William Douglas Oliver is op 12 Julie 1937 in Maitland naby Kaapstad gebore en bly sy lewe lank ’n Kapenaar. Willie was die tweede van sewe kinders en die gesin verhuis later na Parow. Hier word hy groot en begin sy skoolopleiding aan die plaaslike laerskool en is later leerling aan die Hoërskool JJ du Preez in Parow waar hy in 1952 na sy standerd 8 jaar die skool verlaat. In 1953 begin hy werk as klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë, ’n interessante tydperk in sy jong lewe waar hy uitstekende mensekennis opdoen. Hy keer terug na die skoolbanke en matrikuleer in 1962 aan die Hoër Handelskool Tygerberg. Einde 1962 betree hy die sakewêreld toe hy deel van sy oupa en vader se besigheid word. Hulle het die bekende besigheid, wat bekend gestaan het as RO Oliver en Seun, besit en was bekend en geliefd in die omgewing. Hulle het sake gedoen in die eiendoms- en boubedryf, wat ’n standvastige en onafhanklike lewe aan die jong Willie Oliver verseker het. Hier leer Willie al die fasette van besigheid ken en in dié tyd is hy nie kerklik meelewend nie en in sy eie woorde het hy twee jaar uit die kerk gestap. Willie was baie lief vir sport en het rugby as ’n edelsport beskou wat karakter kon bou.
Intussen het daar ’n diepe worsteling in die gemoed van Willie geleef, want hy het die roeping om predikant te word onderdruk en wou nie luister na die stem van die Here nie. Maar God se roeping was te sterk en belangrik vir Willie dat hy in 1968 begin studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Hy doen dit in die geloof en word ondersteun deur sy vrou Rita en hulle kinders. Hy verwerf die BA (Admissie)-graad en begin in 1972 as student aan die kweekskool in die Eikestad studeer. Hy spesialiseer in Nuwe Testament en skryf ’n skripsie met die titel: “Die pastorale sorg van die predikant aan sy eie persoon na aanleiding van die Pastorale briewe.” Hy verwerf die BTh-graad en word aan die einde van 1974 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Willie trou op 3 Oktober 1959 met mej Catharina Susanna Margaretha (Rita) Kotze van Koekenaap en hulle word die ouers van vier kinders wat hulle met liefde en sorgsaamheid opvoed.
Prop Willie Oliver word op 17 Januarie 1975 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Williston, ’n uitgestrekte gemeente in die Groot-Karoo. Na drie jaar ontvang hy ’n beroep na die NG Gemeente Vasco in die Kaapse Skiereiland, ’n omgewing wat hy goed ken, maar hy bedank die beroep na die Kaap om met sy werk op Williston voort te gaan. Met sy opregtheid en iemand wat met oorgawe kon luister na probleme, is sy rol groot onder die boere wat na hom verwys as ’n sagmoedige en nederige gesant van die Meester.
Na ’n gelukkige dienstyd op Williston, kom ’n beroep na die NG Moedergemeente Oudtshoorn in die hart van die Klein-Karoo, waar hy op 26 Januarie 1979 ontvang en bevestig word. Hy en Rita is bewoners van die bekende Hoogstraatpastorie, ’n bekende baken oorkant die ou klipkerk wat deur Otto Hager ontwerp is. Sy boeiende preke uit die hart vanaf die klippreekstoel, omring deur wit engele in marmer, raak mens diep en dra veel vrug. Vanuit die pastorie bedien hy die gemeenskap van Oudtshoorn met oorgawe en sy aandeel in verskeie komitees is ’n winspunt in die breë gemeenskap van die volstruishoofstad in die Klein-Karoo. Hy is ook voorsitter van Oudtshoorn se verhoudingskomitee waarin alle rasse ’n rol speel. Ds Willie Oliver is iemand wat respek verdien en die wyse waarop hy sake hanteer en die saak van die Meester dien, sorg dat mense respek het vir die leraarsamp en die NG Kerk.
In 1980 word hy benoem tot die Presidentsraad, ’n groot eer wat hom te beurt val, maar hy wys dit summier van die hand omdat sy roeping om die Here as predikant te dien sy hele lewe en wese is. Op Stellenbosch het die jong student Gerdrie van der Merwe se pad met Willie Oliver gekruis en ’n besondere vriendskap het ontstaan. Met ’n besoek aan die pastorie in Hoogstraat 141 te Oudtshoorn, het ons intens gesels en saam gebid oor die aanbod om in die Presidentsraad te dien. Die feit dat hy as lid van die raad sy geestelike getuienis en stempel kon afdruk, was soos ’n ligte volstruisveer op die skaal. Willie Oliver se lewenskaal het in die guns van sy roeping as Verbi Divini Minister geswaai: Want om in koninkryksdiens God se Woord te verkondig vanaf die kansel, het met die gewig van ’n ysterklip, die skaal ten gunste van die leraarsamp in die NG Kerk laat swaai.
Na ’n kort bediening in die Moedergemeente Oudtshoorn, aanvaar hy ’n beroep na die NG Gemeente La Rochelle in Bellville, waar hy tien jaar lank predikant is tot met die aanvaarding in 1992 van sy emeritaat. In hierdie groot gemeente speel hy ’n unieke rol as geestelike vader en met sy ingebore wysheid is hy iemand wat respek verdien en op voetsoolvlak as groot rolspeler na vore tree. In stilte doen hy pastorale werk en sy gebedsbediening is vir baie mense tot groot seën. Na hulle aftrede bly ds Willie en Rita Oliver aktief besig en druk ’n lieflike stempel af op almal wat hulle pad kruis. Die laaste paar jaar woon hulle in Aristea-tehuis vir bejaardes in Durbanville. Rita sterf eerste en na ’n leeftyd van diens sterf ds Willie Oliver op 20 April 2022 en word na die Hemelstad weggedra deur engele. Op 29 April 2022 word ’n afskeidsdiens in die NG Gemeente Sonstraal in Durbanville gehou, waar sy lewensreis as man van God, as lewensmaat, as vader en as oupa in herinnering geroep word.
Met deursettingsvermoë het ds Willie Oliver die lewensleer geklim en sy beste vir die Meester gegee. Hy het onwrikbaar in God geglo en Hom altyd eerste gestel in alles. Sy dogter Wilna vertel: “Ons kan maar net in verwondering kyk na sy voorbeeld en absolute nederigheid, wat ons beleef as ’n kosbare erfenis vir sy nageslag. As gevolg van die mooi verhouding met my pappa en hoe hy my onvoorwaardelik liefgehad het, kan ek nou ’n intieme verhouding met my Hemelse Vader hê, want ek verstaan daardie tipe liefde.” Hy word oorleef deur sy kinders Lizelle, Anna-Marie, Deon en Wilna. Hy gee baie aandag aan sy vyf kleinkinders en sy lewensbeeld en menswees het hulle lewe tasbaar in die regte rigting gestuur. Die nederige dienskneg Willie Oliver het tuisgekom en ons gun hom die rus in Christus.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
