Hanneri de Wet vertel stories met foto’s. Sy het die gawe van raaksien. Ek vra haar oor Suid-Afrika en die kerk. Wat sien sy?
“Ek is baie mal oor hierdie land, ek is mal oor hierdie mense,” sê sy. “Mense is vir my ongelooflik mooi. Ek dink fotografie is terapeuties omdat jy so geforseer word om te kyk. Partykeer staan ek in ’n winkel en kyk na die mense wat daar werk en dan dink ek, joeg maar julle is mooi! Mense dink partykeer ek is weird, want ek staan baie keer net en staar na iemand. O, die design van ’n mens. Jy weet elkeen se ore lyk anders, die oë, die shapes van ons lippe, die kleure van ons vel … dis só mooi.”
Terwyl ek na haar luister, dink ek aan ’n ou wat nou die dag gesê het, hy hou van Afrika, hy hou net nie van die mense nie.
“Ek dink die Here het sy liefde en kreatiwiteit so mooi uitgebeeld in die mens,” sê Hanneri, “en juis dit maak dit hartseer dat ons vir mekaar skrik wanneer ons anders lyk.”
Fotografie het haar gehelp om te kyk en te sien. Dit het destyds gebeur, terwyl sy grafiese ontwerp in Bloemfontein studeer het. “Dit was asof iets oopgegaan het in my brein,” sê sy.
Fotografie was aanvanklik maar net een van haar baie vakke, maar gou sou dit haar hele lewe word.
Luister en lees ook: Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand
“Aan die begin was dit moeilik, dit was so frustrerend. Die foto’s was net nooit soos ek gedink het dit gaan lyk nie. Ek moes leer om te sien soos my kamera sien,” sê sy en vertel van haar en haar tweelingsuster se liefde vir kuns op skool en hoe groot die sprong van teken na foto’s neem was.
Sy het in ’n pastorie grootgeword. Haar pa was jare lank die dominee by ’n NG gemeente in Bloemfontein. ’n Mens hoor soms stories van hoe ’n moeilike plek ’n pastorie is om in groot te word, maar Hanneri sê vir haar was dit ’n enorme voorreg. Sy het eintlik net die mooiste herinneringe.
“My ma en my pa is liefde gebottel in menswees. Hulle is die twee beste mense wat ek ken. En nou dat ek self ook kinders het, besef ’n mens hoe baie hulle vir ons gedoen het. En die mooi lewe wat hulle gebou het wat ons almal in kon leef. Dis wat die liefde doen, liefde tussen mense maak veilige plekke vir ander om te lewe.”
Vandag is Hanneri voltyds fotograaf in Pretoria. Behalwe vir die verskeidenheid werk wat sy vanuit haar ateljee doen, is sy ook al jare lank die tydskrif Leef se fotograaf. ’n Klomp boeke, van onder andere NB-uitgewers en Lux Verbi, met voorbladfotos wat Hanneri geneem het, is vandag oral in boekwinkels te sien.
Haar gesin is vir haar belangrik. “Dit is my enigste plek waar daar ’n mate van roetine is,” sê sy, by die werk is elke dag anders. Een dag is sy by ’n luukse funksie, die volgende dag in ’n plakkerskamp.
Hanneri raak passievol wanneer sy vertel van die mense wat sy al moes afneem, straatmense, substansafhanklikes, ’n man wat sy sterwende vrou versorg het, ’n vrou met ’n tipe hospies vir kinders, die ma’s van Afrika wat dikwels ten spyte van armoede en ander uitdagings hulle lewe gee vir hulle kinders, gewone gesinne …
Lees en luister ook: Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’
“Ek is baie lief vir mense. So, enigiets wat ek doen rondom portrette is altyd vir my spesiaal. Dis lekker om tyd deur te bring met mense. Baie keer in ’n shoot kom jy agter die mense het geboek vir iets, maar die Here het ’n ander afspraak gehad,” sê sy.
Ons gesels oor die nuwe uitdagings vir professionele fotograwe te midde van voortdurende tegnologiese ontwikkeling, veral ook in die visuele wêreld. Selfone het byvoorbeeld deesdae buitengewoon goeie kameras en watter effek gaan AI (kunsmatige intelligensie) hê?
Hanneri sê sy wonder ook soms, maar sy vrees nie rêrig nie. “Ek vermoed dieselfde goed word bloot rondgeskuif en ek kies om dit eerder te sien as ’n vorm van hulp, as ’n lokval,” sê sy.

Uiteindelik word fotograwe nie bloot genader as gevolg van die toerusting of tegnologie wat hulle tot hulle beskikking het nie, maar vir hulle gawe om dinge raak te sien. En die vermoë om komposisies te maak uit iets wat in ’n enkele oomblik gebeur, ’n beeld wat uiteindelik die dieper storie kan vertel en die emosie wakkermaak. “Dit is nie net wat jy sien nie,” verduidelik sy, “maar wat die lig daarmee doen, hoe dit val, hoe dit voel. Jy weet, lig het ’n emosionele effek. Warm lig laat jou warm voel, koue lig laat jou benoud of koud of eensaam voel.”
Hanneri de Wet is duidelik iemand wat die lig in enige situasie kan raaksien, maar wat sien sy in Suid-Afrika en in die kerk wat haar ontstel of kwaadmaak?
“Ek word nie eintlik kwaad nie, maar daar is dinge wat my hartseer maak. Soos wreedheid in mense se hart. Dis een ding wanneer mense gemaklik wil wees, maar as hulle sê, ‘ek gee nie om vir daai ou nie, ek wil sy porsie ook vat.’ Dit is asof mense soms eintlik hulle eie God is. Haat, selfsug en hoogmoed is die siektes van ons tyd wat mense wreed maak,” sê sy.
Hanneri sê sy droom soms oor wat sal gebeur as ons almal een oggend sou opstaan en sê:“Morning, Lord, here I am! Wat doen ons vandag?”
As daar iets is waarvan sy toenemend bewus is, is dit hoe kosbaar tyd is. “Fotografie gaan oor ’n oomblik in tyd wat nooit weer gaan wees nie,” sê sy.
Die lewe is eenvoudig té kosbaar om die wonder van die oomblik by ons verby te laat gaan. Ons kort die gawe van kyk en sien en dit is duidelik iets waarmee Hanneri de Wet ons kan help.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
