Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Stoffel Buys (1931 – 2021)

Johannes Christoffel Buys is op 2 Desember 1931 gebore te Kamsberg in die distrik Mooirivier in Natal. Sy vader was Stefanus Bernardus Buys, wat geboer het in die distrik Mooirivier en sy moeder is Elizabeth Catharina Craig, wat haar man met die boerdery op die plaas bygestaan het. Stoffel begin in 1938 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Voortrekker in Pietermaritzburg en is sy hele skoolloopbaan van twaalf jaar in die skoolkoshuis. Hy word in 1946 leerling aan die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg en blink uit in atletiek en rugby. ’n Hoogtepunt vir Stoffel was toe hy die sambreel vasgehou het oor dr DF Malan toe hy in 1949 die toespraak gehou het met die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Na matrikulasie werk hy vier jaar lank by Volkskas en begin in 1954 met sy studie aan die Universiteitskollege op Wellington, waar hy die BA-graad verwerf met die doel om sendeling te word. Hy blink uit in Zoeloe en speel ook rugby en hokkie. Hy is vanaf 1957 tot 1960 student aan die Sendinginstituut op Wellington en word op 4 Desember 1960 as proponent gelegitimeer. Hy trou op 10 Desember 1960 met mej Rosalie Olivier en uit die huwelik is drie kinders gebore: Delize (1961), Elrina (1963) en Renette (1970).

Eerw Stoffel Buys word op 12 Januarie 1961 leraar van die NG Sendinggemeente Melmoth, wat ook Nkandla insluit. Hy word ernstig siek aan bosluiskoors, maar die Here spaar sy lewe en hy kan voortgaan in die bediening. Hy bly nie lank ’n eerwaarde nie, want die Algemene Sinode van 1962 in Kaapstad besluit om met die sluiting van die profeteskool op Wellington predikantstatus aan elkeen te gee wat aan die Sendinginstituut op Wellington afgestudeer het.

Op 8 Januarie 1964 word hy leraar van die sendinggemeente op Vryheid en op 18 Januarie 1969 word hy sendeling op Witrivier. Onder sy leiding vind die inwyding van die kerkgebou te Kebokweni by Witrivier plaas. Ds Stoffel is voorsitter van die samestelling van die Hosanna-gesangboek in Zoeloe en vertaal self 297 van die 450 liedere. Hy tree ook as tolk op tydens die sendingkerk se Algemene Sinode in 1971 te Tshilidzini, ook met die evangelisasiekursus van dr Kolie Kotzé op Ladysmith, Natal. Een van sy prioriteite is om die Kerkorde in Zoeloe te vertaal. Dit was altyd vir hom belangrik om mense na die Here te lei.

Ds Stoffel Buys word op 23 Mei 1973 leraar op Pietermaritzburg en is betrokke by die sendinggemeentes te Welverdiend, Imbali, Kwazanda, Umgeni en Mpohomeni. Op 14 Augustus 1977 word ds Stoffel Buys leraar van die NG Gemeente Pietermaritzburg-Wes, waar hy met groot vreugde in die Here se Wingerd werk. Hy saai op wye akkers en is 12 jaar lank skriba van Leer en Aktuele Sake en 6 jaar lank voorsitter. In die Sinode van Natal is hy voorsitter van die sendingkommissie en gee ook leiding by die Algemene Sinode.

Weens gesondheidsprobleme aanvaar ds Stoffel Buys op 1 Desember 1991 sy emeritaat en hy vestig hom op Newcastle in Natal. Hy hou hom besig met tuinwerk en houtwerk en doen vertaalwerk en preek wanneer hy die geleentheid kry.

Hy sterf op 28 Julie 2021 en sy bediening in die Here se koninkryk word met dankbaarheid in herinnering geroep.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top