Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nuwe boek veral vir “soekers” in die kerk van groot waarde

Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma deur Julian Müller

Uitgewer: Malherbe-Uitgewers 2022

Resensent: Barry van der Merwe

’n Nuwe boek uit die pen van Julian Müller! Müller kyk in dialoogvorm eietyds na die Twaalf Artikels.

Daar is lidmate wat sukkel om die Twaalf Artikels Sondae in die erediens te sê. Hierdie boek nooi hulle uit om deel te word van die gesprek tussen Julian en Boet, wat iewers naby Nature’s Valley oor die Twaalf Artikels gesels.

Dit was goed om die boek te lees. Die hoofstukke is nie te lank nie en die gesprek volg ’n duidelike draad. Die manier hoe die omgewing van Nature’s Valley betrek word by die temas van die gesprekke, is baie slim. Die dialogiese styl maak dit ook interessant om te lees.

Dit is belangrik dat daar vir “soekende” lidmate leiding gegee word oor hoe om te dink oor kernaspekte van ons geloof. Anselm Grün en Tomas Halik gee in hulle boek Is God absent? die mooi beskrywing van “seekers and dwellers” (of dan, “soekers en inwoners”). In die kerk is daar “soekers”, mense wat beter wil verstaan en aanhou soek. In die kerk is daar ook “inwoners”, mense wat tevrede is met hoe alles is en geglo word. Buite die kerk is daar “soekers”, dikwels ateïste, wat aanhou soek na antwoorde. Natuurlik is daar buite die kerk ook “inwoners”, wat lewe sonder om dinge te bevraagteken.

Dit is vir hierdie “soekers” binne-in die kerk, dat Julian en Boet se gesprekke van waarde is. Die “inwoners” binne die kerk kan heel moontlik bedreig voel deur die soort gesprekke wat Julian en Boet voer, maar dit is vir beide “soekers” en “inwoners” noodsaaklik om mekaar te hoor en in gesprek met mekaar te bly.

Wanneer Julian en Boet soms wegstuur van die letterlike verstaan van die Twaalf Artikels, is dit nie dat hulle die Twaalf Artikels nie ernstig opneem nie. Dit is júis omdat dit hulle erns is, dat hulle die gesprekke voer.

Beskikbaar by Malherbe-Uitgewers.

Barry van der Merwe is ’n emeritusleraar.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top