Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Afgevaardiges het geleentheid gekry om die peiling aan hulle tafels te bespreek.

Só praat lidmate oor die huwelik (Dag 3 van die Wes-Kaapse Sinode) 

Hoe dink NG lidmate oor die huwelik?

Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, het die teologiese navorser Marileen Steyn onderhoude gevoer met ’n groep van 32 NG lidmate.

Sy het vrae gevra soos “Wat sê die wêreld oor die huwelik?”, “Wat sê jy?” en “Wat sê die kerk?”

Die respondente sluit mans, vroue, geskeides, getroudes, gays en heteroseksuele mense van die platteland asook stede in, het Steyn tydens ’n oggendsessie op die derde dag van die Wes-Kaaplandse sinode verduidelik.

LEES OOK: Dag 2 van Wes-Kaapse sinodesitting – Leraars wil meer sensitief wees, nuwe assessor verkies, sinode gepeil oor veerkragtigheid

Die respondente het eenderse idees, blyk dit. “Dit sê vir ons daar is universele sienings oor die huwelik,” het Steyn gesê. Met dié verskil, dat daar gay lidmate is met diep seer oor die taal wat hulle in die kerk oor hulle verbintenisse hoor, aldus Steyn. “Ek voel soos die monster wat afgedruk wil word en die kerk is die wag,” het een genoem. ’n Ander het genoem dat die Bybel aggressief voel.

Steyn se terugvoer het deel gevorm van die Wes-Kaapse Sinodale Taakspan Leerstellige en Aktuele Sake (STLAS) se aanbieding oor hul studie rondom die onderwerp die huwelik en menslike seksualiteit, ’n omstrede onderwerp binne die NG Kerk. 

Afgevaardiges het geleentheid gekry om die peiling aan hulle tafels te bespreek.

LEES OOK: Nuwe moderator, Mbeki se 8 punte en 11 afgevaardigdes wys verskeidenheid (Dag 1 van Wes-Kaapse sinodesitting opgesom) 

’n Literatuurstudie oor die werk van teoloë soos John Witte en James Nelson (“liggaamsteologie”) was deel van die verslag. Dr Nadia Marais het dit kortliks behandel.

Marais het gewys daarop dat hierdie gesprek binne die NG Kerk nie in isolasie plaasvind nie. Dit geskied binne ’n konteks waar die kerk se insette ook gevra word rondom die opstel van ’n nuwe huwelikswet wat poog om die diskriminasie te vermy wat in die bestaande huwelikswetgewing voorkom, aldus ’n uitspraak van die betrokke minister. Marais doseer Sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

LEES OOK | SGV:‘Daai ruimte wil ons nie skep in Goudland’

Dr Pieter van der Walt, die STLAS-sameroeper, het afgevaardigdes daarop gewys dat die navorsing deel vorm van voortgaande gesprek binne die kerk. “Ons luister onder leiding van die Woord en die Gees na mekaar,” het Van der Walt gesê.

Marais het die vergadering uitgedaag om na te dink oor die taal wat ons gebruik wanneer ons praat of nadink oor die huwelik. Dit is dikwels ’n geval van “moenies en kannies”, het sy verduidelik. “Hoe kan oor die huwelik gepraat word as iets wat floreer … wat gemaak is om te seën?” wou sy weet. Dan sluit sy af met ’n aanhaling van die kerkvader Irenaeus: “Die glorie van God is ’n mens wat floreer”.


Praat saam: Kerkbode moedig ons oop, respekvolle en opbouende gesprek in die kommentaarruimte hieronder aan.

Ons verwyder kommentaar en gespreksgenote volgens die volgende riglyne:

  • Kommentaar wat ander se geloof en Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie.
  • Kommentaar wat ander beledig, ook wanneer dit beskryf word as ’n vorm van godsdienstige vermaning.
  • Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
  • Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
  • Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
  • Gespreksgenote wat die bladsy oorneem om ’n eie agenda af te dwing. Dit sluit onder meer in om herhaaldelik aan te dring daarop dat sekere onderwerpe bespreek word, byvoorbeeld om voortdurend gesprekke te begin oor Kerkbode se riglyne vir gesprekvoering en hoe dit toegepas word.
  • Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

6 thoughts on “Só praat lidmate oor die huwelik (Dag 3 van die Wes-Kaapse Sinode) ”

  1. Francois Deyzel

    Sou mens die ondervra van slegs 32 lidmate kan beskou as navorsing deur n navorser? Dis vir my moeilik om te verstaan hoe soiets voorgelê kan word.

