Daar is méér deur Daniël J Louw
Uitgewer: Naledi, 2023
Resensent: Carike Noeth
Dit is bykans onmoontlik om nie deur hierdie boek meegevoer te word deur die magdom van kennis en inhoud nie. Spiritualiteit word op ’n unieke manier gebruik as lens om oor ’n verskeidenheid van temas te reflekteer. Louw draai elke klip om op soek na méér. Hy ontvou die kompleksiteit van temas met gesag en goed begronde teologiese beredenering.
Louw vertel staaltjies uit sy eie lewensreis en verbind sy ervaring op ’n kragtige manier aan die punt wat hy oordra. Hy slaag daarin om die leser in te trek en nooi die leser om saam te reis in die soeke na méér. Elke hoofstuk laat die leser met ’n nuuskierigheid oor wat daar nóg kan oor wees om te bespreek en elke keer slaag Louw weer daarin om die leser te verras met nuwe insigte en kreatiwiteit.
Die verskeidenheid van temas word deurgaans verbind met die soeke na die sin van die lewe, die kwesbaarheid van die mens as brose wese, die siel van ’n mens, en menslike verganklikheid. Van die temas wat Louw vreesloos aanspreek sluit onder meer in die metaversum, kontemporêre digitale kwessies, historiese refleksies, geloof, politiek en menswaardigheid. Hierdie temas ontmoet telkemale by ’n kruispad met musiek, kuns, geskiedkundige gebeurtenisse, skoonheid, pastoraat, filosofie en wetenskap. Die konstante goue draad wat alles deurgaans bymekaartrek is spiritualiteit.
Hierdie boek behoort gelees te word met genoeg tyd en ’n oop gemoed, ’n lus om te leer, ’n bereidwilligheid om saam te filosofeer en bravade om die uitdagende temas oor die sin van die lewe aan te pak. Die boek is gevul met Louw se deurleefde wysheid en kennis. Hy slaag daarin om op ’n treffende manier diepte en insig na vore te bring deur sy boeiende perspektiewe van menslike spiritualiteit, die sin van die lewe en sterflikheid.
Beskikbaar by Naledi.
Dr Carike Noeth is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch en die eienaar van Full Circle Ethics, ’n besigheid wat opleiding, samewerking en konsultasie in etiek bied.
