Hendrik Frederick de Lange is op 14 Augustus 1980 gebore in Durban. Sy vader is Carel Nicolaas (Niekie) de Lange, ’n mynwerker van beroep. Sy moeder is Maria Elizabeth (Ria) Bothma, wat ’n skryfbehoeftewinkel bedryf. Freddie begin sy skoolloopbaan in 1987 aan die Laerskool Dawid Brink op Rustenburg en matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Rustenburg. Oor sy skoolloopbaan het Freddie geskryf: “Ek was bekend as ’n ‘sluiper’ in my hoërskooljare, want ek het so ’n lae profiel as moontlik gehou.”
Die Here loop ’n lang en by tye ’n ompad met Freddie om in die bediening te kom. In 2000 doen hy diensjaar by die VCSV, ’n wonderlike tyd wat aan hom kanse en geleenthede gun om siele vir die Here te wen. Hierna werk hy in 2001 en 2002 in sy moeder se winkel wat skryfbehoeftes verkoop en is van 2004 tot 2006 jeugwerker en berader by die Hoërskool Rustenburg waar hy kosbare werk onder die jeug verrig.
In 2007 skryf hy in as student aan die Universiteit van Pretoria en geniet die opleiding aan die Fakulteit Teologie waar hy in 2010 die BTh-graad verwerf. Freddie se skripsie vir sy graad is: “The first Jesus-followers and ubuntu: Then and now”. Die doel van die studie was om te kyk watter lesse ons as moderne kerk kan leer in terme van menseverhoudings uit die vroeë kerk en die filosofie van ubuntu. Hy spesialiseer in jeugbediening en is 15 jaar lank voor en na sy legitimasie betrokke in jeugbediening in die NG Gemeentes Moreletapark, Rustenburg-Suid en Rustenburg-Proteapark.
Prop Hendrik Frederick de Lange word op 8 November 2018 as proponent van die NG Kerk in Pretoria gelegitimeer. Beroepe is skaars, maar dit verhinder Freddie nie om met oorgawe voort te gaan met sy jeugwerk nie. Die Hemelse Vader beskik dat Freddie siek word aan Covid-19 en hierdie belowende jongman sterf op 25 Augustus 2021 in die hospitaal in Rustenburg. Dit is ’n hartseer oomblik vir die breë kerklike gemeenskap op Rustenburg om so ’n staatmaker te groet wat so vroeg in sy lewe verhuis na die Hemelstad met sy baie wonings.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
