Adriaan Paulus Stephanus Beetge is op 13 April 1936 gebore op die plaas Droëdal in die Marico-Bosveld. Hy is gebore in die ou “poskantoorhuis”, waar die meeste van Herman Charles Bosman se stories ook húlle geboorte gekry het. Attie word groot op die plaas Brakfontein, waar hy wonderlike kinderjare met sy broer Kallie en susters, Etta, Sêrah en Malie beleef.
Hy skryf:
“Om oor die Bosveld te gesels was vir ons so lekker soos my ma se sagopoeding op ’n Sondagmiddag. Alles was net lekker: die swem in die gronddam, die gevegte met kleilat, die jag in die veld, die sit op die rantjies met sonsondergang, die gebulk van die koeie as die kalwers afgehok is. Die ry in die veld met ons twee perde, Staal en Vlam.”
Attie ontvang sy eerste skoolopleiding aan die Laerskool Nietverdiend, waar hy in 1947 op 11-jarige ouderdom ’n NuweTestament Bybeltjie by ’n vriend in die koshuis koop vir ’n tiekie. Saans voor slaaptyd het ’n klomp van die koshuiskinders na sy slaapsaal gegaan sodat hy vir hulle uit die Bybeltjie kon voorlees. Hierna is hy leerling aan die Hoërskool Zeerust waar hy in 1953 matrikuleer en ook leiding neem as hoofseun. Attie voel geroepe om predikant te word en word in 1954 student aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en behaal in 1956 die BA (Admissie)-graad. Hy speel ook rugby op die walle van die Mooirivier en is kaptein van die onder 19-span van Wes-Transvaal. In 1957 loop sy pad na die Teologiese Seminarium in die Eikestad waar hy in 1960 as proponent gelegitimeer word. Hy neem leiding op verskeie gebiede en is ook voorsitter van Polumnia, die studenteraad van die Kweekskool. In sy studiejare op Potchefstroom ontmoet hy sy vrou mej Ester Swart, wat haar as onderwyseres bekwaam en met wie hy in 1959 in die huwelik tree tydens sy studiejare op Stellenbosch.
Ds Attie en Ester Beetge se huwelik en saamloop van meer as 63 jaar, getuig van veredelde en onverganklike liefde, soos suurstof met genesende krag. Attie het sy lewensmaat Ester waardeer. Haar talente is soos goud, gelouter en gepoleer om haarself te wees as haar man se skaduwee. Haar positiewe uitkyk in alle lewenseisoene, het Ester ’n stille krag gemaak in haar man se bediening, die suurdeeg wat wasdom en groei bevorder het in sy skryfwerk. Hy was ’n man met vele talente en het ook geskilder en pragtige houtwerk gedoen, ’n stokperdjie wat aan hom veel vreugde verskaf het.
Prop Attie Beetge word op 12 Januarie 1961 met handoplegging in die NG Gemeente Ysterplaat as leraar ontvang en bevestig, ’n gemeente in die skadu van Tafelberg. Hy is die opvolger van ds JA Heyns, later professor en moderator van die NG Kerk. Dit is vir die jong leraar ’n besondere leerskool, waar hy ondervinding opdoen oor stadsbediening en krisispastoraat. Na drie jaar word ds Attie en Ester Beetge die leraarspaar van die NG Gemeente Viljoenskroon, ’n plattelandse gemeente waar hy sy passie vir mense wat na aan die grond leef ten volle uitleef. In 1969 word hy leraar van die NG Moederkerk Rustenburg, ’n besondere bedieningstyd waar hy betrokke was by die restourasie van die historiese kerkgebou digby die standbeeld van president Paul Kruger. In sy tyd word daar ook ’n kerksaalkompleks opgerig en word die jeug met entoesiasme bedien. In hierdie tyd word ds Attie ernstig siek en daar word vir sy lewe gevrees, maar die Here spaar sy lewe en hy kan voortgaan met sy werk as bedienaar van die Woord.
