Vandag presies 90 jaar gelede, het die eerste besending van die eerste Bybels in Afrikaans op Suid-Afrikaanse bodem aangeland, laat weet dr Quintus Heine, verbonde aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Uit die argief leer ‘n mens meer:
Die Carnarvon Castle het op 29 Mei 1933 Tafelbaai binnegeseil met die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel aan boord. Die Britse Buitelandse Bybelgenootskap het die Bybels gedruk en vanuit Engeland gestuur.
Op 1 Junie is die kiste met die Bybels by Bybelhuis, Kaapstad, amptelik in ontvangs geneem. ‘n Hele aantal persone, onder wie ds F X Roome, die Voorsitter van die Kaapse tak van die Genootskap, dr E E an Rooyen, een van die vertalers, en ds P G J Meiring, die redakteur van Die Kerkbode, was teenwoordig. Weens ander verpligtinge was die Hoofsekretaris van die Bybelgenootskap, ds H P M Steyn, ongelukkig nie teenwoordig nie. Die eerste eksemplaar waarop die Suid-Afrikaanse sonlig geval het, is egter dadelik aan hom in Oos-Londen gestuur en tydens die aanddiens van 4 Junie 1933 lees hy uit dié Bybel voor. Dit was waarskynlik ook een van die eerste geleenthede waartydens Afrikaanssprekendes die Skrifvoorlesing in hulle eie taal van die kansel kon hoor.
Koop ‘n Bybel aanlyn: https://bibleshop.co.za/product-category/bibles/afrikaans/
- Bron: Ontvang via dr Quintus Heine
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