  2. Die volgende stellinge behoort deur die sinode ondersoek te word en die bevindinge deurgestuur te word na die algemene sinode:
    1. Geslagtelike omgang tussen gays is sonde, met of sonder n sg verbintenissertifikaat.
    2. Die onnatuurlikheid van homoseksualiteit is n aanstoot vir christene. Lev. 18:22; 20:13; Rom1;27
    3. Om selfdegeslagsverbintenisse, n huwelik te noem, is laster.

  3. Marileen Steyn het vrae gevra soos “Wat sê die wêreld oor die huwelik?”, “Wat sê jy?” en “Wat sê die kerk?” Maar …. waar is die heel belangrikste vraag: “Wat sê die BYBEL”?

  4. Bernhard Ficker

    Interessant dat die vrae wat gestel is gaan oor: Wat se Jy; Wat se die wereld; Wat se die kerk? Maar nerens Sien Ek die vraag: Wat se die Bybel nie. Hoekom nie?

  5. Marileen Steyn

    Vriende,
    RE: Die Huwelik in die kerkbanke
    Daar was verdere navrae oor die navorsing en die omvang daarvan. Ons gee graag meer inligting.

    Die data het bestaan uit onderhoude met 32 lidmate. Die vraag ontstaan hoe so ‘n grootte verteenwoordigend kan wees? In navorsing onderskei ons tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing. Kwantitatiewe navorsing werk met statistieke en groot getalle. Dan moet jy met ‘n baie groter groep werk. Kwalitatiewe navorsing werk met die inhoud en ontleed dit volgens die aard en temas van die inhoud. In sulke navorsing werk ons met dit wat “saturation” genoem word. Teen die tyd wat mens herhaaldelik dieselfde temas in die onderhoude begin kry, is die data versadig en sal mens nie sommer nuwe inhoud en temas kry nie. Teen die tyd wat ons die eerste 25 onderhoude gevoer het, het ons saturation bereik. Toe het ons die inhoud met ‘n verdere 7 onderhoude getoets om te bevestig dat nuwe temas nie opkom nie – vandaar die addisionele tema van die seer van die kerk se verkondiging.

    Die vraag oor wat sê die Bybel was geïmpliseer oor die vraag na wat die kerk verkondig en heelwat respondente het dit ook in verband met mekaar geantwoord.

    Ons hoop dit gee meer helderheid en ons wil julle aanmoedig om Marileen te kontak by marileen.steyn@gmail.com met verdere vrae.

  6. Johann Ernst

    Marileen Steyn se kommentaar oor kwantitatiewe en kwalitatiewe “navorsing” is insiggewend, maar nie oortuigend nie. Dit is bekend dat die uitkoms van laasgenoemde aan die subjektiewe oordeel van die navorser oorgelaat word. In Markus 8 doen Jesus self kwalitatiewe ondersoek met die vraag: Wie sê die mense is ek? En gou is die punt van saturasie beteik. Wat Jesus hier eintlik vra en waarop hy antwoorde kry, is: Wat is die wêreldbeeld en lewensstyl wat aan julle verkoop word? Wie is die Jesus wat daarby inpas? Hoe vergelyk daardie Jesus met wie Jesus werklik is? In teologiese ondersoek is daar ‘n eksterne norm waaraan mense se menings getoets word, en dit is wat in die Woord (Jesus is die Woord) aan ons oorgelewer en bevestig is. As dit wat mense sê nie daarmee in ooreenstemming is nie, is dit wat die mense sê niks meer as net hulle eie sienings en menings, soos ook in die geval van Wes-Kaap se sosiogiese (dus nie teologiese) navorsing) oor die huwelik.Want volgens kwalitatiiewe navorsing kan Jesus dus Elia wees, omdat die mense tot versadiging só sê. En kan die huwelik ook vir persone in selfdegeslagverhoudings wees, want die mense sê dit kan, al sê net 30 mense so. En dit is natuurlik die resultaat waarna Wes-Kaap se “navorsers” bekend vir hul vooropgestelde standpunt, soek.

Comments are closed.

Scroll to Top