By die standbeeld van Abraham Kuyper voel hy klein en “gerelativeer deur ’n vergange eeu”, skryf Jan Lubbe ná besoek aan Maassluis in Nederland.
“In het jaar dat links en rechts standbeelden van witten mannen onder vuur liggen, is het honderd jaar geleden dat Abraham Kuyper stierf,” begin Agnes Amelink haar boek Mijn Kuyper (2020). Vyftien onderhoude met historici en politici, ’n teoloog, ’n opvoedkundige en ’n ekonoom, mans en vroue, kenners van Kuyper in Nederland, Engeland en Amerika. Net dié verskeidenheid al, sê reeds iets van die reikwydte van sy lewensbeskouing en daadkrag by die oorgang van die 19e na die 20ste eeu. In ’n poging om haar gedagtes oor Kuyper te orden – ná dié vyftien gesprekke – “fiets ik op een zomerse zaterdag naar Maassluis”, vervolg Amelink. Daar, op die dorpsplein van Abraham Kuyper se geboortedorp, staan ’n standbeeld van hom. Die enigste …

‘Is daar nog iets van Kuyper se teologie in SA?’
Só, toe ook ek, op Saterdag, 8 Julie, drie jaar ná Amelink. Aan die einde van ’n vier weke studieverblyf in Utrecht en met nog lees-en-luisterwerk oor Kuyper gedaan, neem ek die trein via Rotterdam na Maassluis, en stap die entjie van die stasie af die eeue-oue hawedorpie binne. Vasgemeerde visserskuite wieg op die sagte deining. Maklik om die Groote Kerk te vind, dié toring hoog bokant alles uit, waar Kuyper in Desember 1837 deur sy vader, toe die pastor loci, gedoop is. Sy geboortehuis dieper in langs die kanaal, bestaan nie meer nie; ’n rooi marmersteen teen ’n winkelmuur vertel net: “Hier werd op 29 Oktober 1837 Abraham Kuyper geboren.” Net dit, en dit is ook al genoeg: Vandag heet die mooi straatjie weerskante van die kanaal, “Dr. Kuyperkade”. Rondom die Groote Kerk hang ’n gewyde stilte. ’n Gedenkteken roep die tragedie van 18 Maart 1943 in herinnering toe ’n Geallieerde “vergissingsbombardement” die kerk en buurt in puin gelê het, 18 inwoners dood. Ook ’n steentjie vir ’n ses maande-oue babadogtertjie. Emeritus-dominee Geb van Doornik kom my tegemoet; hy’s Saterdae ’n toeristegids hier by die kerk. Kort in ons gesprek in, vra hy: “Uw bent theoloog?” Ek vertel kortliks en gou gaan dit oor sy eie opleiding aan die Vrije Universiteit in die 1960’s, met herinneringe aan Suid-Afrikaanse studente wat toe daar was – soos onder andere Jaap Durand. Dus, dominee Van Doornik se vraag: “Zit er nog wat van de theologie van Kuyper in Zuid-Afrika?”
Hoe antwoord jy in Julie 2023 dié vraag?
Teologiestudente lees nie meer Nederlands en feitlik Kuyper nie; én die stroom nagraadse studente na die VU het yl geword. Die NG Kerk het die dwaalleer van ’n “apartheidsteologie” agtergelaat, maar in die proses ook die taal van “soewereiniteit in eie kring”, “gemene gratie” en “pluriformiteit in kerk en samelewing” verloor. Moet ek dus maar iets oor “dolering” vertel?
Kuyper se grootste nederlaag?
Van die Doleansie van 1886 – die beweging waardeur Kuyper en geesgenote onder sy invloed dramaties (om nie te sê “revolusionêr” nie!) die Hervormde Kerk verlaat het – het daar honderd-en-veertig jaar later in Nederland weinig oorgebly. Trouens, die jongste Kuyper-biograaf, Johan Snel (2020), stel dit sonder meer: “De Doleantie werd Kuypers grootste nederlaag”; minder as 10% van die Hervormde “kerkvolk” het meegegaan; ook nie medestanders soos JH Gunning en PJ Hoedemaker wat nét so sterk oor die Skrif as Woord van God en oor die heiligheid en heerskappy van Christus in die kerk gevoel het as hy. Kuyper het hulle fel vervreem; hulle “de halven” genoem. Nog minder het die Doleansie aanklank gevind aan die Kaap. Byvoorbeeld, prof JI Marais, vir veertig jaar die derde hoogleraar aan die Teologiese Seminarium in Stellenbosch, het aanvanklik Kuyper se geskrifte as inspirerend aanbeveel – komend van “een Christen-Staatsman” – maar teen 1887 geskryf dat in die Kaap “hebben wij een afkeer aan alle polemiek. Ik haat onverdraagzaamheid en enghartigheid.”
