Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Awie Erxleben (1954 – 2022)

Albrecht Wilhelm Erxleben (Awie) is op 9 Desember 1954 gebore in Vanderbijlpark. Hy dra die naam van sy vooroueroupa, Albrecht Wilhelm Erxleben, die meestertimmerman en skepper van die preekstoele in die NG gemeentes Stellenbosch, Paarl, Ladismith (KP), Lydenburg, Drieankerbaai en Middelburg (Tvl). Hy verwerf ook bekendheid as homeopatiese dokter en het aan die Morawiese Kerk behoort. Hy het sy eie doodskis gemaak en elke dag na middagete daarin gaan rus. Awie se oupa is Albrecht Wilhelm Erxleben (Bertie), ’n bekwame onderwyser. Sy ouers is Albrecht Wilhelm Erxleben (Willie), ’n polisieman en sy moeder Anna Christina Nel.

Awie begin sy skoolopleiding aan Laerskool Daeraad in Germiston en matrikuleer in 1972 aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria. Hy kom tot bekering in 1971 en in sy matriekjaar beleef hy die roeping om predikant te word, in besonder ’n kapelaan in die SAW. Awie word student aan die Universiteit van Pretoria waar hy die BA-graad verwerf en studeer aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies waar hy einde 1980 as proponent gelegitimeer word. Hy is ’n begaafde sportman wat in 1975 die SA Universiteite Liggewigkampioen in boks was.

Awie doen sy diensplig in 1981 en 1982 en word op 17 September 1982 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Meyerspark. Ds Awie se droom word waar toe hy in 1985 weermagkapelaan in die NG Moedergemeente Middelburg (Tvl) word en in 1988 in die NG Gemeente Walvisbaai-Meersig. Op 24 April 1993 word hy kapelaan in die NG Gemeente Montclair en op 2 Junie 1996 in die NG Gemeente Umhlanga, waar hy vanaf 2001 net ’n gewone gemeenteleraar word. Hier werk hy met oorgawe tot hy in 2019 sy emeritaat aanvaar.

Ds Awie was ook ’n briljante teoloog, en sy Bybelskool is op meesterlike wyse aangebied. Elkeen wat dit bygewoon het, het met nuwe oë na die Bybel gekyk. Hy het nie net diep spore in die weermag en gewone gemeentebediening getrap nie, maar was ook ’n veelsydige sportman om mee rekening te hou. Ds Awie het in sy leeftyd negentien Comrades-ultramaratons voltooi en was fiks en gereed vir sy twintigste toe hy skielik op Donderdag 4 Augustus 2022 aan ’n hartaanval sterf. Hy was met sy dood superfiks.

Sy vrou Elfrede vertel dat hy die week van sy heengaan 20 kilometer gehardloop het en die dag voor sy dood 30 kilometer fiets gery het. Ds Awie het graag ’n staaltjie uit sy vroeë weermagdae vertel, toe die Boesmans hom uitgedaag het vir ’n wedloop in die woestyn. Hy het stof in hulle oë gehardloop, en daarmee ál hulle respek verdien en deure het oopgegaan om die Blye Evangelie aan hulle uit te dra!

Prof Barry Tolmay skryf na sy dood: “Dis só hartseer! Hy was ’n fantastiese sportman, fiks en sterk. Hy het goeie kennis van die Woord gehad en dit op ’n meesterlike wyse gedeel. Hy het goeie werk in NG Gemeente Umhlanga asook as kapelaan in die weermag gedoen.” Hy het ook gereeld dagstukkies geskryf en die wêreld ingestuur. Sy laaste dagstukkie het uit Klaagliedere gekom, met die tema: ‘Ek is stukkend … Maar daar is hoop!’

Ds Theo Human skryf: “Ons is saam geskok oor sy ontydige afsterwe. Hy was ’n Godsman wat die Here kragtig in die destydse weermag, die gemeente in Umhlanga vir wie hy baie lief was en die ring gedien het. Sy wyse leiding van die samekomste in ons wandel in die Woord as verteenwoordigers van gemeentes, sal my altyd bybly. Telkens die regte Woord op die regte tyd.”

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top