Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Pieter Louw (1949 – 2021)

Pieter Hendrik Louw is op 26 Augustus 1949 in Kimberley gebore. Sy vader Lorraine Pieter Louw was ’n klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en het met nougesetheid sy werk verrig. Twee van sy ouer broers, Alexander en Lorraine, het ook as argitek-tekenaars by die spoorweë gewerk wat aan baie blanke Afrikaners ’n heenkome gebied het. Sy moeder was Anna Maria Venter, ’n huisvrou wat haar gesin met liefde opgevoed en versorg het. Pieter begin in 1955 sy skoolopleiding aan die Laerskool Diamantveld in Kimberley en is van 1958 tot 1961 ook leerling aan die Laerskool Kimberley-Wes, voorheen bekend as Laerskool HF Verwoerd. In 1962 word hy op voetspoor van sy twee broers, leerling aan die Hoër Tegniese Kollege op Kimberley, soos later blyk ’n reusefout te wees omdat Pieter nie meganies aangelê is nie en moeiliker sy weg vind as sy klasmaats. Aan die einde van 1966 matrikuleer hy en begin in 1967 met sy diensplig in Bloemfontein en Middelburg (Transvaal).

Pieter voel geroepe om predikant te word en vertrek aan die begin van 1968 na Stellenbosch waar hy in 1970 die BA (Admissie)-graad verwerf. Hy word in 1971 student aan die Teologiese Kweekskool langs die Eersterivier waar hy goeie tye beleef en in 1973 die BThgraad verwerf en sy lisensiaatskripsie skryf oor jeugprobleme. Aan die einde van 1974 word hy gelegitimeer.

In die eerstejaar op kweekskool trou hy op 18 Desember 1971 met mej Dorena Truter van Bellville, wat haar BSc- graad en Hoër Diploma in Biblioteekkunde verwerf.

Prop PH Louw word op 16 Februarie 1975 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Tsumeb-Suid in die destydse Suidwes-Afrika. Dit was ’n wonderlike leerskool vir ds Pieter en Dorena Louw, wat gou hulle voete gevind het onder wonderlike boeremense.

Hierna loop die gesin se pad na die NG Gemeente Barkly-Wes aan die Vaalrivier, waar hy op 28 April 1978 in die gemeente ontvang en bevestig word. Hierdie gebore Kimberliet is goed vertroud met die mense van Griekwaland-Wes en bedien die besondere gemeente in die vroeë delwersdorp, wat in dié tyd tot ’n besondere boeregemeenskap ontwikkel het. Hulle woon in die ou pastorie op die walle van die Vaalrivier, waar hulle drie kinders Anina (1978), Henk (1981) en Leon (1982) gelukkige kinderjare beleef. Dit was ses gelukkige kinderjare en die pastorie se koelkamer was altyd vol vrugte en groente. Ds Pieter het ’n mooi verhouding opgebou met die sendelinge van die NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika. Omdat die Pro Regno-kampterrein ook binne die gemeentegrense geval het, kon hy sy liefde vir jeugwerk uitleef en is ds Pieter meelewend in sy uitreik na jongmense.

Op 8 September 1984 word ds Pieter Louw bevestig in die NG Gemeente Alexanderbaai in Namakwaland, ook ’n bekende diamantgebied waar die Oranjerivier sy kosbare watervrag in die see stort. Hier is ds Lindo Pieters n later ds Herman Burger sy kollegas, wat die kleiner myndorpies in die gebied geestelik bedien.

Die Here roep ds Pieter Louw na die NG Gemeente Heidelberg (Kaap), waar hy op 14 September 1990 ontvang en bevestig word, ’n gemeente wat ook die vakansiedorp Witsand met ’n wykskerkie aan die seekus insluit. Hier is hy ’n kollega van ds Emile de Villiers en later ds Heinie Vermeulen. Aanvanklik het die kinders die seesand van Alexanderbaai gemis, maar het gou gewoond geraak aan die dorp aan die Duivenhoksrivier en hulle kon met hulle fietse tussen die plase rondry. Dit was goeie en geseënde jare vir die leraarspaar tot ds Pieter Louw in 2006 weens gesondheidsredes vervroegde emeritaat moes neem. Hy kies om steeds diensbaar te wees in gemeentes soos Riversdal-Wes en in kleiner gemeentes waar hy afloswerk gedoen het.

In herfs van 2006 word hy leraar in die NG Gemeente Hobhouse in die Oos-Vrystaat aan die grens met Lesotho, waar hy en Dorena goeie werk lewer tot in 2010. Hierna volg hy ’n brugleraarskursus aan die kweekskool op Stellenbosch, waarna hy in die winter van 2010 vir agttien maande lank leraar van die NG Gemeente Fraserburg in die Groot-Karoo was. In die lente van 2013 word ds Pieter en Dorena Louw bevestig in ’n vastetermynpos as leraarspaar van die NG Gemeente Koës in Namibië, waar hulle tot in 2017 uitstekende werk verrig en diep spore trap in die harte en lewens van mense. Hulle werk ook nou saam met ds Koos Engelbrecht, ’n legende en iemand met ’n hart vir die Boesmansending wat groot werk verrig in koninkryksdiens.

Aan die einde van 2017 eindig die egpaar se geestelike werk in Koës in die verre Namibië en trek hulle terug na hulle woning op Stilbaai. Hierna het die gesondheid van ds Pieter begin verswak en het hy al hoe meer simptome van demensie vertoon. Hy word met liefde en oorgawe versorg deur Dorena en hy sterf in die grendeltyd op 8 November 2021. Hy laat drie kinders en vyf kleinkinders agter.

Sy roudiens vind plaas op Vrydag 12 November 2021 in die NG Gemeente Stilbaai, ’n finale groet aan ’n geliefde leraar wat met oorgawe in diens van die Here gewerk het. Hy word oorleef deur sy vrou Dorena, drie kinders en vyf kleinkinders.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top