LEES OOK: Wie was Abraham Kuyper? (1837–1920)
Ek laat dit dus daarby. Dit was makliker vir dominee Van Doornik om my die weg na die Marelplein in die sentrum van Maassluis te beduie, en ’n ent soontoe saam te stap. Gesellig: Hy in Nederlands en ek in Afrikaans, “broedervolk” en “koloniaal verlede” klink dit in die oggendlug op. Om nog ’n straathoek, en dáár is die standbeeld, in November 2008 deur die Nederlandse premier Jan-Peter Balkenende onthul. In daardie tyd ook ’n kritiese brief in die dorpskoerant “Maassluis.Nu” oor die “keerzijde” van “ruziemaker Kuyper”: Sy “invloed” in die NG Kerk, “officieel Staatskerk van de apartheidsstaat ‘Zuid-Afrika’”. ’n Standbeeld in swart brons. Op die voetstuk word sy nalatenskap vermeld: “Stichter van het dagblad de Standaard (1872), de Antirevolutionaire Partij (1879), de Vrije Universiteit (1880) en de Gereformeerde Kerken (1886). Minister-President (1901-1905).” En bokant dit in groter letters: “Staatsman, Emancipator, Calvinist” …
Omvattende visie vir samelewing
Agnes Amelink eindig haar inleidingshoofstuk met die woorde: “Het is volkomen terecht dat er een standbeeld van Kuyper bestaat … Als je er op een julidag kort na de middag voor staat, moet je tegen de zon in kijken. Ook dat is eigenlijk wel passend.” Presies só vind ek dit daardie Saterdag, sonnig en warm, terwyl tuis ’n ysige kouefront en fase ses-beurtkrag oor Suid-Afrika trek. In my leeswerk opnuut onder die indruk gekom van Kuyper se omvattende visie vir ’n moderne samelewing – ’n wêreld tewens – vól diversiteit en uiteenlopendhede. Oor wetenskap, vry van die staat én die kerk! Altyd soekend na die ondergrond: “Christus, die áller Souverein.” Selfs, destyds, rondom die Middellandse See, in die Oekraïne, die Ortodokse Kerk, in Israel en die Islam, in Noord-Afrika. John Bolt het Kuyper se publieke teologie saamgevat as “A Free Church, a Holy Nation” (2001); James Bratt beskryf hom as “Modern Calvinist, Christian Democrat” (2013). Omstrede miskien, net soos in sy eie lewe, “maar om hem heen kun je niet”, konkludeer Amelink.
Staande hier by Abraham Kuyper, voel ’n mens jouself klein, gerelativeer deur ’n vergange eeu en dié lewensgrote standbeeld. Asof jy teen die son in opkyk. Maar ook, asof hy jou hartlik die hand wil reik. Asof sy woorde weerklink: “De gereformeerde belijdenis in rapport met de tijd”. Verantwoord jouself, teologies én histories. Byvoorbeeld: Waarom loop daar ’n “Kuyperstraat” teen die hang van “Duiwekop”, van Tafelberg, daar waar Distrik Ses eens was, daar in die buurt van ’n kerk wat “NG” heet? Ek het weer gaan kyk: As die son só helder skyn, val daar ’n skaduwee aan die regterkant van dié standbeeld in Maassluis.
- Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Kerk Berg-en-Dal en moderator van die Sinode Vrystaat.

‘n Uitstekende artikel wat deur ‘n laaste opmerking bederf is. Daar loop nie ‘n “Kuyperstraat” teen die hang van Duiwelskop van Tafelberg, daar waar Distrik Ses eens was, daar in die buurt van ‘n kerk wat “NG” heet nie. Dit is nog geografies, nog histories, nog teologies korrek om so ‘n toepassing te maak oor wat by die NG Kerk Tafelberg gebeur het. Dan moet Kuyper se verset teen die Moderne Teologie in Nederland ook reglynig deurgetrek word na die huidige teologiese opleiding by NG Kerk opleidingsentra waarop daar ook dan ‘n skadu rus. So word daar egter nie korrek met die verlede en hede omgegaan nie en word daar eerder liefdelose steke na ander uitgedeel. Om Distrik 6 daarby te betrek, wat totaal buite die grense van Tafelberg geleë was, is sommer net nog ‘n steek!
Jan, in alle respek begryp ek nie hoe jy Kuyper oor wie jy nou al ‘n paar dekades lank navorsing doen, hier vir verskillende doeleindes wil gebruik nie. Aan die een kant stel jy saam met die Agnes Amelink-boek (2000) dat sy reikwydte (steeds) groot is, en aan die ander kant voel jy saam met Johan Snel in sy Kuyper-biografie (2000), dat Kuyper as leiersfiguur in die Nederlandse Doleansie met sy sg “onverdraagsaamheid en enghartigheid” (a’la Prof JI Marais van Stellenbosch in 1887) moontlik ‘n moeilikheidmaker was. Verder ontken jy byna geforseerd die belangrikheid van die Nederlandse Doleansie en wat daaruit voortgevloei het, selfs nog tot in ons tyd. Jy deel ook ‘n hele paar dwarsklappe uit: nie net na die Doleansie nie, maar selfs ook na Kuyper, na Tafelberg(???), ensomeer. Jan, jy het as kerkleier potensiaal om die NGK uit die huidige krisis van ‘n groeiende vrysinnigheid en ‘n mensgerigtheid te help. Maar om dit met ‘n strydbyl teen onder andere ook die Suid-Afrikaanse doleansie, ens te probeer doen gaan nie werk nie. Alleen deur voluit eerlik en verantwoord te wees oor historiese en teologiese werklikhede (voorheen en nou), alleen deur reformasie, alleen deur gesprek en bemiddeling gaan ons erens kom. Daarom heen kan ons, om die bogenoemde Amelink se woorde te gebruik “nie heen nie”.