Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die eenheid in die Algemene Sinode behoort tot die wese van die kerk. Die uitdaging is om in ’n wêreld waar sosiale media, postmoderne strominge en kompleksiteit mense uitmekaar dryf, te leef uit die oortuiging dat ons ingebind is in een kerkverband, skryf prof Nelus Niemandt (links). Foto: Argief

Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Nelus Niemandt (2011 tot 2015)


Nelus Niemandt kyk terug: My rol as moderator het my lewe diep geraak en verander

 

Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk het in Oktober 1962 vir die eerste keer vergader. Die aanloop na die eerste sitting van die AS het reeds in 1907 plaasgevind toe die Raad van Kerke in die lewe geroep is. Hierdie Raad het die sinodes van die NG Kerk in ’n federale verband saamgebind. Vanjaar, van 15-20 Oktober, sal die Algemene Sinode van die NG Kerk weer in sitting wees en Kerkbode het met die oorlewende voorsitters van die Algemene Sinode onderhoude gevoer wat in komende uitgawes hier gepubliseer sal word.

 


Gesprek met prof Nelus Niemandt, Moderator: Algemene Sinode NG Kerk 2011 tot 2015

Voor ek moderator geword het, was ek in leierskapsrolle by verskillende organisasies. Ek was president van die Afrikaanse Studentebond, voorsitter van Tukkies se studenteraad, nasionale voorsitter van die Junior Rapportryers en voorsitter van SA Junior Skaak. Die tyd as aktuarius van die Hoëveld en die Algemene Sinode het my ook waardevolle insigte oor die kerkreg geleer.

Prof Johan Heyns was die studieleier vir my doktorsgraad (tot die tragiese gebeure toe hy op 5 November 1994 deur ’n skerpskutter vermoor is). Hy het ’n groot invloed op my verstaan van die kerk en wêreld gehad.

Geborg

Lees ook:Heyns en Naudé – binne of buite die mure?

In die Suid-Afrikaanse konteks was dit die hoogbloei van die Zuma-jare. Daar was toenemende kommer rondom bewerings van omvangryke wanbesteding van staatsbates. Die gedagtes van postmodernisme het Suid-Afrika ook voluit getref: fragmentasie, wantroue in groot instellings en klem op diversiteit. As deel van die sogenaamde “culture wars” het die middelgrond al meer weggekalwe en het mense hulle al meer begin uitdruk in sterk opponerende standpunte.

In die NG Kerk was dit die duidelikste sigbaar in die ontploffing van debatte op sosiale media. Die Algemene Sinode van 2011 se lewendige Twitter-voer uit die vergadersaal het nog plaasgevind in ’n soort respekvolle ordentlikheid, maar dit het gou oorgewaai. Sosiale media het vinnig die slagveld geword van toksiese debatte en sterk opinies veral oor selfdegeslag-verhoudings, teologiese opleiding en die gebeure by die Stellenbosse Woordfees in 2013.

Lees ook: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Coenie Burger (2002 tot 2007)

Twee sleutelgebeure staan vir my uit in my tyd as moderator. Die een was toe die Algemene Sinode in 2013 amptelik die Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk aanvaar het. Een van die kosbare uitvloeisels was die Seisoen van Luister, wat ’n nuwe kultuur van luister en onderskeiding help vestig het op omtrent alle vlakke van kerkwees. Die ander was die groeiende ontdekking van die gestuurde aard van die kerk.

’n Tweede sleuteloomblik was die besluit by die Algemene Sinode van 2011 in Boksburg om die Belydenis van Belhar op ’n kerkordelike wyse deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te maak. Ek is seker dat die meerderheid NG lidmate steeds dié belydenis wil en sal onderskryf, maar ’n byna onmoontlike kerkordelike proses (wat vereis het dat tweederdes van alle streeksinodes, tweederdes van alle kerkrade en ook tweederdes van alle gemeentes instem), was ’n byna onmoontlike opgawe. Ek was beïndruk deur die organisatoriese vermoë van die Algemene Sinode om so ’n omvangryke proses, uniek in die NG Kerk se geskiedenis, te loods en af te handel (Lees meer oor verdere pad van Belhar binne die kerk HIER: Red).

Tydens hierdie vergadering in 2011 het ek geleer hoe belangrik dit is om alle stemme oor ’n saak aan te hoor en ook hoe om die soms gespanne atmosfeer en heftige meningsverskille sinvol en soms met humor te hanteer. Wat my bybly oor die sinode van 2011, is die sterk gevoel oor die identiteit van die NG Kerk, maar ook die gevoel dat ons gehoorsaam moet wees aan die opdrag om mekaar in eenheid te vind.

Geborg

Lees ook:’n Oggend by prof Piet Strauss (71): Oor taak, groepsgevoel en die individu

Om moderator te wees in ’n wêreld waar sosiale media elke mens se mening baie hoorbaar maak, het baie druk gebring. My gesin het veral baie swaar gekry oor die soms toksiese en persoonlike aanvalle wat op sosiale media geloods is teen die besluite van die Algemene Sinode en ook teenoor my as persoon. Vir my was dit ’n groeiproses om te besef dat ek in ’n tyd leef waarin mense baie uiteenlopende menings het en dat ek my nie regtig aan alles hoef te steur nie. Dit was vir seker ’n groot opoffering in terme van tyd en gesondheid, maar ook die moeite werd. My rol as moderator het my lewe diep geraak en verander. My blootstelling aan die ekumene het gelei tot wonderlike vriendskappe met ander kerkleiers en groot waardering vir ander teologiese tradisies.

Die moeilikste en uitdagendste deel van die werk was om te midde van diep verskille oor byvoorbeeld die Belydenis van Belhar en selfdegeslagverhoudings vas te hou aan die belang van die eenheid van die kerk. Die eenheid in die Algemene Sinode behoort tot die wese van die kerk. Die uitdaging is om in ’n wêreld waar sosiale media, postmoderne strominge en kompleksiteit mense uitmekaar dryf, te leef uit die oortuiging dat ons ingebind is in een kerkverband. Die paradoks is dat ons diversiteit kan akkommodeer binne die eenheid van die een kerkverband, en dit ook moet uitbrei om die hele NG kerkfamilie in te sluit. Ek is baie hartseer dat die Belydenis van Belhar nog nie deel is van die NG Kerk se belydenisgrondslag nie, en ook spyt dat ons nog baie moet doen om kerkeenheid te vind.

Ek hoop die Algemene Sinode van 2023 kan deur die geestelike oefeninge in en rondom die sinode opnuut ontdek hoe belangrik onderlinge eenheid is en waagmoedige stappe neem om eenheid in die NG kerkfamilie verder uit te bou. Diversiteit werk nie teen eenheid nie, maar verruim eenheid.

  • Prof Nelus Niemandt is sedert 2019 in die pos van rektor van die Hugenote Kollege op Wellington. 

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.