Van vrees na vrede: Hoe ongeneeslike kanker my leer leef het deur Madelein Rust
Uitgewer: Lux Verbi, 2023
Resensent: Hilze-Marie Malherbe
Madelein Rust is bekend vir haar misdaad- en toekomsfiksie. In hierdie outobiografiese vertelling, ’n opvolg tot Kanker Schmanker, vertel sy haar eerlike storie van kanker wat terugkom.
Hierdie is nie ’n kry-my-jammer-boek wat mooi blink gepoets is nie. Dit is ’n storie van val, opstaan en diep delf, die leef-ervaring van soveel vroue om ons.

Rust herinner die leser dat jy dié Kilimanjaro stukkie vir stukkie moet aanpak. Omring jouself met geliefdes, mens en dier. Anker jou in geloof. Kry gesonde uitlaatkleppe: vir haar is dit humor en om te skryf. Die boek beklemtoon haar worsteling om vrede te maak. Sy sluit af met ’n rits praktiese wenke.
Rust haal Paul Kalanithi aan, wat geskryf het: “Ek sal moet leer om op ’n ander manier te leef, om die dood as ’n opdringerige rondreisende besoeker te sien, met die wete dat selfs al sterf ek – totdat ek werklik sterf – lewe ek nog.”
Ek het ook beenkanker. Rust is ’n gebore storieverteller. Tog was dit vir my ’n moeilike boek om te lees. Terwyl ek gelees het, moes ek my telkens herinner dat dit haar storie en ervaring is. Die skrywer plaas die kanker op die tafel en maak die gesprek oor kanker en sterflikheid oop, maar persoonlik het ek nie met haar aanslag aanklank gevind nie.
Ek sou die titel verder wou uitbrei … van vrees na vrede na Lewe. Elkeen het ’n storie. Stories met berge. Gaan LEEF jou storie!
Madelein, mag jy omring word met vrede.
Beskikbaar by BybelMedia.
Hilze-Marie Malherbe is ’n maatskaplike werker en ma wat self saam met kanker reis.
