Frederick Hendrik Snyman is op 23 Maart 1937 gebore te Potgietersrus in die ou Transvaal. Die gesin verhuis na Hennenman in die Vrystaat, waar sy vader in die distrik boer. Frikkie is leerling aan die Laerskool Hennenman, tot die gesin in die laat veertigerjare verhuis na Chiponwe in Zambië. Hier begin sy vader weer boer en Frikkie is later verplig om na die Unie van Suid-Afrika terug te keer waar hy ’n kosganger word in die Goudstad en in 1954 matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg. Frikkie word in 1955 student aan die Universiteit van Pretoria waar hy begin om medies te studeer, maar staak sy studie en is etlike jare lank ’n stoorman by Yskor in Vanderbijlpark.
Hy tree op 30 Augustus 1958 in die huwelik met Johanna Magdalena Joubert (Jouna) en uit die huwelik is drie kinders gebore: Johannes Willem Snyman is ’n operateur in die Durbanse hawe; Leon Cornelius Snyman is ’n ginekoloog-onkoloog in Pretoria; Jentina Potgieter is ’n rekenmeester in Benoni, by wie ds Frikkie en sy vrou Jouna die laaste drie jaar van sy lewe woon.
Frikkie voel later geroepe om predikant te word en na die verkryging van die BA-graad word hy in 1973 student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria waar hy aan die einde van 1977 as proponent gelegitimeer word. Proponent Frikkie is veertig jaar oud en ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Boksburgpark waar hy in 1978 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig word. Hier woon en werk hy met oorgawe tot hy aan die einde van 2010 sy emeritaat aanvaar na ’n bediening van 34 jaar lank. Hy was ’n ernstige, stil harde werker wat sy bediening met passie verrig het. Sy preke was goed voorberei en het getuig van goeie eksegese en suiwer Skrifuitleg. Hy het getrou huisbesoek gedoen. Ds Frikkie het goeie gesondheid en was die laaste 2-3 jaar van sy lewe siek met hartversaking en ander kwale. Sy vrou, kinders en kleinkinders beleef hom as ’n geliefde gesinsman en die uitgebreide Snymanfamilie beleef mooi tye saam met ds Frikkie wie se deur altyd oop was vir berading en advies, iemand na wie hulle almal kon opsien.
Na sy aftrede verhuis hulle na Witfield en skakel in by die NG Gemeente Witfield-Wes, waar hy saam met ds Theo Danzfuss betrokke was by Bybelkursusse en waar ds Frikkie nog pastoraal betrokke was tot ongeveer drie jaar voor sy dood. Dr Pieter Kruger skryf as hulle herder en leraar: “In my persoonlike gesprekke met hom het sy besondere passie geblyk vir noukeurige eksegese en hermeneutiek. Die verkondiging van die Bybelse boodskap was vir hom ’n groot liefde. Kerklike gebeure in die NG Kerk die afgelope jare het hy met besorgdheid bejeën. Ds Frikkie het ten spyte van inenting, Covid opgedoen, wat sy gesondheid verder geknou het. In dié tyd het ek gesprekke met hom gehad waar sy persoonlike worsteling hom laat reflekteer het op sy geloofsoortuigings, sy bedieningspad en die wyse waarop hy lidmate, wat in krisis verkeer het, begelei het.
Ds Frikkie Snyman sterf op 11 Mei 2022 en ’n begrafnisdiens word op 18 Mei 2022 deur dr Pieter Kruger in die NG Gemeente Witfield waargeneem. Sy vrou en kinders skryf: “As predikant was hy bedienaar van die Woord en herder van sy gemeente met onderskeiding. Passievol, toegewyd en met deernis het hy sy roeping uitgeleef, gemeentes bedien, siekes besoek, bedroefdes vertroos en babatjies gedoop. Hy was ’n lewenslange student van die Bybel en die teologie op soek na die Waarheid om dit nie net te verkondig nie, maar ook uit te leef.”
Ds Gert Olivier skryf: “Hy was ’n ernstige, stil harde werker wat sy bediening met passie verrig het. Sy preke was goed voorberei en het getuig van goeie eksegese en suiwer Skrifuitleg. Hy het getrou huisbesoek gedoen en was gewild by lidmate van die gemeente. Hy het ’n goeie balans gehandhaaf tussen die gemeentewerk en die versorging van sy gesin. Frikkie was iemand wat nooit in die kollig wou staan nie. Hy laat my dink aan die woorde van Jesus oor die slaaf wat alles gedoen het wat aan hom opgedra is en dan sê: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen (Luk 17:10).”
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
