Die Andrew Murray-prysfonds se oorhoofse naam sal voortaan die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds wees, het dr Frits Gaum, voorsitter van die prysfonds, vandeesweek aangekondig.
Die prysfonds bestaan al 45 jaar lank gee pryse en maak toekennings vir voortreflike Christelike en teologiese media in amptelike tale van Suid-Afrika.
Gaum skryf: “Toestemming is deur die Archbishop Tutu Intellectual Trust gegee dat wyle aartsbiskop Tutu se naam gevoeg word by dié van Andrew Murray in die prysfonds se naam. Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys bestaan as een van die prysfonds se pryse al sedert 2006 en dit was destyds deur Tutu as ’n besondere blyk van versoening gesien dat die name van ‘n 19de eeuse NG predikant en ‘n 20ste eeuse Anglikaanse aartsbiskop op dié manier verbind word.
“Die Ledevergadering van die prysfonds, bestaande uit verteenwoordigers van 22 wyd verskillende instansies, het ná Tutu se dood gevoel dat die Andrew Murray-prysfonds ook in sy oorhoofse naam inklusiwiteit en versoening moet weerspieël en besluit om by die Tutu-trust aansoek te doen vir die gebruik van die aartsbiskop se naam vir hierdie doel. Dié toestemming is nou gegee.
“Die prysfonds gee jaarliks drie pryse en drie toekennings. Die Andrew Murraprys is bedoel vir die bekroning van Christelike en teologiese boeke in Afrikaans, die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys is vir Christelike en teologiese boeke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans, en die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys is vir debuutwerk in enige landstaal. Die drie toekennings is die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek, die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring en die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, geregtigheid en versoening.”
Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is.
Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
