Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Dawie Scheepers (1927 – 2021)

David Johannes Jacobus Scheepers is op 16 Julie 1927 gebore op Heilbron, vier maande en veertien dae na sy vader se dood. Sy vader was David Jacobus Scheepers en sy moeder Anna Margaretha du Plessis. Hy word in die ou sinkkerkie op Oranjeville gedoop deur ds IDJ Murray. Dawie bring sy kinderjare deur op die plaas Oukraal in die distrik Bethlehem, waar toulei, osse vang en inspan vir ploeëry en plaaswerk, kalwersry en perdry groot vreugde in die hart van die plaasseun bring. ’n Hoogtepunt uit Dawie se kinderjare was die Voortrekkereeufeesvierings van 1938. Onuitwisbaar in sy geheue geprent was die uitkampery, die tentedorp en die weeklange verrigtinge by Monumentkoppie tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Hy onthou nog die trots in sy kinderhart by die amptelike aankondiging van die naamsverandering van Robertshoogte na Voortrekkerhoogte.

Dawie begin sy skoolopleiding in 1933 aan die Genadendal-plaasskool in die distrik Bethlehem en is van 1938 tot 1940 leerling aan die Valsrivierplaasskool in die distrik. In 1941 word hy leerling aan die Voortrekker Hoërskool op Bethlehem waar hy in 1944 matrikuleer. Hy is ’n goeie rugbyspeler en neem ook leiding in die plaaslike CSV-tak as kringleier. Hy voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1945 na die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein. Hy geniet sy studentelewe op die Bult, wat in 1951 die Universiteit van die Oranje-Vrystaat word. Vol avontuurlus pak hy en twee studentemaats ’n fietstoer aan na Durban, Amanzimtoti en Mont-aux-Sources. Dit was in ’n tyd toe teerpaaie in Natal maar min was. Hy was ook voorsitter van die KJV-tak as deel van die NG Gemeente Bloemfontein-Wes.

Dawie Scheepers se pad loop in 1949 na Stellenbosch toe hy student word aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier in die Eikestad. Hy dien drie jaar lank op die redaksie van Polumnia, die kweekskooljaarblad, en is in 1952 die hoofredakteur. In sy studentejare op Stellenbosch was hy ’n geesdriftige Berg-en Toerklub-lid en vakansietye leer hy te voet die skoonheid van sy land se berge op verskeie staptoere ken. Hy word aan die einde van 1952 as proponent gelegitimeer en ds Dawie Scheepers was bevoorreg om tydens sy 34-jarige dienstyd in die NG Kerk gemeentes te bedien in al vier provinsies en ook in Namibië, Zimbabwe en Angola.

As jong proponent werk hy vier maande lank in die NG Gemeente Melmoth-Eshowe in Natal, tot ’n beroep hom bereik na die NG Gemeente Sidwell in Port Elizabeth. Hy word op 11 April 1953 met handoplegging ontvang en bevestig in die hart van Port Elizabeth, ’n gemeente geleë tussen Ford, General Motors, Firestone en General Tyres se fabrieke. Hy is ongetroud en ontmoet op ’n KJV-kamp te Jeffreysbaai sy toekomstige lewensmaat, mej Margaret Smith van Grahamstad. Hulle trou op haar mondigwording in die NG kerkgebou van Sidwell en die gemeente gee ’n huweliksonthaal vir hulle eerste leraarspaar. Die groot gemeente van 2 300 doop- en belydende lidmate, is ’n ware vuurdoop vir die jong paartjie en met sy vertrek is die jeugdige ds Dawie voorsitter van die Ring van Port Elizabeth wat uit dertien gemeentes bestaan. In sy dienstyd breek daar herlewing uit en die bidure Woensdagaande is deur meer as 144 persone bygewoon.

’n Beroep kom na die NG Gemeente Vryburg-Wes, ’n plattelandse gemeente met uitgestrekte buitewyke waar hy op 17 Augustus 1957 ontvang en bevestig word. Hy bedien die boeremense met oorgawe en in die Pinkstertyd lewer hy dertig preke in tien dae, wat hoë eise aan hom en sy lewensmaat stel. Hier leer hy die geheim van skyfskiet by die bekende Strydombroers, wat bekendheid verwerf as Springbokskuts.

