Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

So what? | In gesprek met Henco van der Westhuizen: Wat doen toeloë nou eintlik?

Prof Henco van der Westhuizen is ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat en het die afgelope tyd deelgeneem aan projekte om opnuut na te dink oor teologie: Is daar ’n regte teologie, watter teologie het ons nou nodig en wat doen teoloë nou eintlik? Doret Niemandt vind meer uit.

Van der Westhuizen vertel dat daar in die kerk, ook die NG Kerk, een enkele “teologie” dikwels ’n tydperk oorheers het. Daar word oor die jare heen gevra, watter “teologie” het ons nou nodig? Hy beklemtoon elkeen van die woorde afsonderlik: Nodig? Nou? Ons? Teologie? En hy verduidelik dat daar dalk gevra word vir ’n profetiese teologie, of ’n publieke teologie, of ’n missionale teologie. Dit is daarom, in elke tydperk, van besondere belang om te reflekteer oor “teologie” – in al haar fasette. Om opnuut te dink oor die vraag: Wat doen teoloë nou eintlik?

Prof Henco van der Westhuizen.

Met dit in gedagte het Van der Westhuizen saam met sy kollegas by die Universiteit van die Vrystaat die afgelope jare ’n hele paar projekte van stapel gestuur.

In die eerste plek wou hulle ontdek wat dit beteken om “teologie” te studeer. Om hierdie vraag te begin beantwoord, is talle teoloë, die meeste van hulle na baie jare in die Sistematiese Teologie, gevra om briewe te skryf aan hom, “’n jong teoloog”. Baie van hierdie teoloë het toe ook ingestem dat hulle briewe gepubliseer mag word as Letters to a young theologian. Wat vir Van der Westhuizen uitgestaan het in hierdie briewe was hierdie teoloë se diepe bewustheid van hoe moeilik dit is om oor God te praat. Selfs onmoontlik. Hulle kon egter nie anders as om oor God te probeer praat nie. Dit laat hom dink aan Karl Barth wat gesê het: “As ministers we ought to speak of God. We are human, however, and so cannot speak of God. We ought therefore to recognize both our obligation and our inability and by that very recognition give glory to God.”

Lees ook: So what? | In gesprek met Arnold Nadel: Kweek die kerk Lazyboy-lidmate?

In die tweede plek wou hulle dan weer ontdek wat die Theos in “teologie” kan beteken. Theos – die Griekse woord vir God – die lewende God wat nie in dogmatiese boeke verengend vasgevang kan word nie. Om hierdie groot taak aan te pak het hulle begin om dit wat wel oor die jare oor God in Suid-Afrika gesê is, nie net beskikbaar te maak nie, maar dit weer van voor af te bedink. Dit het gelei tot ’n nuwe joernaal as die speelveld vir hierdie nuwe ontdekkingsreis: Journal of Systematic Theology. Daar is meer as 40 Suid-Afrikaanse teoloë wat werk oor elkeen van die verskillende temas in die teologie en hulle het dit as volg benader.

  1. Woordeskat – eerstens is elke teoloog gevra oor die loci van hulle artikel. Wat is die beginpunt van hierdie nadenke en wat is die woordeskat wat gebruik word as ’n agtergrond vir dit wat geskryf word? Van der Westhuizen verduidelik dat woordeskat belangrik is om ons te help om na te dink oor spesifieke teologiese temas. Dit is belangrik om mekaar so te verstaan en saam te dink. En dit nooi J/San allemens in die gesprek in.
  2. Verhaal – tweedens is elke teoloog gevra om die verhaal van die tema, sedert die eerste teologiese publikasies in Suid-Afrika, te vertel. Om die verhaal te vertel, van begin tot einde, gee die groter prentjie van die tema. Dit bied vir lesers ’n geheelblik en is ’n goeie wegspringplek om opnuut oor die tema te dink.
  3. Vandag – laastens is elke teoloog gevra om dan in die artikel die vraag te beantwoord: Wat beteken dit om dié of daardie teologie vandag te doen? Hermeneutiek is belangrik in teologie, verduidelik Van der Westhuizen. Die verskillende wyses waarop oor elke tema al nagedink is en word, word altyd deurgetrek na vandag toe. Dit sluit aan by die groter vraag: Watter “teologie” het “ons” “nou” “nodig”?

Hierdie projekte wat Van der Westhuizen saam met sy kollegas geloods het, fokus dus nie op ’n spesifieke teologie of om die een tipe teologie teenoor ’n ander te doen nie. Dit is om opnuut oor te begin by Die Begin, soos wat ons steeds by Karl Barth leer, vertel Van der Westhuizen. Dit is, volgens hom, elkeen van ons se verantwoordelikheid om teoloë te wees. Om by Die Begin te begin, om (hermeneuties) opnuut oor God na te dink, en só ook teologie te doen. Dit is moeilik om oor God te praat, selfs onmoontlik, maar ons kan nie anders as om te probeer nie!

  • Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
  • Hierdie skrywe word aangebied as deel van die So What-reeks, in samewerking met en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top