Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Plastiekvrye Julie: Bamboestandeborsels en oorstokkies van herwonne papier is nog twee maklike veranderings om te maak, vertel ds Fay van Eeden. Foto's: Verskaf

Omgee en omgewing: ’n Maand sonder plastiek? ‘Eko-blogger’ nooi jou uit en deel wenke

Plastiekvrye-Julie is ’n wêreldwye beweging wat ons almal uitdaag om vir ’n maand lank doelbewus te kies om die enkelgebruik-plastiek wat ons gebruik te verminder òf heeltemal te vermy. Fay van Eeden, ’n dominee van Pretoria en “ekoblogger”, het tesame met haar gesin besluit om deel te neem. Hieronder deel sy haar wenke en vra: Wil jy nie saam met ons hierdie Juliemaand ’n bietjie plastiekvryer probeer leef nie?


Top tien wenke

Sê ‘Nee’ vir die GROOT 4

Oorweeg om, wat die Plastiekvrye-Julie beweging noem, die ‘GROOT VIER’ te vermy. Dit is plastiese bottels, strooitjies, wegneemkoffiebekers en plastiese inkopiesakke.

Met ’n paar eenvoudige aanpassings en toevoegings kan jy maklik die ‘Groot vier’ uit jou lewe sny. Wees pro-aktief en sê dadelik vir die kelner dat jy nie ’n strooitjie nodig het nie. Indien jy wel ’n strooitjie wil gebruik, kry vir jou een van vlekvrye staal, glas of bamboes wat jy saam na ’n restourant kan neem. ’n Herbruikbare bottel in jou motor sal dit makliker maak om nie ’n plastiekbottel water of koeldrank deur die dag te koop nie. Vir die wegneemkoffie-liefhebbers is ’n herbruikbare reisbeker ’n wonderlike manier om terug te sny op plastiek. Herbruikbare inkopiesakke is nog ’n maklike manier om nee te sê vir enkelgebruik plastiek. Hou inkopiesak van lap in jou motor of handsak.

Plastiekvrye inkopies

Hoewel plastiekvrye inkopies byna onmoontlik is in ons land, is daar verskeie klein aanlyn besighede wat droë bestanddele, koffiebone, los tee en ’n verskeidenheid ander produkte in glasbottels, papiersakke en selfs lapsakke verkoop. Baie male is die produkte ook nie baie duurder as plaaslike supermarkte nie, en definitief iets om te oorweeg as jy probeer terugsny op die hoeveelheid plastiese verpakking wat jy gebruik.

Groente sonder plastiek

Probeer so ver moontlik groente koop wat nie in plastiese sakke, polistireen of kleefplastiek verpak is nie. Wees op die uitkyk vir winkels waar jy los groente kan koop. Neem ’n katoensakkie of kussingsloop saam sodat jy dit nie in daardie dun plastieksakkies hoef te laat weeg nie. Wees ook op die uitkyk vir ’n klein besigheid wat verpakkingvrye vars groente en vrugte in jou omgewing aflaai. Daar is verskeie sulke besighede in en om die meeste van ons groot stede.

Vleis koop

Vertel jou plaaslike slaghuis van jou voorneme en vra of jy jou eie glashouer kan saam bring wanneer jy vleis koop. Dit beteken dat jy geen polistireen- of kleefplastiekverpakking huis toe neem nie.

Snoepies en lekkergoed

Of dit nou droë vrugte of lekkergoed is, die meeste snoepies word in enkelgebruikplastiek verpak. Wees op die uitkyk vir lekkergoed, soos Smarties, wat in ’n kartonboksie beskikbaar is. ’n Ander alternatief is om jou eie snoepies te maak. Daar is wonderlike resepte op die internet beskikbaar.

Minder koop, meer kook

Probeer minder voorbereide etes koop en meer met vars produkte kook. Kook ook net genoeg vir jou huishouding. Die voordeel hiervan, behalwe dat jy terugsny op enkelgebruikplastiek, is dat ’n mens gesonder eet en ook baie minder kos mors.

Vervang kleefplastiek met lapdeksels en Beewax wraps

Maak julle bakkies oorskietkos met lapdeksels in plaas van kleefplastiek toe. Beewax wraps, wat van byewas gemaak word, bied nog ’n wonderlike alternatief tot kleefplastiek. Dit kan met die hitte van jou hande om enige bak gevou word en kan herhaaldelik gebruik word. Dit werk ook lekker vir toebroodjies.