Ds DJJ Scheepers neem in 1960 ’n beroep aan na die NG Gemeente Wesselsbron in die Wes-Vrystaat, waar hy diep spore trap en mense met getroue geestelike bearbeiding en huisbesoek lief maak vir die Here se kerk. In sy dienstyd is hy betrokke in 1962 met die afstigting van die NG Gemeente Wesselsbron-Noord. In 1964 kom ’n roepstem na die NG Gemeente Reitz in die Riemland, waar hy in die hoofdorp van die streek uitstekende werk verrig en ook toerleier is van ’n groepie KJV-lede, wat in die winter van 1967 as eerste proefneming in die Vrystaatse Kerk, ’n jeugleierskursus op ’n boot aanbied. Vroeg in 1968 ontvang hy gelyktydig beroepe na drie NG gemeentes: Ontdekkers in die hartland van goud, Wonderboom ten noorde van Pretoria en die rustige Heidelberg (Tvl) aan die Suikerbosrand.

Die beroep na Heidelberg is gekoppel aan ’n kapelaanspos, waar hy op 26 April 1968 die eerste eenheidskapelaan van die Leërgimnasium op Heidelberg word, ’n pos wat destyds gekoppel was met die geskiedkundige ou Klipkerk. Na slegs drie jaar verhuis die gesin in 1971 na die NG Gemeente Voortrekkerhoogte-Oos, met ds Amie Visser en dr Jozua Potgieter as die medeleraars. Ds Dawie Scheepers en sy kollegas werk hard om die gemeente finansieel lewensvatbaar te maak, want die samewerking en spanpogings in die gemeente Voortrekkerhoogte-Oos was ongeëwenaard.

Net so ryk as wat die bediening van ds Dawie Scheepers in die NG gemeente was, so geseënd was sy driejarige diens in die Leër, sewe jaar in die Geneeskundige diens en nege jaar in die Lugmag. Hy neem deel aan veldoefeninge en doen twaalf keer grensdiens, toer saam met die Kanaries en reël ’n jaarlikse Swartkoor-kompetisie in die SAW. In sy Voortrekkerhoogte-Oos dienstyd bedank hy beroepe na Theunissen-Wes, Koppies-Weltevreden, Saldanha-Noord, terug na Reitz, Lichtenburg, Volksrust en op ’n keer drie beroepe gelyk na die gemeentes Witrivier, Bloemfontein-Berg en Dal en Caprivi. Ds Dawie het altyd gesê dat ’n skuif na ander gemeentes nie nodig was nie, want met die migrasie van lidmate het hy elke keer ’n nuwe werkkring en gemeente gekry.

Uit die huwelik van ds Dawie en Margaret Scheepers is drie seuns gebore, Johan, Marius en Dawie. Elkeen verwerf dubbele universiteitsgrade aan die UOVS in Bloemfontein en staan hulle plek in die samelewing vol. Een van ds Dawie Scheepers se groot vreugdes was toe hy sy seun ds Dawie Scheepers in 1986 kon bevestig in die NG Gemeente Kimberley-Suid.

Na ds Dawie Scheppers se emeritaat op 31 Julie 1987, vestig die egpaar hulle in die Strand, waar hulle bekende en geliefde inwoners is van die Welgelegen-woonstelle in Kusweg. Hy doen ook afloswerk in die NG gemeentes Steytlerville, Waterberg-Noord en Chinhoyi in Zimbabwe. Op 20 September 2021 word ds Dawie gediagnoseer met wydverspreide melanoomkanker en presies twee maande later op 20 November 2021 verhuis hy vanaf Altena-aftreeoord in die Strand, na die woning van sy Hemelse Vader. So eindig die vol en merkwaardige lewe van ’n seuntjie, wie se vader voor sy geboorte in 1927 sterf en versorg word deur ’n Hemelse Vader.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top