Hans Jacob Griesel is op 7 Januarie 1961 gebore in Bloemfontein. Sy vader is Barend Jacobus Marx Griesel wat boer in die distrik Brandfort. Sy moeder is Yvonne Rademeyer, ’n sekretaresse van beroep en ’n huisvrou.
Hans begin sy skoolloopbaan op Brandfort en verhuis ’n paar jaar lank na Heidelberg (Tvl) en keer weer terug na Brandfort. Hans matrikuleer aan die bekende President Swart-skool op die dorp. In sy standerd 9 jaar voel hy geroepe om predikant te word en begin met sy studie aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1981 die BA-graad verwerf.
Hierna is hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies waar hy die BD-graad verwerf en ook die Nagraadse Diploma in Teologie behaal. Dit is besondere jare van vorming aan die Fakulteit Teologie, nie net is daar groot klasse nie maar dit is ’n opwindende tydvak in die geskiedenis van die NG Kerk. Sy BD-skripsie handel oor “Die erediens as ontmoetingsgebeure”, ’n terrein waarin hy baie belangstel. Hy is ook ’n kranige rugby- en pluimbalspeler.
Hans is ook ’n entrepreneur en bedryf in sy studentejare van 1979 tot 1985 ’n eie besigheid om finansies te bekom. Hy en ’n groot groep word aan die einde van 1985 as proponent gelegitimeer en doen hierna twee jaar diensplig as kapelaan. Hans Griesel trou op 9 Januarie 1988 met Maria Catharina Elizabeth (Marieta). Uit die huwelik is twee seuns gebore: Barend Jacobus Marx Griesel en Pieter Johan Andries Griesel. Jaco is tans ’n meganiese ingenieur en woon in Amerika, terwyl Johan ’n praktiserende prokureur is in Pretoria.
Prop HJ Griesel word op 26 Julie 1988 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Dendron, ’n besondere boerderygemeenskap noord van Pietersburg in die hart van die Bosveld.
Met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Gemeente Dendron deur prof WJG Lubbe op 5 Julie 1987, verlaat 77 belydende lidmate die NG Kerk en dit groei later aan tot 161 lidmate. Die wegbreek bring groot onstabiliteit in die NG Gemeente Dendron en die jong ds Hans Griesel moet die hele aangeleentheid bestuur, nie ’n maklike taak vir ’n jong leraar nie. Die skeuring het families uit mekaar gedryf en op die ou einde het net 95 lidmate in die NG Gemeente Dendron oorgebly. In die sewe jaar op Dendron het ds Hans en Marieta Griesel met hulle liefde en omgee gemeentelede saamgesnoer en het daar kalmte op voetsoolvlak gekom.
Hy word op 29 April 1994 leraar van die NG Gemeente Waterberg-Noord, wat later verander na die gemeente Vaalwater. Hier reik ds Hans met liefde na almal uit en die gemeente toon ’n groei in lidmaattalle en daar is ’n geestelike herlewing onder mense. In sy dienstyd word die kerkgebou vergroot en ds Hans en Marieta se meelewing en harde werk bring ’n verskil op voetsoolvlak in die gemeente en die hele Vaalwatergebied.
Op 27 Oktober 2002 word ds Hans Griesel leraar van die NG Gemeente Theunissen-Wes, waar hy vyf jaar lank as die herder en leraar werk. Dit is ’n dorp met unieke uitdagings en die twee gemeentes moet in ’n eiesoortige kerklike situasie die sake op ’n slim manier bestuur. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Koppies, waar hy leiding gee op verskeie gebiede en bekend staan as ’n omgeedominee wat met sy mense meeleef.
Ds Hans Griesel word op 6 Mei 2018 leraar van die NG Gemeente Hertzogville, ’n gemeente waar hy diep spore trap en die boeregemeenskap met liefde bystaan en bedien. In die lente van 2020 het ’n reusebrand ’n deel van die distrikte Boshof en die grootste gedeelte van die distrik Hertzogville vernietig. Die boere was in sak en as en ds Hans Griesel het met groot oorgawe die boere in hulle krisis bygestaan en saamgesnoer. Deur sy bemiddeling is finansiële hulp verkry en het die Sinode van Goudland die mooi bedrag van R195 000 ingesamel en aan die boerderygemeenskap geskenk. Ds Hans was lief vir klein dorpies en het altyd gesê op die platteland kom almal saam om te huil en saam te lag. Hy het altyd voor die aanvang van die erediens deur die kerk geloop en mense gegroet, waarlik ’n hartlike mens wat graag met sy mense saamgeleef het. Sy liefde vir kinders was aansteeklik en hy het altyd spesiale aandag aan hulle gegee.
Soos ’n dief in die nag het siekte toegeslaan en kanker het sy tol geëis en in 2020 word ds Hans Griesel gehospitaliseer met ’n hoë bakteriese infeksietelling. Na ’n siekbed van 18 maande sterf ds Hans en daar is groot hartseer oor sy heengaan nadat hy 34 jaar lank leraar was van die NG Kerk. Hans is ’n Vrystaatse boerseun wat tot die einde toe met oorgawe die Woord bedien en uitgeleef het in boerderygemeenskappe. So het hy geleef en so het hy gesterf.
In ’n huldeblyk tydens sy roudiens word getuig van die mooi werk wat hy in die Here se koninkryk gedoen het. “Ons sal hom onthou as ’n baie positiewe mens, wat ten spyte van sy siekte, altyd eerste na jou welstand verneem en jou bemoedig het. Ek het hom ’n slag gebel om hom te bemoedig met sy siekte, toe sê hy stop, ek wil eers vir jou ’n gebed doen oor die droogte en die invloed wat dit op die boerdery het. Sy positiwiteit kon jy te alle tye aanvoel, langs die rugbyveld, langs die braaivleisvuur of op die preekstoel.”
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