Plastiekvrye skoonheidsorg

Een van die maklikste plekke om enkelgebruikplastiek te verminder is in jou badkamer en opsmuklaai. Jy hoef nie dadelik enkelgebruikplastiek in jou badkamer te elimineer nie, maar ’n paar maklike veranderings kan ’n groot verskil maak. Vervang die vloeibare seep in jou stort en wasbak met koekies gliserienseep. Al daardie plastiese bottels sjampoe kan met sjampoe-koekieseep vervang word. Bamboestandeborsels en oorstokkies van herwonne papier is nog twee maklike veranderings om te maak. Vervang die katoenballetjies waarmee jy jou grimering verwyder, met gehekelde lappies wat gewas en weer gebruik kan word. Tandepastapille of poeier en menstruele koppies kan ook oorweeg word.

Plastiekvrye skoonmaak

’n Ander manier om terug te sny op enkelgebruikplastiek is om anders te begin dink oor die skoonmaakmiddels wat julle in julle huis gebruik, aangesien die meeste dag-tot-dag skoonmaakmiddels in plastiese verpakking kom. Vervang jou skottelgoedsponse en -lappies met produkte wat van bamboes, hout of sisal gemaak is. Tuisgemaakte skoonmaakmiddels van asyn, suurlemoensap en koeksoda werk nie net goed nie, maar is ook gesonder vir jou en jou troeteldiere. Daar is ook verskeie resepte vir tuisgemaakte skottelgoedmasjienseepblokkies op die internet beskikbaar.

Lapdoeke

As jy in ag neem dat ’n babatjie tot 6 000 weggooidoeke kan gebruik is lapdoeke ’n wonderlike ekovriendelike alternatief. As jy ’n baba in die huis het oorweeg om oor te skakel na lapdoeke. As hierdie skuif te oorweldigend klink probeer net om twee lapdoeke per dag te gebruik. Om lapdoeke te gebruik is makliker as wat ’n mens dink, maar dit vra wel ’n bietjie ekstra werk.

Ekologiese konteks

Suid-Afrika genereer na beraming 2,4 miljoen ton plastiek elke jaar. Dit is ongeveer 41 kg plastiese afval per persoon. Volgens WWF Suid-Afrika word slegs 14% van daardie 2,4 miljoen ton plastiek herwin. Die plastiektafel wat al jare op jou stoep staan is nie die groot probleem nie. Daardie plastiek wat een maal en soms net vir ’n paar minute gebruik word is die groot boosdoener. Die groot probleem met enkelgebruikplastiek is dat dit nie lank genoeg gebruik word om die hulpbronne wat dit neem om dit te vervaardig, regverdig nie. Dit beland dan op stortingsterreine waar dit disintegreer en skadelike stowwe in ons grond en water vrylaat. Die hoeveel enkelgebruikplastiek wat die meeste van ons gebruik is nie vir die planeet volhoubaar nie, maar is daar ’n ander alternatief?

Tydelike rentmeesters 

Psalm 19 vertel hoe God homself aan ons openbaar deur die Skepping (die hemel getuig van die mag van God) en deur die Bybel (die woord van die Here…gee lewe). Die Skepping is nie net ons huis nie, maar ook een van die maniere waarop God Homself aan ons bekend maak. Die Bybel leer op ‘n klomp plekke vir ons dat die aarde aan God behoort en dat ons tydelike rentmeesters daarvan is. Tekste soos Levitikus 25 leer dat dit nie ‘n rentmeesterskap is wat uitbuit en vernietig nie, maar eerder koester en versorg. Wanneer ons nie na ons planeet kyk nie stel ons nie net ons eie en ons kinders se  toekoms in gevaar nie, maar loop ons ook die risiko om ‘n groot deel van God se openbaring aan ons te verloor. 

  • DRUKSTUK: Laai die pdf van hierdie artikel HIER af.
  • Ds Fay van Eeden is leraar by die NG Kerk Stellastraat en ekoblogger. Volg haar op Facebook en instagram by @enroutefoodie vir meer ekowenke.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top