Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

BRIEF: Wat het van die Seisoen van Luister geword?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Smuts Janse van Rensburg van Oudtshoorn skryf:

Enkele jare gelede het die Algemene Sinode (AS) die beleidstuk Seisoen van Luister met drie hoofpunte goedgekeur: Luister na God – m.a.w. luister allereers en bo alles na God, sy Woord, Sola Scriptura; luister na mekaar – m.a.w. luister na die getuienis van medegelowiges se verstaan van die Skrif; luister na die wêreld – m.a.w. luister na die nood van die wêreld, sodat die kerk die wêreld met die Bybel se goeie nuus kan bedien.

Lees ook: Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Nelus Niemandt (2011 tot 2015)

Dit word egter toenemend duidelik dat die AS in sy luister al hoe meer sy ore vir die wêreld leen. In verslae en besprekings oor selfdegeslagverhoudinge het luister na die Skrif plek gemaak vir luister na die wetenskap, wêreldse tendense en menslike oortuigings. In die nuutste verslag van ATLAS (Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) i.s. aborsie, blyk dit weer die geval te wees.

Die AS toon egter ook onwilligheid om die tweede punt van die Seisoen van Luister tot uitvoer te bring. Getuienis van medegelowiges binne die kerk se stem word op grond van kerkordelike argumente dood gesmoor. So is die bundel van ongeveer 600 bladsye se getuienis in die vorm van beswaarskrifte en gravamina nooit inhoudelik deur die AS hanteer nie. 

Daarna het ’n klomp gemeentes en lidmate by monde van Kairos Netwerk (KN) die ASM (Algemene Sinode Moderamen) genader met ’n versoek tot mediasie. Dié versoek is van die hand gewys, blykbaar omdat KN nie enige locus standi het nie. Daarna het die Koinonia Sinode (KS), ’n behoorlik gekonstitueerde vergadering wat 56 gemeentes deur amptelike afvaardiging verteenwoordig, die versoek tot mediasie herhaal. Hierdie versoek is nie eers in die agenda van die pas afgelope vergadering van die ASM geplaas nie. Die ATR (Algemene Taakspan Regte) het wel om kerkregtelike redes aanbeveel dat daar nie aan hierdie versoek gehoor gegee moet word nie. M.a.w., die AS moet nie meer luister na die getuienis van 56 gemeentes in die NG Kerk nie. Die vraag is: Hoe gemaak as daar nie op beswaarskrifte, gravamina en herhaalde versoeke tot mediasie gereageer word nie?

Lees ook: Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober

Na Tafelberg gemeente se besluit om hulle verband met die ring, sinode en die AS op te skort, verklaar die voorsitter van die ASM dat die wegbreek hartseer is. Die hartseer lê eintlik daarin dat die ASM tot hier by herhaling verseg het om positief te reageer op die herhaalde versoeke tot mediasie. Terwyl KS helder en duidelik besluit het dat kerkskeuring nie die weg is om te gaan nie, wil KS ook in sy oproep tot mediasie met trane in die oë uitroep: Luister na ons getuienis op grond van die Woord en in ooreenstemming met ons belydenisskrifte.

Die AS, ’n sinode van sinodes en nie ’n sinode van gemeentes nie en klein in getal, staan al hoe verder verwyderd van gemeentes. Deur oorpluisies in te sit en nie die getuienis van gemeentes te hoor nie, versterk hulle hierdie verwydering. Ek dink ek verstaan naastenby iets van die doel en toepassing van kerkordelike reëlings. Maar een ding weet ek, kerkordelike reëlings kan nie gebruik word om die getuienis van 56 gemeentes stil te maak nie

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top