne.
Ek dink Theo Danzfuss is reg in sy waarneming oor onwetendkaplike navorsing wat voor die sinode van Wes-Kaapland gedien het. Kan ons sinodale ontwerpspanne nie asb. meer krities evaluerend kyk na dit wat by sinodes dien nie. Teologiese navorsing wat voor ‘n hoogaangeskrewe vergadering ter tafel kom behoort immers die toets van wetenskaplike navorsing te slaag, nie waar nie? Wat natuurlik ook jammer is is die feit dat wat die Bybel oor die tersaaklike onderwerp sê blykbaar ook nie bespreek is nie. Ons is dan ‘n sinode wat aan die Woord vd Here vashou.
Wat Theo uitwys is dat die Wes-Kaapse Sinode wegbeweeg het van die Woord en die Belydenis van die kerk. Die belewenis en redenasies van die mens word nou die norm.
Dit is die hoofrede waarom baie gemeentes doleer en baie lidmate reeds die NG kerk verlaat het. Dit is ook dieselfde rede waarom die grootste deel van die Anglikaanse kerk twee weke gelde by die GAFCON’ konferensie in Kigali in Rwanda met ‘n oorweldigende meerderheid gestem het vir ‘n mosie van wantroue in die Aartsbiskop van die kerk, en waarom 1800 Metoidiste gemeentes in die VSA die afgelope tyd weggebreek het van die Metodiste Kerk.
Die Here self sorg vir die behoud van sy kerk, ten spyte van groot getalle wat die Here met hulle monde eer, maar wie se harte ver van Hom af is.
Ek sluit graag aan by ds Danzfuss se stellings oor die “ruim huis” wat hier geskep word. Jesus Christus se Huis is nie ruim nie: net die breë en smal weg (géén middeweg); net bokke en skape (geen middelgroep); wyse en dwase maagde (geen tussengroep); hemel of hel (geen vagevuur eers nie). Trouens, wie nie koud óf warm is nie maar, lou maak Jesus so naar dat Hy hulle wil uitspoeg (Openb 3:16)… genadiglik is daar nog tyd vir bekering …
Ek wil heeltemal verskil van Theo, nie oor hierdie saak nie, dit was vir my net n bespreking en nie n besluit nie, die ander besprekings het alles oor Jesus gegaan, diep in die Woord gedelf, selfs die laaste bespreking het diep oor die Woord van God gegaan, om soiets te gryp en dit te veralgemeen, ek glo Theo het ook genoeg kans gekry om sy standpunt te stel. Ek sal beslis nie my kan vereenselwig met so n stelling nie, ek sal wel saamstem dat.meer.respondente genader moet word oor huweliksake.
Ons weet mos nou al wat die Woord sê. Dolerendes wil dit net nie hoor en aanvaar nie.
Theo se opmerking oor die ‘goeie ou dae’ is so hartseer. Ek dink dit is presies die moeilikheid met ons ‘kerk’. Dit is so maklik en ‘cozy’ om in ons binnekamer en vergaderings met die Bybel besig te wees – die maklike akademiese gesprek oor mense en dinge. Dis iets helemal anders om uit te gaan en met daai mense en dinge pastoraal besig te raak. Dis vir my soos ‘n rugby span wat die heel tyd in die kleedkamer besig is met spanpraatjies en die reël bestudeer, sonder om ooit op die veld uit te draf en die game te loop speel. Dit herinner my aan Piet Naude se storietjie in sy boekie ‘Stories vir die Lewe’ :
Kyk in Sy Oë
“Ons weet julle steek ‘n verraaier hier in julle dorp weg!” blaf die bevelvoerder van die besettingstroepe in die gesig van die burgemeester. “As julle hom nie voor die einde van die week aan ons uitlewer nie, sal ons die inwoners van jou dorp op elke moontlike manier teister en intimideer. En jy weet wat dit kan beteken.”
Sy aanklag was nie uit die lug gegryp nie. Die dorpie het inderdaad ‘n vlugteling weggesteek. Maar almal het geweet hy is onskuldig. Almal het ook geweet dat die Nazi’s sou woord hou as hulle die man nie uitlewer nie. Dit was die welsyn van die hele dorp teenoor die lewe van een onskuldige man.
Dae lank het die dorpsraad met die probleem geworstel, sonder om ’n oplossing te bereik. Uiteindelik besluit hulle dat die priester en die Woord nou maar uitsluitsel moet gee. Daar was nog net een dag oor.
Daardie hele nag het die burgemeester en die priester beraadslaag met die Bybel oop tussen hulle. Toe blaai die priester na die teks wat sê dat dit tot die voordeel van die gemeenskap is as een man vir die volk sterwe (Joh. 17:14). Hy besluit toe om maar die woorde op hulle situasie toe te pas.
Die volgende oggend het die burgemeester die vlugteling aan die Nazi’s oorgelewer. Terwyl hy doodgemartel word, kon sy gille in elke huis in die dorpie gehoor word. Baie jare later het daar ‘n wyse man in die dorpie aangekom en reguit na die burgemeester gegaan. “Hoe kon julle dit doen?” vra hy. “Daardie man was een van die grootste kampvegters vir geregtigheid en julle het hom aan die vyand uitgelewer om gemartel en vermoor te word.” “Maar wat moes ek gedoen het?” pleit die burgemeester. “Ek het tog die priester se hulp gevra en hy het in die Woord gekyk vir ‘n antwoord.” “Dis waar julle die fout gemaak het,” antwoord die wyse. “Julle het in die Bybel gaan kyk sonder dat julle ook in die man se oë gekyk het.”