Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dr Faan Kotze (1929 – 2022)

Stephanus Francois Kotze is op 13 Julie 1929 gebore, die sesde van sewe kinders van Charl Kotze en Sara Debora du Toit. Hy word groot op die familieplaas Groot Brakfontein in die omgewing van Garies in Namakwaland. Sy ouers was twee lieflike mense wat na aan die Here en die natuur geleef het. Die vroeë dertigerjare was ’n moeilike tyd met groot droogte en depressie. Faan geniet die plaaslewe en word ’n leser wat tydskrifte soos Landbouweekblad verslind. Aan die begin van 1936 begin Faan met sy skoolopleiding by die plaasskool op Groot Brakfontein in die distrik Garies. In 1940 word hy leerling in die groot skool op Garies waar hy met standerd drie begin en aan die einde van 1947 matrikuleer. In sy matriekjaar ontvang hy die roeping om sendeling te word, met Jesaja 6:8 as ankerteksgedeelte. Hy skryf later: “Ek het soos Jesaja geantwoord: Here, hier is ek, stuur my”.

Daar was nie geld om te studeer nie en hy kry werk in die hoofkantoor van die Spoorweë in Johannesburg. Sondae het hy die eredienste in die NG Gemeente Braamfontein bygewoon, waar een van die leraars ds CB Brink die jong Faan gehelp het om ’n studielening by die Transvaalse Kerk te bekom om te gaan studeer op Wellington. In 1949 begin Faan studeer aan die Hugenote Universiteit-Kollege op Wellington waar hy die BA (Admissie) behaal deur Unisa. In 1951 word hy student aan die Sendinginstituut, digby die geskiedkundige Samuel en Clairvaux, die voormalige woning van wyle dr Andrew Murray. Op sportgebied blink hy in die tyd uit in hokkie. Aan die einde van 1953 word Faan saam met agttien ander studente in die NG Moederkerk Wellington gelegitimeer as sendeling van die NG Kerk in SA. In die tyd ontmoet Faan vir Lenie Roos, wie se vader skoolhoof was op Wellington. Hulle trou op 6 April 1954 en uit die huwelik is vier kinders gebore: Karel Gideon Kotze (1955), Hendrik Roos Kotze (1957), Lydia Kotze (1961) en Stephanus Francois Kotze (1965).

Prop SF Kotze ontvang ’n beroep na die NG Sendinggemeente Bonnievale, waar hy op 13 Februarie 1954 met handoplegging ontvang en bevestig word. ’n Groot deel van die gemeente se lidmate werk op wynplase langs die Breërivier. Hy vestig ’n besondere verhouding met NG lidmate in die boerderygemeenskap van Bonnievale, waar daar tydens sy sewejarige dienstyd ’n sendingkerkgebou opgerig word. Op 5 Augustus 1961 word hy leraar van die NG Sendingkerk Wamakersvallei op Wellington, waar hy diep spore trap en ook bevoorreg is om die CSV se normaalklas vir kringleiers aan te bied by Wellington Onderwyskollege. Hy beleef twee historiese geleenthede op Wellington, die hartseer oomblik met die sluiting op 29 November 1962 van die Sendinginstituut en die vreugde toe die kerkgebou van die NG Sendingkerk op 3 Desember 1966 verklaar is as ’n historiese gedenkwaardigheid.

In 1968 word ds Faan Kotze sekretaris van Diens van Barmhartigheid van die NG Sendingkerk, ’n pos waaraan hy waarde toevoeg en diep spore trap. Na die aardbewing op 29 September 1969 in die Boland, is hy betrokke om die Steinthal-Kinderhuis op Tulbagh wat erg beskadig is, weer te herstel. Aan die einde van 1971 ontvang hy demissie vir verdere studie en in die tyd vra die Ring van Worcester (Moederkerk) ds Faan om deeltyds behulpsaam te wees in die NG Kerk in Afrika. Hy preek met behulp van tolke en dit is jare waarin hy die Here se tasbare nabyheid ervaar.

Ds SF Kotze word in 1975 beroep as leraar van die NG Sendinggemeente Beaufortwes-Oos, waar hy op die walle van die Gamkarivier ’n positiewe geestelike bydrae lewer tot eer van die Here. Hy verwerf sy doktorsgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit, met die proefskrif: “’n Rolanalise in ’n marginale situasie: Die predikant in die NG Sendingkerk in SA.” Dr Faan skryf in sy herinneringe: “My sewe jaar in die Groot-Karoo was vir my ’n geseënde tyd. Dit was ’n wyd uitgestrekte gemeente, maar die grondslag is goed gelê deur my vriend ds Nathan van Zyl. Langs die kerkgebou was die hoërskool en die koshuis, die woon- en skoolgaanplek van talle kinders oor ’n wye gebied in die Karoo. Ek het groot getalle katkisante in die Woord onderrig en dit was vir my ’n voorreg om hulle geestelik te help vorm. My vrou Lenie het vrugbare werk gedoen onder die susters en kinders van die gemeente. Met haar sterk sendingroeping het sy my wonderlik bygestaan deur my hele bediening. In 1980 is sy verkies tot president van die CSB van die NG Sendingkerk.”

Op 12 Desember 1981 word dr Faan Kotze aangestel as rektor van die Minnie Hofmeyr-kollege op Worcester, die opleidingsentrum van maatskaplike werkers van die NG Sendingkerk. Dr Faan skryf oor die groot uitdaging: “Om jongmense te help vorm, beteken ook om jou gebied van invloed te verruim, aangesien hulle in die samelewing uitgaan om weer op hulle beurt diens te lewer. Die opleiding het oor vier jaar gestrek en die afgestudeerde studente is geregistreer by die Raad vir Maatskaplike werk. Ek het dikwels briewe van waardering ontvang vir die werk van ons oudstudente. Sommige het ook geëmigreer en doen steeds uitstekende werk in die buiteland.” Dr Faan was oor jare heen ’n vaderfiguur en mentor vir sy studente.

Dr Faan Kotze aanvaar op 13 Julie 1994 sy emeritaat en bly betrokke by die werk van die Here en speel ’n groot rol by die Arbeidsbediening op Worcester. Hy het altyd die spreekwoord aangehaal: “Oudag is nie klaardag nie”! Weens die siekte van Lenie verhuis hulle na ’n woonstel in Huis Andries Hamman op die dorp waar sy op 10 Februarie 2002 weens beroerte sterf. Aan die begin van 2015 het sy gesondheid begin verswak, maar hy het steeds voortgegaan om in die besonder sy kinders en kleinkinders met liefde en deernis aan te raak.

Alhowel sy gesondheid verswak het, sit hy skouer aan die wiel en beskou dit as sy belangrikste werk om voorbidding te doen vir sy kinders, kleinkinders en die koninkryk van God. Hy bly in sy woonstel waar hy op 9 Mei 2022 sterf en die vreugde van die Hiernamaals beleef. ’n Gedenkdiens word op 21 Mei 2022 deur ds Jan Ungerer in die NG Moedergemeente Worcester gehou, waar hierdie boorling en seun van Garies gehuldig word as ’n man met ’n skerp brein en besondere geheue, wat tot die einde toe sendeling gebly en mense met liefde en sorgsaamheid aangeraak het.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top