In 1977 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Pretoria-Oos, waar hy met verskeie medeleraars die gemeente bedien. Hier het hy ook as leraar van die staatspresident en kabinetministers diens gedoen en sy opregtheid en intense belangstelling in hulle menswees is intens waardeer. In die twintig jaar in Pretoria het hy met verskeie medeleraars saamgewerk, een van hulle was dr Willie Marais, met wie hy ’n besondere
band opbou het.
Hy skryf:
“Medeleraarskap was vir my altyd ’n verryking en nog nooit ’n bedreiging nie. Ons het mekaar op ’n besondere manier aangevul tot eer van die Here.”
Vroeg in sy bediening het ds Attie Beetge ’n belangrike leemte gevul deur huisbesoekkaartjies te ontwerp en uit te gee vir gebruik deur leraars, ouderlinge en diakens. In 1962 tydens sy dienstyd in Ysterplaat word sy eerste huisbesoekkaartjie gedruk en tot met sy dood 60 jaar daarna in 2022, word meer as 20 miljoen kaartjies gedruk en versprei in NG gemeentes landswyd. Dit het naamloos die harte van miljoene kinders van die Here aangeraak en bemoedig op die lewenspad. Na sy aftrede in 1996 vestig ds Attie en Ester Beetge hulle op Jeffreysbaai, waar hy ’n nuwe lewenseisoen betree en sy skryfwerk nuwe momentum kry. Hy skryf nie net sy outobiografie nie, maar verwerk ook die room van sy geestelike traktaatjies in boekvorm. Later verhuis hulle na Stellenbosch, waar ’n nuwe en laaste hoofstuk in sy lewensboek geskryf word. Hier in die Eikestad is ds Attie en Ester kerklik meelewend en begin ’n geestelike bediening wat daagliks Bybelse pitkos aan lesers bied per e-pos. So bedien hy as grysaard ’n onsigbare gemeente in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy geestelike pennevrugte bly ’n geestelike kompas vir alle seisoene. Dit sal geslagte lank nuut en neutvars bly omdat die Bybel aan die woord is.
In Januarie 2021 word ds Attie Beetge met ’n melanoom gediagnoseer in sy een oog, ’n traumatiese ervaring vir almal wat naby hom geleef het. Ds Attie verneem op 10 Mei 2022 dat kanker deur sy hele liggaam versprei het. Maar hy het moedig voortgegaan met sy skryfwerk en voltooi ten spyte van die pyn en ongerief, sy laaste boek wat hy met een oog en een vinger tik, omdat hy met die ander hand die vergrootglas vasgehou het. Hy het voluit geleef en ook met volharding hierdie laaste boek voltooi op sy sterfbed.
Oor jare heen het ’n hartsvriendskap tussen dr Gerdrie en ds Attie ontstaan, terwyl ek die voorwoord skryf van twee van sy boeke. In 2021 besoek ds Attie en Ester ons op Reebok, waar ek hom hartlik bedank vir die reuseimpak wat hy oor dekades heen in my lewe gemaak het. Hy was so beskeie en vertel met oorgawe hoe die Here hulle twee se lewe oorspoel met hemelse guns en genade. Ek sien hom nog staan tussen my boekery, met sy regop en fiks houding, sy byderwetse denke en sy aansteeklike blydskap in die Here. Ek het hom as ’n jeugdige 85 jaar beleef en ’n mens sou nooit kon droom dat hierdie Godsman so ernstig siek was dat hy binne ’n jaar sou oorstap na die Vaderhuis nie!
Ds Attie Beetge sterf op 10 Oktober 2022 en ’n gedenkdiens vind op 17 Oktober 2022 in die NG Moederkerk Stellenbosch plaas. Ons het ’n groot man kom groet en sal sy woorde altyd onthou: “In die chaos van die lewe is daar een ding waaraan ons kan vashou. God is in beheer en Hy is groot en goed! Soos die prisma van ’n kaleidoskoop die lig opbreek en dit in ’n kleurespel omskep, so breek die lig van God se genade, liefde en trou deur elke donker situasie van jou lewe en verander dit in ’n kaleidoskoop van Hoop.”
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
